Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘20/20’ toon nuwe weë van klassieke musiek

Die projek 20/20: Entertainment in Containment is enorm, maar meer verstommend is die kreatiwiteit in elk van die 20 produksies. Slim en gevarieerde visuele uitbeeldings verhef die klassieke uitvoerings, die kern van die projek, tot dimensies wat kwalik tot nog toe in Suid-Afrika gesien is.

Magdalena de Vries
José Dias
Magdalene Minnaar

Die dirigent en pianis Mathilda Hornsveld skryf so oor die projek wat die operasanger en entrepreneur Magdalene Minnaar aangepak het: “Ná ’n leeftyd in operateaters bevind ek my in ’n nuwe tydperk van aanlyn produksies, ’n geleentheid om iets totaal nuut en oorspronklik te doen.

“Ek is betrokke by Strings and Songs op 28 Augustus waarin Spaanse en Argentynse liedere, voorgelees in Spaans en Xhosa, saamgevoeg en deur ’n stel marionette verbeeld word. Dit is nuut en stimulerend en inspireer bo alle verwagting.

“Die konsep het gespruit uit ’n idee van die altviolis Elmarie van der Vyver lank voor die inperkingstyd en vind nou ’n verhoog op ’n aanlyn platform plaas. En dit alles gebeur in ons sitkamers.”

Die kuns- en volksliedere in die produksie is vir klavier en altviool verwerk deur die bekende komponiste Alberto Ginastera, Enrique Granados, Carlos Guastavin en Carlos Lopez Buchardo. Inge Venter lees die tekste in Spaans en Ongi Gongxeka in Xhosa terwyl Frankie van Straaten die marionette volgens die verhale inspan.

Vir die marimbavirtuoos Magdalena de Vries was die skep van ’n aanlyn vertoning met die danser Thabo Rapoo (23 Oktober) ’n “interessante reis”, en om die towerkrag van die marimba ten beste te vertoon “die grootste uitdaging”.

“Maar die lekkerste van die aanlyn produksies is om na ander musici se skeppings te luister en kyk. Want in die ‘regte lewe’ vind soveel konserte gelyktydig plaas dat dit vir ons onmoontlik is om mekaar te ondersteun.”

Die gewilde dirigent Richard Cock is namens talle kunstenaars dankbaar vir die “wonderlik kreatiewe projek waarin ’n verskeidenheid kunsvorme saamgevoeg word om klassieke musiek in der waarheid visueel te verpak”. Hy sê kunstenaars het nou alle moontlike platforms nodig om te oorleef, waarvan 20/20 “besonder ondernemend en vindingryk” is.

Die Suid-Afrikaanse operasanger Emma Farquharson sê sy is trots op haar aandeel in “die ontginning van die virtuele ruimte om groter gehore te bereik”. Sy kan gehoor word in Hear Her Now (4 September) wat op die werke van vrouekomponiste fokus. Farquharson en die tjellis Caleb Vaughn-Jones bied uittreksels aan uit A Feather on the Breath of God, hul uitverkoopte produksie op die onlangse Nasionale Kunstefees. Lara Kirsten sluit by Farquharson aan vir Skotse volksliedere, en ten slotte sal die pianis Ilse Myburgh haar begelei in die debuut van die Suid-Afrikaanse pianis en komponis Jeanne Zaidel-Rudolph se kunslied “Boy in a Swing”.

Reeds op 14 Augustus is Magdalene Minnaar en José Dias aan die beurt in Nocturne. Evokatiewe nagbeelde vergesel hul keuse van “die mooiste liedere en arias oor die wonders van die nag”, soos Fauré se “Clair de Lune” en die betowerende “Song to the Moon” uit Dvorák se opera Rusalka.

Op 21 Augustus span die visuele kunstenaar en sangers Christiaan Snyman met Kerry Wisniewsky (klavier) en Natalie Bentley (tjello) saam in Don Quichotte. Deur musiek van Maurice Ravel en Jules Massenet verken hulle nie net die “Don” se emosies nie, maar ook hoop, liefde, teleurstelling, ontnugtering, fantasieë en die aanvaarding van ons menslikheid. Snyman eggo terselfdertyd die emosies in kleur en ritmiese kwashale. Hy sê terwyl hy na die musiek geluister het, het hy die emosies in “die taal van die visuele” omgeskakel en ’n video-opname daarvan gemaak.

Kykers word in 20/20 op nuwe weë deur klassieke musiek geneem en mag dalk na aanleiding van die visuele uitbeeldings met nuwe ore na die werke luister. 20/20: Entertainment in Containment het op 10 Julie begin en eindig ná 20 weke se aanbiedings op 20 November. Die uitsendings duur 20 minute en kos R80 by Quicket.

Die volledige program lyk so:

  • 14 Augustus: Magdalene Minnaar (sopraan) en José Dias (klavier) – Nocturne
  • 21 Augustus: Christiaan Snyman (skilder), Kerry Wisniewsky en Natalie Bentley – Don Quichotte
  • 28 Augustus: Elmarie van der Vyver (altviool), Mathilda Hornsveld (klavier), Inge Venter en Ongi Gongxeka (vertellers) en Frankie van Straaten (marionettemeester) – Strings and Songs
  • 4 September: Emma Farquharson (operasanger), Caleb Vaughn-Jones (tjellis), Lara Kirsten en Ilse Myburgh (pianis) – Hear Her Now
  • 11 September: Franco Prinsloo (komponis), Sonya Rademeyer, Willem van den Heever en André van Rensburg (videokunstenaars) – Traces
  • 18 September: Busisiwe Ngejane en Makudupanyane Senaoana (operasangers) – La Bohéme
  • 25 September: Khanyisile Peterson, Monthati Masebe en Tali Lehr-Sacks – Sun Trans-fusion
  • 2 Oktober: Catherine Stephenson, Tertia Visser-Downie (klavier), Kristin Wilson en Louisa Talbot (dans) – Journeys
  • 9 Oktober: Cara Stacey, Joyce Moholoagae, Nicola du Toit en Galina Juritz – Arum Project
  • 16 Oktober: Franco Prinsloo (komponis), Magdalene Minnaar (sopraan), Louis Minnaar (kunstenaar) en Jaco van der Merwe (lirieke) – Alphabet
  • 23 Oktober: Magdalena de Vries (marimba) en Thabo Rapoo (danser) – Dances for Marimba
  • 30 Oktober: Maryke Johnson (klavier) en Rivandu Swanepoel – Tours de Temps / Moving Debussy
  • 6 November: Luca Hart (violis) – Airborne
  • 13 November: Jonathan Blair (komponis), Dorette Roos (tjello) en Carina Bruwer (fluit) – Gacela of the Dark Death
  • 20 November: The Yellowwood String Duo – Woodland Trails
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.