Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
10 miljoen ‘like van’ Ricus Nel se ‘Boerepompie’

Die sanger Ricus Nel het vermoedelik Woensdag die eerste Afrikaanse sanger geword wat twee keer die 10 miljoen-kerf op YouTube met ’n Afrikaanse musiekvideo kon oorsteek.

Nel se 2016-liedjie “Hardekole”, wat hy saam met Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse sing, het in April vanjaar vermoedelik die eerste Afrikaanse musiekvideo geword wat meer as 10 miljoen keer op YouTube gekyk is.

Francois van Coke en Karen Zoid se duet, “Toe vind ek jou”, het kort daarna net die tweede Afrikaanse musiekvideo geword om ook dié mylpaal te behaal.

Nou het Nel dit weer gedoen, dié keer met die liedjie “Boerepompie”, wat op 14 Junie verlede jaar uitgereik is.

Netwerk24 het destyds berig dat die liedjie, wat Nel saam met Snotkop sing, binne ’n dag meer as 100 000 keer gekyk is. Hoewel dit eintlik verwys na talle verskillende benamings vir konsertinas, laat dié dubbelsinnige benamings talle skaterlag, veral die liedjie se refrein:

Almal like van ’n boerepompie, haal die krismiswurm uit.

Almal like van ’n boerepompie, laat die donkielong jou byt.

Almal like van ’n boerepompie, in die stad of op die plaas,

want ’n boerepompie gee nie om nie, is jy kort of rond nie, jy gaan lekker dans.

Nel sê aan Netwerk24 hy kan nie glo dat hy weer die 10 miljoen-kerf oortref het nie.

“Dit voel rêrig onwerklik. Toe ‘Hardekole’ 10 miljoen behaal het, het ek gedink so iets sal nooit weer met my gebeur nie.

“Ek kan net dankie sê. Ek weet nie wat ons reg doen nie, maar ons doen duidelik iets reg!”

Nel sê hy dink dit is die “eerlikheid” in die liedjie wat dit so gewild maak.

“Dit wat ons sing, is werklik wie ek is en werklik wie Snotkop is. Ek het van die begin af geweet – toe ek Snotkop genader het (om die liedjie te sing) en gespot het hy’s ’n stadsjapie – dat hy net soveel aanklank by die platteland vind soos ek, en ek dink dít is hoekom die liedjie so gewild is.”

In die kommentaar onderaan die liedjie op YouTube loof nie net Afrikaanse of Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers die liedjie nie – dit vind ook aanklank by luisteraars in plekke soos Amerika, België, Mexiko, Nederland en Swede.

Nel sê hy weet glad nie hoekom buitelanders so baie daarvan hou nie.

“Dit was dieselfde met ‘Hardekole’ – dit het ook oorsee aanklank gevind. Ek weet nie of dit is dat mense (Suid-Afrikaners) oorsee woon en die liedjie hulle nostalgies maak nie, dit laat hulle terugverlang huis toe en dan deel hulle dit daar met hul medemens. Ek is net bly hulle hou daarvan.”

Meer oor:  Francois Van Coke  |  Karen Zoid  |  Ricus Nel  |  Snotkop  |  Musiek  |  Bok Van Blerk  |  Youtube  |  Refentse  |  Adam Tas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.