Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Vervang Mthethwa en NAC-direksie, vra alliansie

Die Teater-en-dans-alliansie (Tada) het in ’n verslag aanbeveel dat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, en al 19 lede van die Nasionale Kunsteraad (NAC) se huidige direksie “so gou as moontlik” vervang word.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Getty Images

Tada het dié aanbeveling Dinsdag in ’n aanlyn mediakonferensie gemaak nadat hulle die kunsteraad se omstrede bestuur van R300 miljoen se noodfinansiering ondersoek het. Hulle het onder meer bevind dat Mthethwa en die kunsteraad-direksie se koppe weens hul aandeel in dié omstredenheid moet waai.

Hul verslag sit uiteen hoe die kunsteraad die geld in Oktober verlede jaar ingevolge die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het; dit is via Mthethwa en sy departement deur die nasionale tesourie aan hulle toegeken om kunstenaars te help wat weens die impak van die Covid-19-pandemie nie kop bo water kon hou nie.

Mthethwa en sy departement het kunstenaars op 30 Oktober genooi om by die kunsteraad vir ’n breukdeel van die geld aansoek te doen sodat hulle kunsteprojekte kon skep wat teen 31 Maart ten einde moes loop.

Die kunsteraad het glo uiteindelik 2 486 aansoeke vir dié finansiering ontvang – en onder meer weens tydsdruk, “swak kommunikasie” en “swak projekbestuur” R611 miljoen se finansiering goedgekeur, R311 miljoen meer as wat hy kon uitdeel.

Hoewel die kunsteraad ondanks dié “wiskundige fout” – volgens die woorde van Julie Diphofa, hul waarnemende hoof – kontrakte met honderde begunstigdes gesluit het, het hul nuwe direksie wie se termyn op 1 Januarie begin het, die saak met ’n omstrede besluit probeer beredder: Hulle het dié kontrakte bloot gewysig en vir sommige begunstigdes tot 56% minder betaal as wat hulle belowe is, in ’n poging om nie die aanvanklike begroting van R300 miljoen te oorskry nie. Die direksie het dié besluit geneem ondanks die feit dat hulle glo deur ’n regsverteenwoordiger ingelig is dié kontrakwysigings is onwettig.

Dít het kunstenaars landwyd rooi laat sien, tot ’n sitstaking van 60 dae in die kunsteraad se kantore in Johannesburg gelei, en sommige begunstigdes – onder andere die Suid-Afrikaanse vleuel van die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jongmense (Assitej SA) en die bestuur van die Nasionale Kunstefees (NAF) in Makhanda – genoop om hulle tot die hof te wend. Die hooggeregshof in Johannesburg het reeds in twee afsonderlike hofsake in die NAF se guns beslis, die kunsteraad se kontrakwysigings as onwettig afgemaak en hulle beveel om die NAF te betaal wat hulle aanvanklik belowe is.

Hoewel Tada in die verslag vingers na Mthethwa en die huidige kunsteraad-direksie wys, sê hulle heelwat ander partye – onder andere pres. Cyril Ramaphosa, ministers in sy kabinet buiten Mthethwa, die tesourie, hooggeplaastes in Mthethwa se departement, asook die kunsteraad se topbestuur – het ’n aandeel in die debakel.

. . . ’n taak wat luidens die verslag so onbegonne is dat dit “vir mislukking bestem was nog voordat dit begin het”.

Ramaphosa en sy kabinet, wat glo te lank met die aankondiging van die PESP-projek gesloer het, die tesourie wat die kunsteraad glo nie die groen lig wou gee om sperdatums aan te skuif nie, en Mthethwa se deurgaanse slegte oordeel, het luidens die Tada-verslag die kunsteraad gedwing om “onrealistiese doelwitte” in slegs vyf maande te verwesenlik – ’n taak wat luidens die verslag so onbegonne is dat dit “vir mislukking bestem was nog voordat dit begin het”.

Tada beveel ook in die verslag aan dat die Wet op die Nasionale Kunsteraad 56 van 1997 deur die hof herbekyk moet word. Volgens dié wet is dit onwettig vir enige kunsteraad-direksielid om direk voordeel te trek uit fondse wat die kunsteraad uitdeel – maar daar word tougetrek oor of dié reël ook geld vir organisasies waarby kunsteraad-direksielede betrokke is. Tada beweer dat “ten minste vyf huidige direksielede” verbonde is aan organisasies wat elk PESP-noodfinansiering ontvang het.

“As ’n hof bevind dat die wet op dié punt onduidelik is, moet dit na die parlement terugverwys word en aangepas word sodat dit duidelik is dat kunsteraad-direksielede (én die organisasies waarby hulle betrokke is) nie begunstigdes van NAC-finansiering mag wees nie.”

Tshepo Mashiane, ’n kunsteraad-direksielid en direksie-woordvoerder, het Woensdag aan Netwerk24 gesê hy is nie bewus van Tada se verslag nie, maar dat hy ’n kopie daarvan aan al die direksielede sal stuur.

Mashiane het ook bevestig dat ’n derdeparty reeds deur die direksie aangestel is om ’n forensiese ondersoek oor die aangeleentheid te doen. Hy wou egter nie sê wie presies hulle aangestel het nie.

“Ons wil graag self ’n amptelike verklaring hieroor uitreik.”

Die ondersoek het glo reeds begin. Rosemary Mangope, die kunsteraad se hoof, en Clifton Changfoot, hul finanshoof, bly albei hangende dié ondersoek geskors.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.