Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
musiek
Musiek so lekker soos ’n koppie boeretroos
Die folkduo Bottomless Coffee Band se eerste ­album is onlangs bekend gestel – gemaklike, gesellige musiek met dieper elemente, nes hul naam voorspel. Rochélle Human het met die talentvolle paartjie gesels.
Lourens en Esté Rabé, hier by Bean There by 44 Stanley in Johan­nesburg, is die paartjie agter die nuwe musiekduo Bottomless Coffee ­Band. Foto: Simone Kley
Esté was aanvanklik die “kranige koffiedrinker” van die twee. Die naam Bottomless Coffee Band het Lourens uit die bloute getref, en dit het net gepas: Koffie is gesellig, warm en gemaklik, nes hulle. Foto: Simone Kley

Lourens en Esté Rabé het albei ’n stomende beker koffie in die hand – swart, sonder suiker.

Koffie met melk en suiker “is soos om ys by wyn te gooi”, sê Esté, ’n selferkende koffie-snob.

Hulle is op die laaste been van hul eerste nasionale toer met hul album, Room with a View, in ­Johannesburg en vertel met blink oë van uitverkoopte vertonings in Graaff-Reinet, George en Cradock.

Die paartjie is amper twee jaar getroud. Op die oog af pas hulle mekaar soos ’n handskoen, maar hul musikale agtergrond kan nie meer verskillend wees nie.

Lourens is sedert sy skooldae in rockgroepe – die mees onlangse een het op metalmusiek gefokus.

“Dit was wóés, hoor,” sê Esté laggend.

Hy het as agtjarige seuntjie ­iemand in ’n fliek sien tromme speel.

“Toe het ek my ma se koekblikke en panne gaan uitpak en sosatiestokkies gebruik om vir my ’n tromstel te bou.”

Mettertyd het sy broer hom ’n paar drukke op die kitaar gewys en het hy ook mondfluitjie leer speel.

As student in Stellenbosch het hy die tromme opsy geskuif en kitaar, ukelele en baskitaar gespeel.

Esté het drama met klassieke sang gestudeer.

“Ek het eintlik begin sing voordat ek kon praat,” sê sy.

Sy het sang- en klavierlesse geneem, maar die formele opleiding het haar nie aangestaan nie.

“Ons het albei ’n baie natuurlike oor vir musiek . . . Ons speel alles op gehoor.”

Lourens het haar uitgedaag om meer instrumente te speel.

Met hul uiteenlopende agtergronde moes hulle gemeenskap­like terrein vind waarin nie een van hulle opgelei is of ervaring het nie en dit het hul nuwe styl – opgeruimde folkrock – geword.

‘As sy sing, bly mense stil’

Lourens en Esté se paaie het in Stellenbosch gekruis, waar sy die hoofsolis van die universiteitskoor was. Sy het saam met hom en ’n paar vriende by ’n geleentheid gesing en hy het vinnig besef “as sy sing, bly mense stil, en as ons sing, praat mense.”

Mettertyd was dit net hulle twee en is Bottomless Coffee Band gebore.

Saam speel hulle altesame tien instrumente en tydens optredes span hulle feitlik elke ledemaat in om soveel moontlik daarvan gelyktydig te speel.

Met sy voete speel Lourens ’n tromstel wat hy self gebou het; met sy hande wissel hy tussen akoestiese en elektriese kitaar, hy speel mondfluitjie en sing.

Esté speel allerhande slaginstrumente, akoestiese baskitaar, ukulele, haar pa se trekklavier, kazoe en sy sing.

“Ons is ’n paartjie, maar ons skep die klank van ’n orkes van vier of vyf mense,” sê Lourens.

“Ons wil vir mense ’n ervaring gee wat hulle nêrens anders sal kry nie . . . So ons sit rêrig alles in.”

“Ons wil ook ons musiek eg hou,” sê Esté.

“Ons wil daardie regte folkmusiekgevoel terugbring, want dit is rou en eg.”

Nie net folk nie

Tans slaan hul musiek ’n folk

rock rigting in, maar hulle het begin deur met blues en jazz te eksperimenteer. En die volgende album mag dalk ’n heeltemal ander klank hê.

Kunstenaars soos Bob Dylan, Johnny Cash en The Civil Wars inspireer hulle, maar hulle is ook lief vir die plaaslike klanke van Mango Groove en Johnny Clegg.

“Almal wat iets wil sê met hul musiek” – soos Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, Amanda Strydom, Laurika Rauch – inspireer hulle, sê Esté.

Lourens is die storieverteller, terwyl Esté se skryfstyl na kabaret neig.

“Die meeste van die musiek is baie opgewek en vrolik, maar daar is tog ’n dieper boodskap,” sê sy.

“Vir my is dit belangrik om mense vir hulleself te laat vrae vra.”

Die eerste kortspeler van die album, “What If You Wake Up”, doen juis dit.

Esté werk voltyds aan Bottomless Coffee Band en Lourens werk bedags as ’n beleggingsanalis vir ’n batebestuursfirma in die Kaap.

Hulle is indie in die ware sin van die woord: onafhanklik, sonder ’n platekontrak.

Lourens sê hulle het Room with a View opgeneem bloot om hul musiek te dokumenteer.

“Eendag kan ons vir ons kleinkinders wys ouma en oupa het ’n album gemaak.

“Toe raak dit ’n bietjie groter as wat ons gedink het.”

Hulle het die opname self ­gefinansier en doen ook self die verspreiding daarvan.

“Dit is ’n groot leerskool. ’n Mens leer aanhoudend deur foute te maak,” sê Esté.

Tog geniet hulle dit om só ook al die kante van die bedryf te leer ken.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.