Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
20 produksies van 20 min. oor 20 weke aanlyn gehou
‘20/20: Entertainment in Containment’ begin op 10 Julie.

Om klassieke musiek visueel aan te bied was nog altyd vir die Suid-Afrikaanse sanger en regisseur Magdalene Minnaar belangrik. Dis egter ’n perd van ’n ander kleur om dit onder die koronavirus-inperkingsmaatreëls suksesvol aanlyn aan te bied.

Minnaar is bekend as ’n vindingryke vervaardiger, maar in die huidige ongekende omstandighede het sy ’n groep planmakers op Zoom bymekaargekry en so het 20/20 ontstaan – 20 produksies van 20 minute oor 20 weke.

Die eerste uitsending gaan op 10 Julie wees en die reeks sal op 20 November eindig.

In elke produksie is visuele elemente soos animasie, skilderkuns, projeksies of voordrag van gedigte, dans en ander kreatiewe planne bygevoeg om die musiekuitvoering met dié ekstra dimensies te laat leef.

Entertainment in Containment, soos Minnaar die projek noem, het begin met weeklikse diskoerse op Zoom om denke te stimuleer wat tot interessante en werkbare planne moes lei.

“Ek kry kunstenaars ongelooflik jammer, veral vryskutkunstenaars, wat waarskynlik tot volgende jaar letterlik geen inkomste gaan verdien nie. Ek het net gevoel ek moet ’n platform vir hul werk skep wat hopelik finansieel lonend sal wees.”

Magdalene Minnaar

Minnaar het self onder die pandemie-gevolge deurgeloop. “Ek sou nou aan die Bach-fees in Leipzig, Duitsland, deelgeneem het, later vanjaar sou ek Mozart se opera Le Nozze di Figaro vir Sempre-opera regisseer, Ben Schoeman en ek het optredes vir Engeland en Suid-Afrika beplan en ek en die pianis Maryke Johnson sou ’n nuwe program van kunsliedere op die eerste Vrystaat Klank en Klassique in Bloemfontein uitvoer.”

Sy weet dus hoe dit voel as jou optredes die een ná die ander gekanselleer word. Toe skep sy 20/20.

Een van die produksies is ’n stilrolprent met die fluitspeler Louisa Theart vir wie Matthijs van Dijk nuwe werke gekomponeer het. In ’n ander lewer die Stellenbosse Nina Fourie-Gouws ’n program van virtuose kitaarmusiek teen die agtergrond van animasiebeelde deur Gerald Seymour.

Christiaan Snyman is ’n bariton en kunsskilder en sal sy eie kuns as aanvulling vir liedere en arias gebruik.

Die perkussiespeler Magda de Vries bied Fragment aan, ’n produksie met geanimeerde Suid-Afrikaanse gedigte waarvoor bypassende musiek geskryf is.

Elmarie van der Vyver het besluit om Spaanse liedere, wat vir altviool en klavier verwerk is, ’n plaaslike geur te gee. Die woorde is in Xhosa vertaal en word deur Ongezwa Gongxeka voorgelees.

Minnaar tree self ook op en sal in Alphabet gehoor word. Dit bestaan uit die 26 letters van die alfabet waarop gedigte geskep is. Al die woorde in ’n gedig begin met die gekose letter. As dit A se beurt is, begin al die woorde met A.

Minnaar se broer, Louis Minnaar, ’n lid van die groep Bittereinder en ’n grafiese kunstenaar, sorg vir die visuele uitbeelding, en Jaco van der Merwe, ook van Bittereinder, het die gedigte geskep. Magdalene, bygestaan deur ’n klein ensemble, sing die werke wat Franco Prinsloo getoonset het.

Van die ander kunstenaars wat gehoor sal word in produksies waaraan nog gewerk word, is die fluitspeler Carina Bruwer, sanger Conroy Scott, tjellis Dorette Roos, sopraan Busisiwe Ngejane, tenoor Makudupanyane Senaoana, violis en komponis Luca Hart, kitaarspeler André van Rensburg en komponiste Jonathan Blair en Catherine Stephenson.

Bykans 60 kunstenaars werk voor en agter die skerms aan die verkenningstog wat luisteraars op nuwe paaie in die wêreld van klassieke musiek neem.

20/20: Entertainment in Containment open op 10 Julie om 20:00 met Daniel Zachariah Franks en The Hot Club of Cape Town se musiekvideo met verwerkings van Bach- en Piazzolla-werke in sigeunerjazz. Kaartjies kos R80 by Quicket, https://qkt.io/MFS6Tp. Skenkings aan die kunstenaars kan ook hier gemaak word.

Meer oor:  Musiek  |  Magdalene Minnaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.