Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
90ste verjaardag gevier met verskillende konserte

’n Komponis se inspirasie kom van binne en van buite, sê Thomas Rajna. Dit is ’n bietjie moeiliker om ’n opdragwerk te komponeer as musiek wat spontaan ontstaan, maar met die regte ingesteldheid en genoeg verbeelding is alles moontlik.

Dié komponis en pianis het in sy loopbaan van 75 jaar inspirasie geput uit van die werk van digters (Robert Browning, William Blake en W. H. Auden) tot by ’n gewilde rekenaarspeletjie (Super Mario Bros).

Hy het hom ook nie beperk tot komposisies vir een instrument of genre nie. Sy werk sluit in twee klavierkonserte, konserte vir harp, klarinet en viool onderskeidelik en twee operas. Dan is daar ook nog komposisies vir rolprentklankbane, kamermusiek, kore en selfs ballet.

Thomas Rajna tydens ’n besoek aan FMR.

Een van die operas wat hy gekomponeer het is Valley Song, gebaseer op die drama van Athol Fugard. Die ander een is Amarantha. Hy het ’n jaar ná die première van laasgenoemde sy eie platemaatskappy begin. Die katalogus het onder meer ingesluit Goyescas van Granados, Messiaen se volledige Vingt Regards sur l’enfant-Jésus, Bartok se 2de en 3de klavierkonserte en ’n keuse uit Rajna se eie komposisies.

Rajna word in Desember 90 jaar oud. In die aanloop tot sy spesiale verjaardag word verskillende konserte gehou. Die eerste is op Dinsdag 14 Augustus. Die Universiteit van Kaapstad se Musiekkollege vereer hom met die konsert Rajna at 90. Hy gaan self ook optree; hy bied sy Capriccio vir klavier aan. Ook op die program is sy Serenade vir blaasinstrumente, klavier en slaginstrumente, drie Hebreeuse koorliedere uitgevoer deur die Kaapstadse jeugkoor onder Leon Starker en The Creation – A sermon vir koor en orrel, uitgevoer met John Woodland as dirigent.

Rajna is in Hongarye gebore en woon die afgelope 48 jaar in Kaapstad. In sy loopbaan het hy musiek uitgevoer en opgeneem van komponiste soos Brahms, Liszt, Granados, Stravinsky, Bartok, Schumann, Barber, Prokofiev en Messiaen. Hy was van 1979 tot 1993 verbonde aan die UK se SA Musiekkollege. Met sy aftrede was hy medeprofessor.

Rajna sou baie graag die vier gedigte van W.H. Auden wat getoonset is in sy verjaardagjaar uitgevoer wou hê. Hy het hulle verwerk om saam met ’n orkes uitgevoer te word en hy het nog nie hierdie weergawe op die verhoog gehoor nie.

“Toe die orkes (Kaapstadse Filharmoniese orkes) moes kies wat hulle vir hul konsert op 1 November wou speel, het hulle Video Games gekies,” sê hy.

Die prikkel vir hierdie komposie was sy seuns wat die spel in die jare 90 gespeel het.

“Dit was ’n oulike speletjie. Nie so vol geweld soos dié wat deesdae gespeel word nie. Dis een van my gewildste komposisies, veral by jong mense.”

Die dirigent Daniel Boico tree hier op.

Rajna verjaar op 21 Desember. Op 23 Oktober sal die UK-simofonieorkes sy vioolkonsert uitvoer met Farida Bacharova as solis en Alexander Fokkens as dirigent.

  • Bespreek by www.webtickets.co.za.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.