Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
2 wenners vir eerste aanlyn sangkompetisie

n Suid-Afrikaanse operasanger het die wêreld se eerste aanlyn sangkompetisie aangebied wat reeds twee wenners opgelewer het. Katleho Mokhoabane (24) van die Vrystaat en Luvo Maranti (26) van Kaapstad is as die wenners van die afdeling vir tenore aangewys en kon elkeen R2 000 in hul sak steek.

Njabulo Madlala, ’n bariton wat in Londen woon en werk, het die wenners op Facebook aangekondig. Die volgende ronde is vir soprane waarna die ander sangstemme, mezzosoprane, baritons en basse, ook ’n beurt sal kry.

Om deel te neem, moet Suid-Afrikaanse sangers kort video’s van nie langer as een minuut nie vir die Online Voices of South Africa Opera Singing Competition instuur. Madlala kies die beste 20 wat dan versoek word om langer video-snitte van enige opera-aria in te stuur. Uit hulle word die beste 15 gekies wat ’n regstreekse uitvoering op Facebook lewer waaruit die uiteindelike wenners aangewys word. Die tenore se eindronde is op 5 Julie gehou.

Madlala is as beoordelaar bygestaan deur die Suid-Afrikaanse sopraan Pumeza Matshikiza, die bas-bariton Carlos Conde van Puerto Rico, die Amerikaanse dirigent Kamal Khan, die Britse sopraan Susan McCulloch en die Amerikaanse mezzosopraan Tichina Vaughn.

Matshikiza en ’n anonieme beoordelaar het elkeen ’n spesiale prys aan Siphiwe Mkhatshwa (40) van Johannesburg toegeken. Die Durbanse tenoor Njabulo Shozi (30) was die gehoor se gunsteling.

Katleho Mokhoabane Foto: Facebook

Volgens ’n verklaring het Madlala ná die kompetisie gesê die beoordelaars was beïndruk met die sangers se gehaltestemme en musikaliteit.

Die kompetisie word in samewerking met die Anglo-Franse fees Les Azuriales Opera aangebied. Dié organisasie is net soos Madlala bekend vir hul ontginning van jong talentvolle sangers en die skep van opleiding en optredes.

Madlala was self ’n wenner van die Les Azuriales-kompetisie en het in 2010 die gevierde Kathleen Ferrier-prys in Brittanje gewen. Hy is gereeld die bemiddelaar vir Suid-Afrikaanse jongelinge om deel te word van die Royal Opera se Jette Parker-program en Europese programme vir jong kunstenaars, asook studie aan Britse konservatoriums.

Volgens Madlala is meer as 60 inskrywings reeds vir die kompetisie vir soprane ontvang, waarvan die beste 15 op 12 Julie regstreeks op Facebook om geldpryse sal meeding. Die eindronde waarin die wenners in die verskillende stemgroepe teen mekaar te staan kom, word oor vier weke gehou.

Inskrywings moet gestuur word na https://www.facebook.com/voicesofsa/. Dit is ook die skakel vir die regstreekse uitsendings op ’n Sondag.

Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Aanlyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.