Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
2 plaaslike Barokfeeste nou saam aanlyn vertoon
Erik Dippenaar, klavesimbelspeler en artistieke direkteur van die Klassique-Baroque-fees wat in Oktober aanlyn aangebied word. Foto: Netwerk24

Twee musiekfeeste wat weens die Covid-19-pandemie gekelder is, het hul eiers in dieselfde mandjie gesit en bied aan liefhebbers van klassieke musiek nou die Klassique Baroque-fees aanlyn aan. Dit is ’n samevoeging van die jaarlikse Klein-Karoo Klassique in Oudtshoorn en die Barokfees in Kaapstad.

Vier kamerkonserte wat musiek van die 17de tot die 20ste eeu insluit, word uitgevoer deur musici wat Erik Dippenaar op grond van hul “kenmerkende eienskappe en sterkpunte” gekies het. Dippenaar is die artistieke direkteur van die Barokfees en hou ook die leisels van die aanlyn fees.

Hy sê die eerste uitvoering is Misshapen Pearls, wat “op die sterk kontraste en improvisasie-aspek van Barokmusiek fokus”. Die musici is Lynelle Kenned (sopraan), Ralitza Macheva (barokviool), Refiloe Olifant (barokviool) en Erik Dippenaar (klavesimbel).

Daarna volg Haydn in London waarin lede van die Camerata Tinta Barocca, naamlik Liesl Stoltz (dwarsfluit), Refiloe Olifant (eerste viool), Bonolo Kgaile (tweede viool), Lynn Rudolph (altviool), Cheryl de Havilland (tjello), Mariechen Meyer (kontrabas) en Dippenaar (klavesimbel) Joseph Haydn se geliefde Surprise Symphony uitvoer. Johann Peter Salomon het dit vir ’n kamer-ensemble verwerk.

CPE Bach se Hamburger Sonata vir dwarsfluit en continuo is ook deel van die program.

Die sopraan Lynelle Kenned tree in die derde konsert met die titel ‘1840’ saam met die pianis Esthea Kruger op. Foto: Netwerk24

Janel Speelman (sopraan) en Esthea Kruger (klavier) noem hul program van Schumann-lieder en musiek vir solo-klavier bloot 1840. Die rede is omdat al die liedere in die program uit 1840 dateer; Robert Schumann se sogenaamde Liederjahr en ook die jaar waarin hy met Clara Wieck getrou het.

Werke uit sy liedsiklus Myrthen op. 25 en Liederkreis op. 39 sal gehoor word, asook Sonate no. 2 in G mineur op. 22 vir klavier. Die tweede beweging van dié werk is gegrond op Im Herbste, een van die liedere in die program.

Die hoogaangeskrewe Zomari Duo met Bridget Rennie-Salonen (dwarsfluit) en James Grace (kitaar) sluit die fees af met Histoire du Tango, ’n opwindende program van musiek uit Suid-Amerika. Die openingswerk is Astor Piazzolla se ikoniese L’histoire du tango waarna werke van die Brasiliaanse komponis Celso Machado en die Argentyn Máximo Diego Pujol sal volg.

Die Klassique-Baroque-fees strek oor vier weke met die eerste konsert wat op 1 Oktober debuteer. Die ander konserte word op die Donderdae daarna beskikbaar gestel. Die uitvoerings is vanaf 18:00 op die onderskeie Donderdae tot 31 Oktober om middernag beskikbaar.

Kaartjies kan nog tot 31 Oktober gekoop word teen R100 per konsert en pakkette vir R300. Besprekings is by Quicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.