Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
600 engelstemme span saam vir superkonsert
Dít is wat op gehore wag op vanjaar se e’Bosch-skoolkorefees. Foto: Verskaf

Koorsang gaan die naweek in Stellenbosch opklink wanneer sowat 600 leerlinge van 21 laerskole in die Eikestad- en Franschhoek-omgewing aan die e’Bosch-skoolkorefees deelneem.

Dié superkonsert word vanjaar die agtste keer aangebied en vind oudergewoonte in Erfenismaand plaas. Die skoolkorefees is ’n hoogtepunt op die e’Bosch-erfenisprojek se kalender, wat hom sedert 2011 vir die respek van menswaardigheid beywer, om maatskaplike ongeregtigheid uit die weg te ruim en maatskaplike insluiting te bewerkstellig en te bevorder.

Volgens Brent Reynolds, projekleier van die skoolkorefees, kan ’n koorfees soos hierdie die e’Bosch-erfenisprojek se doelwitte verwesenlik.

“ ’n Koorfees is ’n ideale medium om maatskaplike grense te oorbrug, skole bymekaar te bring wat geografies geskei is, en almal saam te laat sing,” sê hy.

“Dié fees is die een plek waar ál Stellenbosch (en Franschhoek) se skole die geleentheid het om saam te kom en as een groot skoolgemeenskap te verenig.”

Dié fees is die een plek waar ál Stellenbosch (en Franschhoek) se skole die geleentheid het om saam te kom en as een groot skoolgemeenskap te verenig.
Brent Reynolds, projekleier

Reynolds sê dat die 21 skole in vyf groepe verdeel is, wat elk uit vier of vyf skole bestaan. Elke groep sal twee liedjies op die konsert uitvoer en sal vyf keer voor die konsert repeteer “sodat hulle mekaar kan leer ken, mekaar kan waardeer en mekaar eindelik kan respekteer,” sê hy.

Die program sluit onder meer “Asimbonanga” deur Johnny Clegg, “Believe” deur Edwin Drake, “Stuur groete aan Mannetjies Roux” deur Laurika Rauch, en ander tradisionele Afrika-liedjies soos “Amaviyoviyo” in.

Al 600 leerlinge gaan ook in ’n massakoor verenig en “The United Light” deur Xander Kritzinger uitvoer. Kritzinger, ’n Stellenbosse koorleier en komponis, sal die massakoor dirigeer.

“Die Universiteit Stellenbosch se koperblaasensemble, onder leiding van Pamela Kierman, sal ook optree en die massakoor begelei,” sê Reynolds.

“Ons hoop eindelik dat die konsert almal sal aanmoedig om hul eie kultuur te beoefen en brûe oor alle kultuur- en maatskaplike groepe heen te bou.”

Benewens leerlinge van die Bridge House School, die Dorothea Spesiale Skool, die Cloetesville Sekondêre Skool, die Lückhoff Sekondêre Skool en die Stellenzicht Sekondêre Skool, sal die laerskole A.F. Louw, Cloetesville, Dalubuhle, Devon Valley, Groendal, Ikaya, J.J. Rhode, Joostenberg, Klapmuts, Pieter Langeveldt, Raithby, Simondium, Vlottenburg, Weber Gedenk, Wemmershoek en Wes-Eind ook te sien wees.

  • Die e’Bosch-skoolkorefees vind op 14 September om 15:00 in die Coetzenburg-sportsentrum in Stellenbosch plaas. Toegang is gratis; daar is plek vir sowat 750 gehoorlede. Kontak Fiona Grayer by 021 808 2358 of stuur ’n e-pos na concerts@sun.ac.za vir meer inligting.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.