Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Zeus, Afrika in beeld het Twittertonge los
Sanford Biggers staan by sy kunswerk The Oracle by die Rockefeller Center in New York. Foto: REUTERS

n “Afrika-standbeeld” wat deur die Rockefeller Center in New York onthul is, het ’n warm debat op sosiale media ontketen.

Sommige Twitter-gebruikers sê dit is aanstootlik en maak ’n bespotting van Afrika en sy verskillende kulture.

Ander meen dit is neerhalend om te verwys na die “verering van Afrika-kultuur” omdat daar soveel uiteenlopende kulture op die vasteland bestaan.

The Oracle is die werk van die Amerikaanse kunstenaar Sanford Biggers. Dit is volgens hom ’n samesmelting van die Griekse god Zeus en maskers en inspirasie uit Afrika-kulture.

The Oracle weeg meer as 6 ton en is meer as 7 m hoog en is een van ’n reeks kunswerke deur Biggers waarin mitologie en geskiedenis saamgevoeg word.

“Biggers se werk is sy persoonlike gestileerde en oppervlakkige idee van die Afrika-mitologie,” sê Avitha Sooful, president van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging vir Visuele Kunste (Sanava).

Die kunsskrywer Johan Myburg meen die standbeeld is juis opgerig om gesprek uit te lok, in ag genome dat Biggers gereeld met sy werk die “benepenheid van Amerikaners aanvat en hulle noop om wyer te dink”.

“ ’n Mens moet die verskil in gedagte hou tussen die oog-merk met die kunswerk en die lesing van die kunswerk (wat mense/die publiek daarvan maak). Dié twee kom selde ooreen.

“Die werk is deel van Biggers se reeks werke waarin hy in hibriede beelde iets verbeeld van ’n klassieke Westerse verwysingswêreld en dié van Afrika,” sê Myburg.

Johan MyburgFoto: DEON RAATH

Hy meen The Oracle is ’n lofwaardige poging, juis omdat dit die kyker noop om ’n hele boel geskiedenis in gedagte te hou.

Sooful stem saam dat Biggers se werk by tye omstrede is, maar is minder genadig oor The Oracle. “Om dié werk as ’n voorstelling van Afrika-kultuur voor te hou, dui daarop dat daar min begrip van Afrika is. Ons is veel meer as maskers en Biggers moet aanspreeklik gehou word,” sê sy.

Sooful en Myburg is dit eens dat die negatiewe reaksie geregverdig is en albei moedig debat oor die kunswerk aan.

“Enigiemand kan sy of haar mening lug oor enige onderwerp. Kuns takel juis heilige koeie én veral koeie wat sogenaamd op stal gehou word vir goedgekeurde melkers of slagters,” sê Myburg.

“Dit sou wonderlik gewees het as ’n kunstenaar van Afrika genader is om ’n kunswerk oor Afrika-kultuur te skep,” sê Sooful.

Volgens haar moet ’n kunstenaar wat met Afrika-kulture as tema werk, die vasteland werklik verstaan. “Debat is altyd belangrik, maar kan nie onverantwoordelike kuns onder die dekmantel van artistieke praktyk voorhou nie.”

Myburg hoop dat The Oracle mense sal aanmoedig om meer vrae te vra en kritiese denke oor kuns toe te pas.

“Waarom lyk dit soos ’n Afrika-masker terwyl die figuur ’n fakkel vashou? Waaraan laat die fakkel my dink? Ek vermoed Biggers het juis in die oog dat ’n mens begin tap uit die magdom van stories wat in dié beeld opgesluit is.”

Meer oor:  Zeus  |  Beeld  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.