Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
2 prettige operas op VS-fees te sien

Operaliefhebbers kan vanjaar twee operas op die Vrystaat Kunstefees sien. The Old Maid and the Thief is ’n verhoogproduksie met vier sangers en twee klaviere en Don Pasquale van Donizetti een van die fliekfees se uitsoekrolprente.

Die Suid-Afrikaner Gérard Korsten dirigeer Don Pasquale en sy vrou, die internasionaal gevierde sopraan Eva Mei, vergestalt die hoofkarakter Norina.

Korsten en Mei het in 2018 in ’n operakonsert in Bloemfontein opgetree. Die rolprent word op 6 Julie om 14:00 in die Visual Media Hub van die rolprentskool op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) vertoon.

The Old Maid and the Thief, deur die Italiaans-Amerikaanse komponis Gian Carlo Menotti, is ’n komiese uitbeelding van vroue se listigheid. Miss Todd is ’n huisvrou met ’n baie duur smaak in klere en ’n groot ou skinderbek. Sy steek haar neus in almal se sake, maar word nietemin hoog geag in plaaslike kringe.

Miss Pinkerton troef Miss Todd as dit by skinder kom. Sy hardloop kort-kort by Miss Pinkerton in om haar die nuutste skinderstorie te vertel.

Bob, ’n bedelaar wat by Miss Todd se huis aanklop, bied moontlike uitkoms vir Laetitia, Miss Todd se huiswerker. Dié raak halsoorkop verlief op Bob en probeer ’n manier vind om saam met hom weg te hardloop, wat Miss Todd lelik in die steek sal laat.

Die sangers is almal van Kaapstad – Raimondo van Staden-Slabbert (Bob), Jacobi de Villiers (Miss Todd), Janel Speelman (Laetitia) en Shirley Sutherland (Miss Pinkerton).

Die sopraan Shirley Sutherland het klassieke musiek en drama studeer en dit met ’n honneurs in uitvoerende musiek aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool afgesluit. Angelo Gobbato en Sarita Stern was van haar sangdosente.

Sy het in haar loopbaan ’n draai in Swede en Duitsland gemaak en in Suid-Afrika het sy verskeie opera- en musiekspelrolle gesing. Sy was ’n lid van die Black Tie-ensemble en Kaapstad-opera en het in dié tyd onder andere Roxy in Chicago gesing, Rusalka in die gelyknamige opera van Dvorak, Eliza in My Fair Lady, Julie in The Carousel en Meg in Brigadoon.

Sy gee sangles by skole in Kaapstad en dirigeer verskeie kore.

Jacobi de Villiers is ’n mezzosopraan wat soos Sutherland ook drama en musiek studeer het – eers drama aan die Universiteit Stellenbosch (US) en toe musiek aan die UK waar sy in 2016 ’n meestersgraad behaal het. Sy was tydens haar studies ook ’n lid van Kaapstad-opera, wat haar die geleentheid gegee het vir opera-optredes nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Oostenryk, Duitsland en Frankryk.

Sy sê ’n hoogtepunt was toe sy in 2013 as solis gekies is vir Refusal of Time van William Kentridge. Dit het tot oorsese aanbiedings gelei, asook sangonderrig in Duitsland. Van die operas waarin sy gesing het, is Gianni Schicchi, Die Zauberflöte, La Cenerentola en La Traviata.

Die sopraan Janel Speelman het, nadat Virginia Davids en Kamal Khan van die UK haar potensiaal ontgin het, in 2016 ’n meestersgraad in opera aan die Universiteit van Michigan in die VSA voltooi.

Sy het nou ’n pos as sangdosent aan die US en sit terselfdertyd haar konsertloopbaan voort.

Die baritonRaimondo van Staden-Slabbert het al in die VSA, Frankryk, Duitsland en Finland opgetree en was deel van die Mandela Trilogy-opera, wat in Dubai en Hongkong opgevoer is. Hy het verskeie operarolle op sy kerfstok.

Sy musiekstudies het ’n hupstoot gekry toe hy die Gobbato-Qavane-operabeurs gewen het en die ATKV-Muziqanto-kompetisie in 2014. Ná ’n meestersgraad aan die US het hy vir ’n PhD aan die Noordwes-Universiteit ingeskryf, wat hy onlangs voltooi het. Hy tree ook as dirigent op.

Die pianiste is Arno Jones en Marnél Smit en Johannes van Staden-Slabbert dirigeer.

*1 Julie om 20:00, 2 Julie om 12:30 in die Kunstetrust-Odeion. R100 by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.