Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Werke belig taal van kleredrag
Die oranje harpuisbeeldjies staan in gelid asof hulle wag op ’n bevel.

Om ’n mens op sy baadjie te takseer. Al dra ’n aap ’n goue ring. Só lui bekende idiome. Die rol wat kleredrag in die mens se lewe speel is diep betekenisvol en verklap baie van die draer.

In haar jongste solotentoonstelling, Uniform, ondersoek die Kaapse kunstenaar Marinda du Toit juis klere en veral uniforms se geheime taal.

Die tentoonstelling in die Is Art-galery in Franschhoek bestaan uit beeldhouwerke geskep uit gevonde voorwerpe, twee bronsbeelde, ’n reeks van 12 harpuis­beelde en geraamde collages. Du Toit het ook foto’s van haarself laat neem terwyl sy besig was met ’n ritueel, waar sy verskeie uniforms aantrek of skep soos onder meer ’n akademiese toga, ’n skooluniform en iemand wat onder ’n dekmantel werk.

Een van Marinda du Toit se beelde saamgestel uit weggooigoed.

Haar aanslag is op die oog af speels, dog die toonaard is ironies en ernstig. Die beelde is deurdag en keurig geskep.

Ons oordeel mense baie maklik aan hul uiterlike en hul kleredrag, meen sy. “Sy lyk ryk, hy lyk arm. Hy het mag, sy is pateties. Dra álle kunstenaars ’n bont mengelmoes? Miskien is ek steeds besig om oor bestaansreg te besin en dat niemand iemand ooit mag oordeel nie, vir seker nie op die uiterlike nie.”

Self verkies sy die neutraliteit van die kleur swart, dra soms interessante klere en met die openingsaand had sy jakarandapers platformskoene aan.

Teen die een muur hang ’n installasie van narre, wat ’n glimlag ontlok – Du Toit is deeltyds ’n nar. “Ek het die kenmerkende narfiguur vereenvoudig en eintlik gestroop. Daar is nie ’n postuur te eien of arms en bene, soos my werk gewoonlik lyk nie. Die rooi narneus word ’n rooi kop en die hele lyf ’n wit voorwerp, maar die kyker lees dit steeds as ’n narfiguur.”

Ou spintolle is gebruik om tien figuurtjies te maak wat sy “Toldaatjies” noem – koddige soldaatjies wat wiebel op hul bene en niks sou kon beteken in enige stryd nie. Die naam dui dalk ook op toksiese manlikheid wat kan skuil in ’n uniform.

Figure is sprekend gedoop “Mao se vrao”, “Perfekte prefekte” en “Vormdrag vir hom en haar” – altyd met die tong in die kies en ’n stewige steek sosiale kommentaar.

Die vereenvoudigde narrebeelde van Marinda du Toit.

Collages geskep uit antieke en gevonde papier sluit naatloos aan by die beelde.

“Dit het amper soos modesketse of advertensies uitgekom danksy die figure wat lyk asof hulle poseer vir ’n kamera.”

Van die sketse verwys na die verlies wat mense gely het wat geliefdes aan die dood afgestaan het – “mense wat klou aan foto’s van mans in uniform wat iewers geveg en gesterf het”.

Haar materiale koop sy by antiekwinkels of tweedehandsemarkte en winkels. “Ek ontvang baie en unieke goeters van vriende en selfs vreemdes wat van my werk hoor. Ek hou daarvan, want mense gee vir my voorwerpe wat ek nie noodwendig self sou kies nie. Dit dwing my om iets anders te gebruik – ’n mens val maklik in ’n patroon van dieselfde tipe goed wat dan te veel gebruik word.”

Die kunstenaar Marinda du Toit.

Sedert 2013 is sy benewens kuns­tenaar ook nar. “Ek het in 2013 vir Sjaka Septembir ontmoet en hy het my narmeester geword. Met sy leiding ontdek ek die spelende, helende plesier van narrespel. ’n Mens mag foute maak, jy mag iets nie verstaan nie, jy mag laf wees, jy mag speel. En om mense te laat lag, is goed vir almal.” Dít is wat Du Toit en haar beelde doen: Jy lag, maar jy dink ook so ’n bietjie.

  • Is Art is geleë in Huguenotweg, Franschhoek. Skakel 021 876 2071 met navrae. Besoektye is weekdae van 09:00 tot 17:00, en naweke van 10:00 tot 17:00
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.