Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Liefde vir eet én liefde vir mense
Marita van der Vyver is in Suid-Afrika om haar jongste kookboek bekend te stel. Mariana Malan het met haar gesels oor haar boek én lewe.
Marita van der Vyver en haar kokende Fransman, Alain Claisse. Foto: LIEN BOTHA

Was Winterkos in Provence reeds in jou agterkop toe julle Somerkos in Provence aangepak het of kom dit na aanleiding van die eerste boek se sukses?

Ek het nooit eens gedroom ek sou één kosboek skryf nie, wat nog te sê twee!

Wat my aangespoor het om weer te probeer, was dat Edouard Cointreau van die Gourmand World Cookbook Awards in Parys ’n paar bladsye uit Somerkos gekies het vir ’n beeldskone boek (Cookbook Collec­tion: France) waarby die beste boeke oor die Franse kookkuns wêreldwyd ingesluit is.

Toe Cointreau my kontak, het ek geprotesteer dat ek en my man nie professionele kokke is nie en dat ons resepte meestal vir eenvoudige, eerlike gesinskos is. Sy antwoord was dat dit juis is wat hy soek. So, daar staan my beskeie naam nou saam met gróót kosname soos Alain Ducasse en Joël Robuchon – meesters in wie se restaurante ek nie eens kan bekostig om te gaan eet nie – en selfs die akteur Gérard Depardieu, wat ook ’n kosboek gepubliseer het.

Die foto’s in albei boeke vertel amper stories van hul eie. Was die keuse van die foto’s vir jou net so belangrik soos die inhoud en die resepte?

Ek het nie die finale foto’s gekies nie, maar ek en my hele gesin en verskeie vriende het baie hard saam met die fotograaf Lien Botha gewerk om aan die redakteur, Ansie Kamffer, se “wenslys” van omtrent duisend foto’s te voldoen.

Uit hierdie oorweldigende verskeidenheid het Ansie en die projekbestuurder, Lindy Samery, en die ontwerper, Anton Sassenberg, gekies en besluit wat om waar te plaas. Jy moet sien hoe pragtig is sommige van die foto’s wat uitgeval het!

Ek het van die begin af gesê ek sal die boek doen as Lien weer die foto’s kan neem, want met Somerkos se fotosessies het sy ’n vriendin geword en die hele gesin voel op hul gemak in haar teenwoordigheid. Ek dink dis duidelik as jy na die foto’s kyk.

Die lieflike volbladkosfoto’s is later deur Myburgh du Plessis in die Kaap geneem – winterfoto’s voor ’n kaggelvuur in die middel van die somer, in die ergste hittegolf wat die streek in jare getref het. Hy en die stilis Sonja Jordt en hul helpers moes letterlik swoeg en sweet, veral swéét.

Was jy altyd lief vir kook?

Ek was altyd báng vir kook – totdat ek op die kokende Fransman verlief geraak het. Hy het my baie geleer en my groter selfvertroue gegee.

Maar die belangrikste les wat hy my geleer het, is dat dit nie die einde van die wêreld is as ’n gereg flop nie. Dis hoe jy leer om dit beter te doen.

Eet julle elke dag uit die boeke uit of is daar dae wat elkeen maar net ’n toebroodjie gryp?

Ons eet bowenal baie uit ons eie boeke uit, soos ons kinders en gaste sal getuig! Maar natuurlik is daar dae wanneer ons lui is en gemorskos eet. Soos enige gewone normale gesin.

Gee kortliks jou idee van ’n ideale maaltyd

Die belangrikste vereistes is slim en snaakse geselskap – want die kop moet saam met die lyf gevoed word – en ’n kok wat met liefde kook. Liefde vir kos en liefde vir die mense wat die kos moet eet. Dan kan selfs ’n omelet en ’n glas wyn ’n koningsmaal word.

As dit boonop op ’n mooi plek geniet kan word, buite onder ’n boom in die somer of voor ’n kaggelvuur in die winter, met mooi eetgerei, ’n mooi tafeldoek en mooi servette, wat meer wil ’n mens hê?

Wat is volgende op jou skryfprogram?

Ek’s nou eers weer besig met “die dinge van ’n kind”. Ek gee binnekort ’n prenteboek uit, Die coolste ouma op aarde, waaroor ek opgewonde is.

En vroeg volgende jaar kom ’n jeugboek, Swemlesse vir ’n meermin. En Olinosters op die dak gaan ná byna 20 jaar heruitgegee word, met fantastiese nuwe illustrasies deur Dale Blankenaar, ’n gewese student van Piet Grobler wat destyds die eerste Olinosters geïllustreer het.

Maar net om te wys ek word darem nog nie heeltemal kinds nie, toer ek in September in Nederland en België saam met ’n paar ander Afrikaanse skrywers wat die Afrikaanse roman gaan bemark.

● Van der Vyver is Donderdagoggend 10:00 saam met Elzabé Zietsman in aksie met Winterkos in Provence in die Atterbury-teater. Kaartjies kos R80.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.