Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
'Wêreldleiers wat lieg' en lastige waarhede

“Wêreldleiers wat so lekker lieg”, ’n ekologiese krisis en talle ontstellende waarhede het aanleiding gegee tot die uitstalling Wit leuens en lastige waarhede wat op 17 November in die Tina Skukan-galery in Pretoria begin.

Besoek aan die eersgeborenes deur Piet Grobler.

Piet Grobler, Marinda du Toit en Corné Joubert stal hier illustrasies, keramiek- en gemengde werke uit wat oor die waarheid handel.

“Dit was ’n gedagte wat by my ontstaan het op grond van alles wat rondom ons gebeur,” sê Grobler.

“Dit kom eintlik daagliks voor. Inligting word nou so maklik en vinnig versprei, en wat maak ons daarmee? Sekere waarhede word ontken en die sosiale media skep die indruk dat alles deesdae totally crazy is.

Praat van die duiwel deur Marinda du Toit.

“Mense is baie blootgestel. Nadat die Springbokke Saterdag die Wêreldbeker gewen het, was daar ’n stelling dat dit ‘God se span’ is. Daar is ontsettend baie opmerkings en inligting wat bitter vinnig gedeel word.”

Grobler het ook van die ekologiese krisis bewus geword.

“En dit bestaan. Die omgewing lê my na aan die hart. Mense is senuagtig. Die geskiedenis word geskryf, herskryf en geïnterpreteer.”

Al drie die kunstenaars hou by hul gewone styl van kuns skep in die uitstalling.

Grobler, wat bekend is om sy illustrasies van talle skrywers se boeke, het hom nog altyd as ’n storieverteller beskou.

“My werk speel dikwels met humor. Ek hou van stories vertel en om die draak te steek. Ons gebruik ’n tema met baie moontlikhede. Corné en Marinda se werke bevat ook dikwels ’n narratief.”

Venus Approached by Devil Grazed and Decorated Earthenware deur Corné Joubert.

Joubert, wat in die uitstalling hoofsaaklik keramiek uitstal, verken met die teenstrydigheid in die uitstalling se titel hoe leuens en die waarheid in die algemeen ’n invloed op sy lewe, die omgewing en verhoudings het.

Du Toit put inspirasie uit onder meer folkkuns, humor, reis en die natuur. Sy reken omdat kommunikasie deesdae so vinnig is, kan mense inligting makliker aantrek en sy wonder wat die implikasies daarvan op fantasieë, stories en verdigsels is.

“Ons het ’n hele paar maande gelede op hierdie uitstalling besluit,” sê Grobler.

“By my is daar nuutgeskepte werke binne die konteks van die titel. Ek hou iets in my agterkop en dan het ek pret.”

* Die uitstalling open op 17 November om 11:30 en dit duur tot 14 Desember. Die adres: Tina Skukan-galery, Plot 6, Koedoebergweg, Faerie Glen, Pretoria.

Bel 083 653 6928 of stuur ’n e-pos aan rex@tinaskukangallery.co.za of besoek tinaskukangallery.co.za vir meer inligting.

Galery-ure is Dinsdae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 en Saterdae van 09:00 tot 16:00.

Meer oor:  Tina Skukan-Galery  |  Faerie Glen  |  Pretoria  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.