Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Vlak 1 beteken prakties niks vir die kunste’

Hoewel die vlak 1-maatreëls van die inperking talle bedrywe die kans gee om weer op die been te kom, meen kenners die kunste se nagmerrie is nog lank nie verby nie. Christiaan Boonzaier het met dié rolspelers gesels.

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Terwyl talle bedrywe jubel oor pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die land amptelik van vlak 3 na vlak 1 van die nasionale staat van inperking afgegradeer is, brand die vreugdevure in die kunste nie eweneens hoog nie.

Hoewel die aandklokreël ’n uur korter is – sedert 1 Maart van 00:00 tot 04:00 – en byeenkomste van 100 mense binnenshuis en 250 in die buitelug toelaatbaar is, meen talle rolspelers dié “toegewings” gaan nie die kunste se byna jaar lange kopseer oplos nie.

“Vlak 1 maak geen verskil aan die vermaakbedryf nie,” sê Owen Lonzar, choreograaf en regisseur.

“Geen vervaardiger kan geld maak met ’n gehoor van 100 nie – tensy dit slegs ’n eenmanvertoning is, wat duisende steeds werkloos laat.”

Lonzar sê dit maak nie sin dat restaurante stampvol mag wees terwyl venues in die kunste slegs tot 100 mense – insluitende die kunstenaars op die verhoog – beperk is nie. Dié beperking geld ook net as al 100 mense minstens 1,5 m uitmekaar kan sit. Indien nie, mag ’n venue slegs 50% vol wees.

“Ons word uitgelewer om te krepeer en dood te gaan – en daar gaan binnekort nie ’n bedryf oor wees nie. Ek kan nie onthou dat ek al ooit vermaak vir ’n geleentheid met 100 mense verskaf het met ’n begroting wat groot genoeg is om almal te betaal wat hulle verdien nie. Dit is eenvoudig nie prakties nie.

“Ons regering het nog nooit en sal nooit dink die vermaakbedryf is hul tyd werd nie, tensy daar ’n regeringsgeleentheid is wat vermaak nodig het.

“Vlak 1 maak dit aan ons duidelik dat ons ons pleidooie aan die regering moet staak en ’n manier moet vind om kop bo water te hou terwyl ons met kettings geboei is. Ek weet nie wat die oplossing is nie, maar ek is vasbeslote om een te kry.”

Owen Lonzar Foto: Gerry Pelser
Paul Loeb van Zuilenburg Foto: Facebook

Paul Loeb van Zuilenburg, dirigent en musikant, sê ook die vlak 1-maatreëls is nie iets om oor huis toe te skryf nie.

“Vir alle praktiese doeleindes beteken vlak 1 niks vir die kunste nie – veral nie vir groter produksies nie. ’n Mens kan nie met ’n 50-persoon-orkes en 50 gehoorlede iets realisties finansieel doen nie.

“Jy sit met ’n Sand (du Plessis-teater in Bloemfontein), wat 1 000 sitplekke het en wat R25 000 per dag kos om te huur. As jy hom halfvol maak, bly dit steeds baie moeilik om die getalle te laat klop.”

Ook buitelugkonserte met groepe van tot 250 mense is ’n probleem, sê hy.

“Buite gaan jy minstens R40 000 spandeer om iets akoesties realisties te laat gebeur en dan sit jy met wind en reën, ensovoorts. 250 mense buite help nie. Vanaf 500 (mense) kan dit finansieel begin werk.

“Dié wat buitelugkonsertjies wil doen vir die genot daarvan is welkom, maar ek moet eerstens al my spelers, soliste en uitgawes – vervoer, musiekverwerking, klank, die venue, bemarking, verblyf, ensovoorts – dek, en dan moet ek nog daarna self iets kan huis toe neem. Waarom sou ek dit anders doen? Ek is in die kunste omdat dit vir my ’n passie is en ek ’n derdegenerasie-beroepsmusikant is, maar aan die einde van die maand moet ek ook my huispaaiement en my medies op die een of ander manier kan betaal.”

‘Musici wat juig, juig te gou’

Louis Heyneman, hoof van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO), is dit met Loeb van Zuilenburg eens oor buitelugkonserte wat pal op sosiale media voorgehou word as ’n oplossing vir die streng binnenshuise maatreëls.

“Op wie en wat die 250-maksimum in die buitelug gemik is, weet nugter. Om ’n buitelugkonsert te hou is duur. Beskutting teen die wind of son, ’n luidsprekerstelsel en infrastruktuur moet eenmalig geïnstalleer word – gewoonlik teen duisende rande, minstens ’n getal met vyf nulle.”

Heyneman sê wel dat die vlak 1-maatreëls desondanks ’n “klein verbetering” vir die orkes is.

“Tot Sondag moes ons konserte verfilm met 45 spelers sodat ons kan plek maak vir die dirigent en ’n kamerspan. Met ander woorde, ons kan net sekere werke van Mozart, Haydn, vroeë Beethoven en ’n paar ander komponiste uitvoer. Ons moes die afgelope seisoen ons kuberkonserte se repertoire fyn kies om binne die beperking van 50 persone in een venue te bly.

“Die 100-persone-maatreël beteken ons kan nou romantiese werke ook insluit – Rachmaninoff, Mahler en Tsjaikofski, wat reeds beplan was van Januarie af en toe skielik op ys gesit moes word. Ons beplan om eerskomende Sondag (7 Maart) 40 mense na ons verfilming in die Hugo Lambrechts-ouditorium (in Parow) te nooi.

“Maar die musici wat juig, juig te gou. Die kaartjie-inkomste van 40 mense dek nie eens die salaris van die kameraman of regisseur nie. Ons is wel bly dat ons nou groter werke uit die romantiese repertorium kan uitvoer.”

Dr. Marlene le Roux. Foto: Jaco Marais
Ismail Mahomed Foto: Argief
Louis Heyneman Foto: Verskaf

Dr. Marlene le Roux, hoof van die Kunstekaap, meen ook dat die uitgawes van ’n produksie baie hoër is as die inkomste wat hulle uit kaartjieverkope aan klein gehore onder die vlak 1-maatreëls kan verdien. Sy sê wel dat hulle enige vervaardiger of kunstenaar desondanks sal steun wat ’n regstreekse vertoning in die Kunstekaap wil aanbied.

“Die Kunstekaap was nooit voor die pandemie ’n vervaardiger nie en het eerder met vervaardigers en kunstenaars saamgewerk en hulle van tegniese personeel en infrastruktuur voorsien. Die Kunstekaap sal steeds dié infrastruktuur aan kunstenaars en vervaardigers beskikbaar stel,” sê sy.

Hoewel aanlyn aanbiedinge volgens haar nie die “beste oplossing” is nie, sê sy dit het darem vir kunstenaars ’n inkomste gegenereer. Die Kunstekaap gaan ook ondanks vlak 1 met sy eie aanlyn aanbiedinge voort: ’n Virtuele konsert word tans opgeneem en later vandeesmaand uitgesaai om die instelling se 50ste bestaansjaar te vier.

“Die Kunstekaap het in die pandemie-tyd kunstenaars gehelp om aanlyn programme en produksies – ook op radio – aan te bied, en dit was nogal suksesvol. Dié programme is danksy die Stad Kaapstad, die provinsiale regering van die Wes-Kaap en die nasionale departement van sport, kuns en kultuur moontlik gemaak.”

Le Roux benadruk dat die kuns- en kreatiewe bedryf as ’n waardige beroep beskou moet word. “Kunstenaars is net so belangrik soos dokters en onderwysers.”

Volgens Ismail Mahomed, tans hoof van die sentrum vir skeppende kunste aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en voormalige bestuurshoof van die Markteater in Johannesburg, is die vlak 1-maatreëls tog “op ’n klein manier ’n welkome verligting”.

Hy sê veral kabarettiste, skerpskertskomediante en vermaakkunstenaars wat in restaurante optree, kan weer kleiner vertonings aanbied, maar dat dit waarskynlik nie winsgewend sal wees nie.

“Namate die teater-ekonomie weer geleidelik op dreef kom, moet ons daarvan bewus wees dat gehore wat wag op ’n inenting en steeds skrikkerig is vir ’n derde vlaag infeksies, huiwerig gaan wees om uit te gaan, so gehore sal waarskynlik nie eens die 100-kerf bereik nie.”

Die kunste is daarom steeds aan die genade oorgelewer van een van die swakste departemente van kuns en kultuur wat Suid-Afrika die afgelope 25 jaar gehad het.
Ismail Mahomed

Mahomed sê die teater-ekonomie sal ook net weer suksesvol op die been kom as dit strategies met finansiering, toelaes en borgskappe gesteun word.

“Ongelukkig het die departement van sport, kuns en kultuur steeds geen idee hoe om kunstenaars tydens die pandemie te ondersteun nie. Die departement is nog meer onbesonne oor maniere om die teaterbedryf te versterk en kunstenaars, gehore, vervaardigers, promotors, skenkers en filantropiese beleggers in die kunste aan te spoor.

“Die kunste is daarom steeds aan die genade oorgelewer van een van die swakste departemente van kuns en kultuur wat Suid-Afrika die afgelope 25 jaar gehad het.

“Daar is ’n behoefte dat die regering ’n interdepartementele taakspan begin wat die departement kan lei, bystaan en monitor terwyl hulle die teater-ekonomie herbou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.