Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Verster het intieme wêreld met liriese lyn geskep

Die skilder Andrew Verster is Sondag in die ouderdom van 82 in Durban dood. Johan Myburg neem sy lewe en werk in oënskou.

Andrew Verster

Die opdrag in die vroeë 2000’s om die 8 m hoë deure van die konstitusionele hof in Braamfontein, Johannesburg, te ontwerp, het Andrew Verster effe buite sy kunspraktyk geneem – van al die baie media wat hy beheers het, was houtkerwery nie een nie.

Nietemin het hy hom verlaat op mense wat dié soort vaardighede bemeester het. Soos wat hy gedoen het met die staalveiligheidshekke wat na die kamers van die regters lei.

As ontwerper van dié projek was hy egter soos ’n vis in die water, want deure en panele, skeidings tussen die binne- en buitewêreld, tussen die private en die openbare, tussen die onderbewuste en die bewuste, was nog altyd deel van sy werk. Esmé Berman (1983) het in dié verband verwys na intimiteit en isolasie wat voortdurend in gesprek is in Verster se werk.

Die twee wêrelde het geblyk uit Verster se stel- en kostuumontwerp vir verskeie operas (onder meer Faust, Rigoletto en Princess Magogo kaDinuzulu vir Opera Africa en I Capuleti e i Montecchi vir die Staatsteater) en by uitstek in die “velle” van dun papier, so groot soos ’n deur, wat met was bestryk is (Skin Markings) wat hy as een van die finaliste vir 2007 se Sasol Wax-prys gemaak het. Dit was die velkwaliteit van die installasie, tesame met die tatoeëermerke (“onder” die vel) op die papier aangebring, wat die membraan tussen die binne en die buite treffend geïllustreer het.

‘Three Views’ uit die ‘Manet, Monet Remembered’-reeks, 1982, olie op doek neergelê op houtdeure (elk 203 x 75 cm).

Hoewel die kunstenaar se persona deur dié dun membraan gesyfer het – byvoorbeeld ten opsigte van die Hindoe-geloof en homoseksualiteit – was hy ’n private mens. In ’n onderhoud het hy oor die gay-kwessie opgemerk: “Dat ek gay is en ’n skilder is, is een ding; dat ek ’n gay kunstenaar sou wees, is iets anders. Boksies is beperkend. Swart kuns, wildelewe-kuns, vrouekuns – al dié subspesies ondergrawe kunswaardering want dit veronderstel ander kriteria.”

Verster het ontwerp vir tapisserieë, mosaïeke en tapyte; hy het uitgeblink in pastel- en inktekeninge en etse (waarin sy bewondering van Hockney deurslaan); hy het kortverhale en radiodramas vir die BBC World Service geskryf – maar as hy homself moes tipeer, het hy volstaan met “ek is ’n skilder”, spesifiek met olieverf. “Nie akriel nie,” het hy gesê. “Dit het ek probeer, maar dit voel nie reg nie, dit lyk dood.”

Benewens twee- en drieluike (Three Views uit die Manet, Monet Remembered-reeks, 1982, olie op doek neergelê op houtdeure, elk 203 x 75 cm) het Verster in sy latere skilderye met ’n ruitverdeling van die skilderoppervlak in verskillende panele die binne/buite-gevoel verder beaam. Abstrakte landskappe en tonele, dikwels met welige kleurgebruik, het hy in segmente verdeel as’t ware soos hy dit deur die blokraamvensters van sy ateljee gesien het.

‘Figure’, 2007, ink en organiese pigment op dun papier met was bestryk (202 x 80 cm). Dié werk is uitgestal as deel van die ‘Skin Markings’-uitstalling in 2007.

Intiem met ’n ruim skeut isolasie, gekrui met ’n mistieke ondertoon, sensitief vir lig en kleur en met liriese lyn het Andrew Verster gestalte gegee aan sy wêreld. En hom gevestig as een van Suid-Afrika se voorste kunstenaars.

Andrew Clement Verster is op 15 Junie 1937 in Johannesburg gebore en het van 1955 tot 1959 in Engeland, eers aan die Camberwell-kunsskool in Londen en daarna aan die Universiteit van Reading, studeer waarna hy hom in Durban gevestig het, waar hy tot en met sy dood op 16 Februarie gewoon het.

In 1976 het hy heeltyds begin skilder en in sy loopbaan het hy ’n stuk of 50 solo-uitstallings aangebied.

In 1987 en 1997, ter viering van sy 50ste en 60ste verjaardag onderskeidelik, het die Durban-kunsmuseum oorsiguitstallings van sy werk aangebied, en in 2008 het die Nasionale Kunstefees, waar hy lank die visuele kunste op dié fees se raad verteenwoordig het, ’n omvattende oorsiguitstalling van sy werk aangebied onder die titel Past/Present: Works by Andrew Verster from 1994-2008.

In 2009 het die Durban-Universiteit vir Tegnologie ’n eredoktorsgraad aan Verster toegeken.

Meer oor:  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.