Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Werk van Irma Stern kan tot R12 miljoen haal
Irma Stern se olieverfskildery A Watussi Woman with Mountains (1946).

Onder die 346 Suider-Afrikaanse kunswerke wat op Strauss & Co se lenteveiling aangebied word, is van die belangrikste werk van Irma Stern, Maggie Laubser, J.H. Pierneef, Adolph Jentsch, William Kentridge, Marjorie Wallace, Kenneth Bakker, Judith Mason en Walter Meyer.

Wat hierdie aanbod merkwaardig maak, is dat daar verskeie gehalte werke van elk van die kunstenaars aangebied word.

Die veiling word Maandag in die Vineyard Hotel in Nuweland, Kaapstad, aangebied met voorskou, lesings en rondleidings oor die naweek.

Die kroonwerk is Irma Stern se aangrypende studie, A Watussi Woman with Mountains (1946), wat dateer uit Stern se tweede besoek aan die Belgiese Kongo, wat vandag deel van Rwanda is. Hierdie besoek was hoofsaaklik aan die Meer Kivu, deel van die Groot Meer-streek.

Hierdie portret beeld ’n selfversekerde jong vrou in tradisionele Rwandese drag aan. Weens die tropiese hitte het Stern verkies om eerder buite te werk op die veranda van haar villa waar die vrou teen ’n landskap agtergrond geplaas is. Weens malaria is hierdie studie later in haar ateljee in Rosebank voltooi.

Hierdie werk is twee keer op prestige uitstallings in Parys en Londen gewys waar dit groot aandag getrek het en in gerekende kunstydskrifte opgeneem is. Erkenning wat aan hierdie werk gegee is, het haar opnuut as ekspressionis bevestig en haar aansien onder haar Europese tydgenote bevestig.

A Watussi Woman with Mountains, wat ook wyd gedokumenteer is, se voorveilingskatting is tussen R9 miljoen en R12 miljoen.

Maggie Laubser se olieverfskildery getiteld Weemoed (Lot 616).

’n Kleurryke stillewe, Still Life with Gladioli and Fruit (1960) kom ook onder die hamer. Die voorveilingskatting is tussen R2,5 miljoen en R3,5 miljoen. Hierbenewens word nog tien werke van Stern aangebied.

Drie portretstudies van Laubser behoort veral ook aandag te trek. ’n Studie van ’n bruin plaaswerker met die titel, Weemoed, teen ’n agtergrond van ’n plaaslandskap dateer uit haar sg. “Langebaan periode” tussen 1928-1932. Hierdie werk dui op Laubser se meelewing en empatie met die model en kan beskou word as van haar heel beste werk in hierdie genre. Hierdie werk is op haar eerste uitstalling in Pretoria in 1931 aangebied. Die waardasie hiervoor is tussen R800 000 en R1,2 miljoen.

Nog twee portetstudies van Laubser, Portrait of a Young Girl (1922) en Janie (1972) en Blou Voël (1971) kom ook onder die hamer.

’n Indrukwekkende studie van Pierneef, Near Thabazimbi, Tvl (1943) toon ’n berglandskap op die agtergrond en sy ikoniese geometriese kameeldoringbome op die voorgrond. Vir Pierneef was die boom ook ’n simbool van ewigheid. Wat opval, is die fyn waarneming van die flora en die geologiese kenmerke van die landskap. Hierdie belangstelling is geprikkel deur Pierneef se mentor en peetpa, Anton van Wouw, op hulle verskeie kamptogte in die ou Transvaalse binneland. Toevallig is Pierneef se studie van Van Wouw tydens so ’n tentkamp, getiteld At Pienaars River (Rooiplaat), Transvaal, Bushveld (1918) ook deel van die veiling. Die geskatte waarde hiervan is tussen R700 000 en R1 miljoen.

J.H.Pierneef se olieverfskildery getiteld Near Thabazimbi, Tvl (1943) (Lot 605).

Die Thabazimbi-studie sal na verwagting tussen R2 miljoen en R3 miljoen verkoop. Benewens die werk, word nog elf werke van Pierneef aangebied.

Vir die kunsliefhebber word die naweek ’n opwindende program oor die werke op die veiling aangebied.

•Die voorskou is Vrydag tot Sondag tussen 10:00 en 17:00. Rondleidings op Saterdag en Sondag is om 11:00.

•Lesings word elke dag aangebied. Vrydag om 12:00 Decorative Arts Highlights deur Sophie-Louise Fröhlich. Saterdag om 10:30 Pierneef and Jentsch: Contemplating the Southern African Landscape deur Ian Hunter en Kirsty Colledge en Sondag om 10:30 Irma Stern’s Congo; Biography and Portriature deur Matthew Partridge.

Meer oor:  Irma Stern  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.