Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
10-jarige oorrompel gehoor met operastem
Scott Engelbrecht

Die tienjarige Scott Engelbrecht se vertolking van “Ave Maria” in sy eerste verhoogoptrede by die Gé: Hoor my lied-gedenkkonsert by Carnival City aan die Oos-Rand het die gewilde sanger André Schwartz so beïndruk dat hy hom twee keer terug na die verhoog geroep het sodat die gehoor aan hom ’n staande applous kon gee.

“Ave Maria” is ook een van die treffers op Scott se debuutalbum, Scott Engelbrecht, wat onlangs uitgereik is.

Ander treffers sluit in “Sonder jou”, “Jerusalem”, “How Great Thou Art” en “O Mio Babbino Caro”.

“Dit was baie lekker voor die gehoor,” sê Scott, wat ook klavier en kitaar speel.

“Maar voordat jy begin, dink jy nog daar is iets fout met jou stem, maar dan stap jy op en jy sing.”

Hy sê hy het nie self gekies wat hy gesing het nie.

Benewens die konsert by Carnival City het hy ook die afgelope Sondag by die Bakgat-musiekfees in die Sun Arena in Pretoria opgetree en hy tree in November ook hier op in die Pretoria-konsert van Gé: Hoor my lied, ’n gedenkkonsert vir die sanger Gé Korsten wat vanjaar 20 jaar gelede dood is.

Scott, wat saam met sy ouers en drie broers op ’n kleinhoewe in die suide van Johannesburg woon, het ongeveer ’n maand voordat hy sewe jaar oud geword het, sy ouers verstom met ’n liedjie wat hy gesing het.

Hy het die fliek One Chance gekyk oor die ware verhaal van Paul Potts wat Brittain’s Got Talent gewen het. Die liedjie “Nessun dorma” word hierin gesing en Scott het dit die volgende oggend vir sy ouers aan die ontbyttafel gesing. Hulle het gedink hul tweede oudste seun sing dit beslis beter as enigeen van hulle . . .

Scott Engelbrecht se debuutalbum is onlangs uitgereik.

Scott het toe begin lesse neem by die Russiese operasanger Yulia Patrascoiu wat in dieselfde omgewing as hy woon.

Hy wou nie Afrikaanse of Engelse liedjies sing nie. Hy wou dadelik met Italiaanse liedjies begin.

Hulle het met “O sole mio” begin en hy het “O mio babbino caro” binne ’n week geleer.

Patrascoiu het vier jaar gelede vir hom begin les gee.

Die sangeres en musiekafrigter Malie Kelly het Scott ’n jaar gelede ingeneem nadat ’n vriend van sy pa ’n video van hom aan haar gestuur het.

Sy weergawe van “Sonder jou” word tans op radio gespeel.

Scott, wat deesdae tuisonderrig ontvang, wil graag ’n loopbaan uit musiek maak. Hy is ook lief vir gholf, muurbal, perdry, branderplankry, swem en fietsry.

Sy broers is almal baie ondersteunend. Hulle kies altyd die strikdas wat hy moet dra – en hy het ’n groot versameling.

“Ek het Jannie Moolman en André Schwartz geken. Ek is fans van hulle. Ek het met hulle gesels, meestal oor hoeveel songs ons ken en watter liedjies ons ken.

Hulle gee partykeer raad.”

Scott vertel van sy eerste keer in die ateljee.

“Dit was baie goed, behalwe dat my ore warm geword het. Ek was ’n bietjie bang vir die eerste liedjie, ‘O mio babbino caro’. Ek was later gemakliker.”

Hy sê dit was baie lekker om saam met Kelly te werk.

“Maar tannie Malie kan nie tel nie. Want elke keer as ek iets klaar opgeneem het, sê sy nog net een keer – en nadat ek dit gedoen het, sê sy weer nog net een keer.”

Scott fokus tans net op opera. Hy skryf ook liedjies en sommige skryf sy pa saam met hom.

“Ek wil graag nog ook ‘Lied van die lewe’ en ‘Liefling’ opneem.”

* Die Gé: Hoor my lied-konsert word op 3 November in die Sun Arena in Pretoria aangebied. Kaartjies kos R127, 50 tot R350. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  André Schwartz  |  Musiek  |  Opera  |  Sanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.