Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Wonderlike voorreg’ om saam met Breyten Breytenbach uit te stal

’n Jong kunstenaar van Wellington kry ’n droomgeleentheid om van sy kunswerke saam met dié van Breyten Breytenbach uit te stal.

Kobus Coetzee (20) beskryf die kans as ’n “hengse geleentheid” en ’n “wonderlike voorreg”.

“Pappa”, ’n skildery van die ontslape taalstryder Ampie Coetzee deur sy seun Kobus Coetzee.

Breytenbach se uitstalling Skeursels word Saterdag om 11:00 aanlyn in die Breytenbach-sentrum in Wellington op breytenbachsentrum.co.za bekend gestel.

Terselfdertyd word ’n volksboekie of traktaat Hokhokaai Fragmente ook bekend gestel. Breytenbach het beide die kunswerke en die bundel as deel van die Breytenbach Sentrum se projek Woordmakersvallei en die nuutgeskepte Grevilleas Steunfonds geskep. Dit is daarop gemik om geld vir die voortbestaan van die gemeenskapsentrum in Wellington in te samel. Grevilleas was Breytenbach se ouerhuis waar hy saam met sy ouers en jongste broer en suster gewoon het.

Kobus Coetzee (20), seun van die taalstryder Ampie Coetzee.
“Hokhokaai Fragmente” deur Breyten Breytenbach.

Die Breytenbach Sentrum het in 2007 geopen as ’n kunskultuursentrum waar opleidingsprogramme en interaktiewe projekte vir die hele gemeenskap aangebied word. Die hoofgebou (Grevilleas) en ander geboue op die terrein word gebruik.

Oor die tema van die kunswerke, sê Breytenbach in ’n mediaverklaring: “Die bydrae tot die Breytenbach Sentrum van die huidige werk in wording wat grotendeels tydens die afsonderingstyd van inhokking ontstaan, word Skeursels genoem. Deels omdat dit in gemengde media is – waterverf, akriel, plakwerk – maar ook omdat dit niks méér kan verbeeld as die versnipperde geheue aan ’n geheel nie. Van die klein formaat werke sal u sien het ’n voorkant en ’n agterkant, ’n ‘kykkant’ en ’n ‘agternakykkant’.

“Miskien lê die gesig waarna ek verwys tussen die twee.

Ek wil die uitstalling beskou as die bevestiging van ’n verbintenis aan hierdie streek se mense en geskiedenisse en aan die soeke wat ons onderling verbind.”

Oor die Hokhokaai Fragmente sê hy: “Dit bevat geen wysheid nie en weer eens is dit die gedeeltelike en soms donker weerspieëling van ingeperkte tyd.”

Oor sy bydrae tot die uitstalling sê Coetzee die werke is op verliese in die afgelope jaar gegrond. Hy werk in houtskool op Fabriano-papier. Die een prominente werk is van sy pa, Ampie Coetzee, wat verlede jaar oorlede is.

Afgesien daarvan dat Breytenbach en Ampie boesemvriende was, is hy allerweë as een van die grootste kenners van Breytenbach se digkuns beskou. Hy was ook nou gemoeid met die sentrum se totstandkoming en sy vrou is die kunskurator Anne-Ghrett Erasmus.

Coetzee is ’n oudleerling van die Hugenote Hoërskool in Wellington en hy beplan om kuns te studeer.

’n Spesiale oplaag van 100 van Hokhokaai Fragmente sal teen R450 per kopie gekoop kan word. Francois Lötter kan by francois@breytenbachsentrum.co.za gekontak word.

Meer oor:  Ampie Coetzee  |  Breyten Breytenbach  |  Wellington  |  Poësie  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.