Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Wim Botha besin oor mitologiese rivier

Wim Botha bied sy tiende solotentoonsteling in die galery Stevenson in Johannesburg aan. Johan Myburg het gaan kyk.

‘Scenes from The River 10’, 2021, okkerneuthout, glas en dichroïese film (33 x 51 x 28 cm).

Alles is voortdurend aan’t beweeg en niks staan stil nie, het Heraklitus, die pre-Sokratiese Griekse filosoof gesê en dié gedagte met die beeld van ’n rivier vergelyk. Geen mens kan twee keer dieselfde rivier binnegaan nie, was die strekking van sy woorde, met die bedoeling dat dit die tweede keer ’n ander rivier én ’n ander mens is.

Daarby het hy gevoeg: “Ons is en is nie.” Soos die rivier voortdurend verander, bly ons ook nie dieselfde nie.

Vir The River, sy jongste uitstalling in die Stevenson-galery in Johannesburg, sy tiende, versin Wim Botha ’n rivier in ’n verbeelde landskap, tafelhoogte, gemaak van panele hout en glas met daarop dichroïese film wat groen, geel, rooi of bruin vlekke vertoon. Daarmee saam gebruik hy marmer en halfedelgesteentes, en, natuurlik, losstaande beelde gekerf uit okkerneuthout wat dié diorama bevolk.

Afgesien van dié sentrale saamgestelde werk is daar ook nog vyf beeldhouwerke, almal taamlik klein, wat teen die mure van die galery gemonteer is. Met iets van gemonteerde relikwieë daaraan.

The River, kompleet met stroomversnelling en kolkmerke in rotspoele, met dieper kuile en vlak stroke sand, met die patrone van eeue se strome, lees ’n mens onmiddellik as die Styx, die mitologiese rivier as grens tussen lewe en dood, eerder as ’n lewegewende bron wat alles en wat nog kan voed. Dié gedagte word benadruk deur die gifgeel/gifgroen water waarin twee hadidas staar.

‘Scenes from The River 16’ (Kronos en die kind), 2021, okkerneuthout, glas en dichroïese film (48,5 x 62 x 42 cm).

Rivier van refleksie (in die water) sou dit kon wees – die besoeker aan die galery kry by geleentheid ’n skerf selfherkenning in een van die weerkaatsende vlakke – maar dan dalk eerder as ’n herinnering dat ons is én nie is nie. Alles is eindelik besig om af te loop.

Die idee van fragmentasie en refraksie (terugkerende temas in Botha se werk) kry gestalte in die tablo’s wat hy in en neffens die rivier skep. Die gestaltes, soos dié van die hadidas, is geraamterig, nie dood nie, maar geplaas iewers in die een of ander skemerwêreld van is en nie is nie. Hierdie gekerfde figure behoort tot die hede – daar is bepaalde handelinge wat hulle uitvoer – maar eweso behoort hulle tot ’n sfeer waar tyd oorbodig geword het.

Een van die skeletterige figure wat as’t ware op heterdaad betrap word, is Kronos, die mitologiese figuur (god van tyd) wat sy kinders een-een opgevreet het uit vrees dat hulle hom uit die weg sou ruim, soos wat hy sy pa uit die weggeruim het, besig om een van hulle te verslind. In die Peter Paul Rubens-skildery van dié toneel (Saturnus, 1636) wat Botha as vertrekpunt gebruik, is dit die vlesigheid wat opval. In Botha se voorstelling is dit die benerigheid wat uitstaan – die vlees het reeds vergaan. In dié opsig word tyd (ook dikwels voorgestel as ’n rivier) verbeeld as die allesverorberende krag soos wat die Griekse mitologie dit gesien het.

‘Scenes from The River 21’, 2021, okkerneuthout, glas en dichroïese film (62 x 49 x 33 cm).

Die feit dat Botha in okkerneuthout werk, ’n medium wat homself leen tot fyn kerfwerk, benadruk die gevoel dat niks vir altyd duur nie – soos wat okkerneuthout onbehandeld nie bestand is teen die larwes van houtkewers nie. Of die tande van die tyd nie.

Van Botha se vernuf as beeldhouer/kerwer word ’n mens weer eens bewus in dié uitstalling, nie net ten opsigte van fyn filigraanagtige kerfwerk nie, maar ook in die klein gekerfde panele agter die muur gemonteerde beelde. Dié panele word iets van ’n “skulp” (soos in die Renaissance grotto-styl) met die beelde, onder meer dié van Silenus met die baba Dionysus in sy arms en Jean Antoine Houdon se anatomiese figuur, van sy vel gestroop.

In begeleidende aantekeninge oor die uitstalling verwys Botha na sy gewaarwording dat kunstenaars vóór hom al uiting gegee het aan die insigte waarvan hy mettertyd bewus word. “Dit is hierdie idees wat ons oor duisende jare aan mekaar bind – dat iets kunstenaars vroeër geraak het soos wat dit my nou raak.”

Op die oog af herken ’n mens die mitologie, die figure, die rivier dalk, maar dit is nooit dieselfde nie. Dit is ’n gewaande herkenning. Want dit is nooit dieselfde rivier nie.

  • Tot 25 Junie. Die Stevenson-galery is by 7de Laan 46, Parktown-Noord, Johannesburg. Besoek www.stevenson.info.
Meer oor:  Renaissance  |  The River  |  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.