Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
2008-brand in Hollywood het ‘skatkis van opnames’ verwoes
Aretha Franklin Foto: AP

Nadat ’n brand in 2008 ’n deel van Universal Studios Hollywood in Kalifornië verwoes het en volgens verslae net “King Kong en kopieë van ou werke” in die slag gebly het, blyk dit nou ’n hele argief met ’n “skatkis van opnames” is in werklikheid vernietig.

The New York Times (NYT) het vandeesweek berig dit is “die grootste ramp in die geskiedenis van die musiekbedryf”.

Onder die verlore musiek is waarskynlik ’n Decca Records-versameling met opnames van Billie Holiday, Louis Armstrong, Duke Ellington, Al Jolson, Bing Crosby, Ella Fitzgerald en Judy Garland.

“Die brand het moontlik ook Chuck Berry se bekendste opnames vir Chess Records en meesterkopieë van Aretha Franklin se eerste plaatopnames vernietig.”

Die omvang van die ramp is destyds toegesmeer en die Universal Music Group (UMG) gooi steeds wal. In ’n mediaverklaring striem hulle die NYT oor die “talle onakkurate, misleidende en teenstrydige stellings” in die berig.

Die NYT berig egter die meesteropnames strek oor meer as ’n halwe eeu se musiek wat soveel as 500 000 individuele snitte kan behels van onder andere Bill Haley & His Comets se treffer “Rock Around the Clock”, Etta James se ballade “At Last” en heel moontlik ook die volledige opnamekatalogus van Buddy Holly en Billie Holiday.

Elton John

Ander kunstenaars wie se meesterkopieë glo verlore is, sluit in die jazz-ikone Louis Armstrong, Duke Ellington, Count Basie, John Coltrane en Dizzy Gillespie, en die blues-sangers Muddy Waters, Howlin’ Wolf, Bo Diddley, John Lee Hooker, Willie Dixon, Buddy Guy en Little Walter.

Skynbaar het opnames van “honderde indien nie duisende musikante wat nooit uitgereik is nie ook in die slag gebly”. Onder hulle is opnames van Elton John, Cat Stevens, Nirvana, The Eagles, Steely Dan, Ray Charles, Tom Petty and the Heartbreakers, Soundgarden, Eminem, 50 Cent, Snoop Dogg en Kurt Cobain van Nirvana.

Volgens die Los Angeles Times het Universal Music (UM) destyds vure doodgeslaan toe kommer oor die inhoud van die argief geopper is.

Amptenare van UMG het toe gesê “die meeste van die opnames was kopieë, digitale kopieë is van die oorspronklike opnames gemaak en alles is dus veilig en gerugsteun”.

Die meeste berigte het destyds op die inhoud van UMG se rolprent- en videoargief gefokus en die musiekargief meestal verswyg.

In ’n twiet het die klawerbordspeler Geoffrey Downes van die Engelse rockband Asia vandeesweek gesê dit verklaar dalk hoekom niemand Asia se meesterkopieë kon vind nie.

“Baie hartseer – en om te dink UMG het langer as tien jaar daaroor geswyg.” – Bronne: Los Angeles Times, The New York Times Magazine, thefader.com

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.