Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
William Kentridge: Die ironie van verganklikheid

’n Mens kan nie die Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar William Kentridge se skeppende energie ontken nie. Melvyn Minnaar het dit eerstehands beleef en vertel meer.

William KentridgeFoto: Verskaf

’n Opvallende eienskap van Kentridge se kuns is hoe die assosiatiewe – veral die historiese – ingespan word. Hy prikkel jou kennis en herinnering, en trek jou so saam in die spel van sy magiese verbeelding.

Juis daarom was dit ’n besonderse ervaring om, pas ná die opening van groot oorsigte van sy werk in die Zeitz MOCAA en die Norval-stigting, neffens die walle van die Tiber-rivier in Rome, die presiese plasing van sy formidabele openbare 2014-kunswerk Triumphs and Laments te bekyk.

Dié 550 m lange “skadu-optog” is ’n verbeelding van die stad se geskiedenis, met sjablone uit dekades se muurvuil gekrap. Nou begin dit in die wind en weer en weens besoedeling verdwyn.

Dis ook tipies Kentridge: Die verganklikheid van die kunswerk speel ’n rol in sy oeuvre, maar daar is ook ’n ironiese kinkel – skatryk versamelaars betaal fortuine om ’n Kentridge te besit.

Hierdie ironie was opvallend met my besoek in die week voor die opening toe die reuse-muurwerk soos ’n dramatiese skaduwee teen die muur van die een lokaal by die Zeitz onmiddellik aandag getrek het.

Die reuse-“skets” wat uit metaal gesny is, is presies soos die sjabloon wat in Rome die moord van die rolprentmaker Pier Paolo Pasolini in 1975 uitbeeld. Soos in Rome is daar iets monumentaal ontstellend aan die prent van die lyk en die plas bloed. En soos die bloed uitloop, verdwyn die beeld teen die muur langs die Tiber: kuns as verganklik.

Die ironie dat iets waardevols net kan verdwyn, of uitgevee word (soos van sy tekeninge hier in die museum) het my eerste vraag aan Suid-Afrika se beroemdste kunstenaar uitgelok.

Ons het gesels voor die opening toe die reuse-span besig was om die werke in die Zeitz te installeer.

Hoe kosbaar bejeën hy sy eie kuns, hoe waardevol?

Die woord “precious” in my vraag kan op Engels wyd sny – van pretensieus tot selfvoldaan. Maar dis moedswillig, effe tong in die kies, want sy kunswerke word vir miljoene verkoop. Hy is dié Suid-Afrikaanse kunstenaar wat onder die wêreld se grootste en rykste kunsversamelaars, om nie van kunsmuseums te praat nie, hoog in tel is.

Die skep-soos-dit-gemaak-word-manier en vindingryke passie is die basiese elemente van Kentridge se kuns.

In die soms benoude Suid-Afrikaanse kunswêreld was Kentridge se status al die onderwerp van ’n afgunstige gemurmureer: die hoë pryse, die roem, die ongenaakbare, voortdurende internasionale opdragwerk. Maar jy kan nie die man se skeppende energie ontken nie.

Ons kunspaadjie loop terug tot 1981 toe die geesdriftige Johannesburger die Kaap bekoor het met ’n unieke, slim reeks etse, Domestic Scenes, wat in die destydse Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in Kerkstraat uitgestal is.

Die titels van die twee tentoonstellings wat tot Maart aanstaande jaar te sien is, verklap iets van die 64-jarige kunstenaar se kreatiewe denke: Meestal tweedimensionele werke in die Zeitz onder die opskrif Why Should I Hesitate: Putting Drawings To Work. In die Norval Why Should I Hesitate: Sculpture.

Ons het rondgeloop en gesels terwyl die spanne in die Zeitz se lokale bedrywig kunswerke aan die opstel was. Die rustige manier waarop die kunstenaar met hulle werk, het ’n mens bewus gemaak van die drif waarmee hy kuns maak, met ’n stuwende kreatiwiteit wat hy kwalik kan beteuel.

Kentridge het oomblikke tevore op sy rug, op ’n rusbank, ’n uiltjie geknip in die vertrek waar sy jongste tapisserie, And When He Returned, uitgestal word. Sy wit hare was punt in die wind, maar die grys oë blink, opvallend juis vanweë sy kenmerkende wit hemp, swart trui en broek.

Kort ná ons gesels, takel hy een van die groot mure van die museum met houtskool om ’n onbevange tekening te maak. “Dalk werk dit, dalk nie. Houtskool vee maklik uit.”

Iets tussen ’n anonieme graffito-maker en Banksy is die motief vir hierdie soort intuïtiewe, ad hoc-kunsskepping. Elders was ’n span besig om ’n reuse-plakker van sy komieklike tikmasjien-prent vir ’n ingangslokaal voor te berei.

Geen van hierdie plek-spesifieke werke is kosbaar en bepaald nie “precious” nie.

Die skep-soos-dit-gemaak-word-manier en vindingryke passie is die basiese elemente van Kentridge se kuns. Die titels van hierdie Kaapse oorsig dui dit dan ook aan. Telkens loop ’n sterk lyn humor, ’n onderduimsheid en satire deur sy kuns. Dit verklaar ook die gewildheid daarvan.

In die Norval se pragtige, groot beligte lokaal kyk ons die dag hoe sy jongste beeldhouwerk afgelewer word. Dadelik is die slinkse, slim speelsheid opvallend.

Die werk is ’n enorme, ouderwetse rolprentkamera soos dit in ’n spotprent sou verskyn. Dit lyk soos ’n reuse-speelding en die popkuns-aspek is nie onvanpas nie, behalwe dat dit ’n swaar, gewigtige bronsbeeld is wat met ’n swart patina afgewerk is. Met ander woorde, daar is ’n beplande, doelbewuste ondermyning van die gedagte van monumentaliteit. (Dit het neffens ’n miljoen gekos om te giet.) Dit heet Action!

Die groot beelde in die Norval dui op ’n nuwe koers vir Kentridge. Sy heel eerste beeldjie, in 1984 gemaak, is ook daar. Benewens die kamera, is daar ’n reuse-koffiekan en ’n kurktrekker. Dis pure plesier, maar tog sal die oplettende besoekers die kunshistoriese konteks merk: nie net pop nie, maar ook elemente van Giacometti.

Inderdaad is kunsgeskiedenis een van Kentridge se sterkste voedingsbronne.

Soos die Pasolini in die Zeitz so waardig en enigmaties swart voor daardie wit muur, hang ’n spesifieke merker vir hom in Rome se geskiedenis.

Ons gesels oor die mag van teken – wat, soos hierdie Pasolini, werklik die grondslag van al Kentridge se kuns is – van daardie klein huishoudelike toneeltjies destyds tot die reuse-tapisserieë en ja, die nuwe beelde.

Dis asof hierdie kunstenaar net nie sy hand van die pen, potlood en houtskool kan hou nie. Sy skeppende denke gebeur letterlik in die lyne soos hy hulle trek.

Ons groet gou, want hy brand om die kaal muur duskant met juis daardie stuk houtskool aan te durf. En hy gee nie werklik om wat daarna met die tekening gebeur nie, want hy koester geen kosbaarheid daaraan nie. Soos die optog wat nou aan die Tiber aan’t verdwyn is.

Meer oor:  William Kentridge  |  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.