Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
13-jarige wen topprys met 6de deelname
’n Stralende Teboho Motsatse (klavier, middel), wenner van vanjaar se Samro- Hubert van der Spuy-kompetisie vir musici 13 jaar en jonger. Links is die naaswenner, James Cilliers (saxofoon), en regs Tanya Zhu (klavier), wat die derde prys gewen het. Foto: Verskaf

Aanhouer wen.

Dit het die 13-jarige Gautengse pianis Teboho Motsatse bewys toe sy die topprys, die Samro- Hubert van der Spuy-prys, met haar sesde deelname aan dié nasionale musiekkompetisie ontvang het.

Motsatse het nie net die algehele wenprys van R15 000 ontvang nie, sy het nog sewe pryse gewen – insluitende beste pianis.

James Cilliers, ’n Kaapstadse saxofoonspeler, het die tweede prys van R10 000 losgespeel en Tanya Zhu, ’n pianis, die derde prys van R7 500.

Dié drie musici se onderwysers is ook beloon. Mario Nell, Motsatse se klavieronderwyser, het R2 500 gekry, Liam Burden R2 000 vir sy aandeel in Cilliers se prestasie en Nita Wolff R1 500 vir Zhu se optrede.

Van die 40 deelnemers wat vanjaar hul slag gewys het, het agt uiteindelik oorgebly om dit in die eindronde op 20 September teen mekaar uit te spook.

Vyf van die finaliste is pianiste, naamlik Motsatse, Madison le Roux (12), Heinrich Sutton (12), Tanya Zhu (11) en Stefan Suter (12). Helen Lin-Lin Liu (13) was die enigste violis en Kian Goliath (12) en James Cilliers (13) saxofoonspelers.

Die beoordelaars, Johanna Roos (violis), Khanyisile Mthetwa (fluit) en Philippus Hugo (klavier), het die wenners op grond van al hul optredes oor vier dae aangewys.

Ná die prysuitdeling het (Teboho) Motsatse (13) gesê dit was van haar tiende jaar haar droom om die prys te wen, tog is dit moeilik om te glo sy het dit eindelik ná soveel probeerslae reggekry.

Volgens ’n mediaverklaring het die diepte aan talent dit vanjaar onmoontlik gemaak vir die gehoor om ’n wenner te voorspel. Motsatse se boeiende vertolkings van die eerste tot die laaste werk het eindelik die deurslag gegee. In die eindronde het sy haar meesterskap bewys met werke van Mendelssohn, Bach/Marcello en Berkovich se uitdagende Variasies op ’n tema van Paganini.

Ná die prysuitdeling het Motsatse gesê dit was van haar tiende jaar haar droom om die prys te wen, tog is dit moeilik om te glo sy het dit eindelik ná soveel probeerslae reggekry. Haar beloning vir jare se harde werk onder die kundige aanvoering van Nell, is R28 700 en die geleentheid om op die openingsaand van 2020 se kompetisie saam met die Hugo Lambrechts-orkes op te tree.

Cilliers het die kompetisie met R17 200 verlaat en Zhu met R13 200.

Verskeie deelnemers het voordeel getrek uit die sowat 30 pryse wat gewen kon word, onder andere Emma Steenkamp, die naaswenner in die stryker-afdeling, en Kian Goliath, die naaswenner in die blaserafdeling. Hulle het R1 500 elk gekry. Kyrah Adams het R3 000 as wenner van die afdeling vir ander instrumente ontvang.

Die kompetisie is vanjaar die 31ste keer deur die Tygerbergtak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers aangebied en is geïnspireer deur prof. Hubert van der Spuy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.