Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Vlak 4 blaas kunste se vlammetjie (weer) dood

Die Suid-Afrikaanse kunstebedryf, wat sedert die begin van die Covid-19-pandemie sukkel om weer op die been te kom, is met die instelling van die aangepaste vlak 4-inperking weer lamgelê.

Sibongile Mngoma op die 37ste dag van haar sitstaking in die Nasionale Kunsteraad se kantore. Sy het Maandag ná die aankondiging van die vlak 4-inperking weer nie ’n wag voor haar mond gehou oor die regering se versuim om kunstenaar te steun nie. Foto: Getty Images / Deon Raath

Nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het dat hy weens die teenwoordigheid van die Delta-variant van die koronavirus in Suid-Afrika genoop is om strenger inperkings in te stel, is saamtrekke, buiten ’n handvol uitsonderings, landwyd verbied.

Dít beteken vir die kunstebedryf dat alle rolprent- en ander teaters, museums, galerye, argiewe en biblioteke, asook enige plek waar mense bymekaarkom vir aktiwiteite wat verband hou met kultuur, vermaak en/of ontspanning vanaf Maandag (28 Junie) tot en met ten minste 11 Julie geheel en al gesluit sal wees.

Luidens die Staatskoerant sal dié datum later hersien word.

“Dit is rampspoedig,” sê Christopher Dudgeon, mede-eienaar van die Gate69-teater in Kaapstad, oor die vlak 4-inperking.

“My Maandag het gisteraand om 20:00 (met Ramaphosa se aankondiging) al sleg begin. Ons sal probeer om hierdeur te kom, maar ons kan tans nie waarborg dat die teater langer as ’n paar weke met toe deure sal oorleef nie.”

Die Fugard-teater en die Courtyard Playhouse, albei in Kaapstad, het reeds weens die uitwerking van die pandemie hul deure gesluit.

Jopie Koen, eienaar en bestuurder van die Pierneef-teater in Pretoria, sê Ramaphosa se aankondiging het ook dié teater se program tot 11 Julie deurmekaar gekrap. Sekere van die teater se aanbiedinge is reeds uitgestel.

“Ek en die kunstenaars sal nou moet koppe bymekaar sit oor [die teater se aanbiedinge in Julie] om te besluit hoe ons dit gaan hanteer, aangesien ons eers op Sondag 11 Julie gaan hoor hoe die onmiddellike toekoms verder in Julie gaan lyk.”

Steeds geen plan vir die kulturele en kreatiewe bedrywe van ons gewaardeerde departement van sport, kuns en kultuur nie? Watter tipe leierskap is dit? Sies!
Sibongile Mngoma

Volgens Jané Roets, die Atterbury-teater in Pretoria se korporatiewe bestuurder, kan hulle nie in die tye wat hulle weens inperkings toe is hul hoofdoel najaag om die kunste te bevorder en vir kunstenaars ’n platform te gee om ’n inkomste te verdien nie.

“Maar bygesê, ons het altyd ’n plan om wel iets te doen. Ons karwas is steeds oop en ons aanlyn konserte is steeds beskikbaar vir enigiemand wat tuis vermaak wil word. Ons kunskompetisie gee ook weer vir ’n ander tipe kunstenaar die geleentheid om te floreer.”

Benewens die Nasionale Kunstefees wat weens die inperkings nie meer soos beplan van 8 tot 18 Julie op Makhanda plaasvind nie (hou Netwerk24 dop vir meer inligting), sal die Suid-Afrikaanse uitreiking van rolprente soos Seance, The Ladybug en die langverwagte Marvel-superheldfliek Black Widow ook tot ’n nog onbekende datum uitgestel word.

Die operasangeres Sibongile Mngoma, wat vroeër vanjaar ’n sitstaking van 60 dae in die Nasionale Kunsteraad se kantore in Johannesburg gelei het, het op Facebook gal gebraak oor die inperkings en die regering se gebrekkige steun aan kunstenaars.

“Steeds geen plan vir die kulturele en kreatiewe bedrywe van ons gewaardeerde departement van sport, kuns en kultuur nie? Watter tipe leierskap is dit? En dan word daar van ons verwag om vir dié boewe dankie te sê? Vir wat? Julle laat ons keer op keer in die steek. Sies!”

Meer oor:  Fugard-Teater  |  Visuele Kuns  |  Kuns  |  Musiek  |  Teater  |  Marvel  |  Nasionale Kunstefees  |  Black Widow  |  Seance  |  Cyril Ramaphosa  |  Delta-Variant  |  Nac  |  Nasionale Kunsteraad  |  Pesp  |  Sibongile Mngoma  |  Covid-19  |  Covid  |  Koronaviruspandemie  |  Staat Van Inperking  |  Pandemie  |  Fliek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Loket  |  Flieks  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.