Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige
Dylan laat hom nie sommer vertaal nie

Op 21 Januarie 1968 het Jimi Hendrix begin om sy weergawe van Bob Dylan se “All Along the Watchtower” in Londen op te neem. Dit was ’n lang proses wat tot Augustus van daardie jaar geduur het, grootliks omdat Hendrix keer op keer ontevrede was met verskeie aspekte van die opname.

Noel Redding het aanvanklik die baskitaar gespeel, maar hy het moeg geraak vir Hendrix se hoë eise en in die middel van die opname sy goed gevat en geloop. Dave Mason het toe op baskitaar oorgeneem, maar Hendrix was steeds nie tevrede nie en het uiteindelik sélf later die baskitaar gespeel.

Die resultaat sou uiteindelik ’n ikoniese cover wees, meer suksesvol as Dylan se eie weergawe op die trefferlyste. Die Britse tydskrif Total Guitar het Hendrix se weergawe aangewys as die beste cover van alle tye.

Dylan self was vol lof vir die jong Hendrix. “Dit het my oorweldig,” het hy gesê. “Hy het goed in die lied raakgesien en ontwikkel wat ander mense nie kon raaksien nie.”

Hendrix het reggekry wat min ander kunstenaars kon – om Dylan se grootsheid te oortref. En wat ’n grootse kunstenaar is Dylan nie! Benewens sy miljoene aanhangers wêreldwyd word hy ook deur ander groot kunstenaars gehuldig. Die oud-Beatle Paul McCartney het Dylan as ’n genie beskryf. Om Dylan se 30 jaar as kunstenaar te vier, het ikoniese kunstenaars soos Eric Clapton, Tom Petty, Neil Young, Stevie Wonder, Lou Reed en vele ander in 1992 opgetree by ’n konsert waar Dylan se liedjies deur hulle opgevoer is.

Ek was dus skepties toe ek die CD Tamboerynman – Koos van der Merwe se Afrikaanse vertalings van Dylan se liedjies – kry. Om Dylan se werk te vertaal en op te neem, is ’n enorme uitdaging.

Vir eers is Dylan se komplekse, ontoeganklike lirieke so te sê onvertaalbaar. Dylan se binnerym alleen het ’n dinamika van sy eie. Sy lirieke is dubbelsinnig. Die perfeksionistiese Dylan het elke woord met rede gekies. Trouens, vir Dylan is sy lirieke die belangrikste van alles. Verskeie musikante wat saam met Dylan gewerk het, het al vertel hoe hy op die dag waarop opnames vir sy liedjies sou begin, net met bladsye vol lirieke by die ateljee opgedaag het.

Tweedens moet ’n mens musikaal reg laat geskied aan iemand soos Dylan. Hendrix kon dit regkry. Daar was ander kunstenaars ook wat ikoniese weergawes van Dylan se werk kon lewer. Dink maar aan Guns N’ Roses se unieke “Knockin’ on Heaven’s Door” en Eddie Vedder van Pearl Jam se meesterlike weergawe van “Masters of War”.

Laastens moet ’n mens ook besin oor die sinvolheid van só ’n projek. Is dit nodig om Dylan in Afrikaans te hoor? Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die gehoor op wie dié projek gemik is, nié van Dylan weet nie en ook nie sy lirieke in Engels sal verstaan nie.

Wat ook al Van der Merwe se beweegrede, dit is met die eerste luister duidelik dat Tamboerynman nie gemaak is om grense te verskuif nie. Die Dylan-klank (aanvanklik die rou akoestiese kitaar en bekfluitjie, later die growwe rock-klanke) maak plek vir ligte, generiese pop. ’n Gevestigde en gewilde klank. ’n Resep wat werk.

Daarom sal Tamboerynman waarskynlik tot ’n bepaalde gehoor spreek. Maar van ’n Hendrix of Vedder is daar nie veel sprake nie, al het Van der Merwe virtuose soos die kitaarspeler Mauritz Lotz tot sy beskikking gehad.

’n Ander uitdaging was sekerlik die liedkeuses. Met die korpus werk wat Dylan oor die dekades heen gelewer het, is dit haas onmoontlik om te kies!

Van der Merwe het egter goed gekies en die liedjies op Tamboerynman is taamlik verteenwoordigend van Dylan se vele fases en metamorfoses: die protesliedjies (“Verlore in die wind”), die surrealistiese droomliedjies (“Tamboerynman”, “Orals om die wagtoring”) en selfs Dylan se kortstondige geloofsfase (“Ek glo in U”).

Die grootste vraag is egter of die vertalings geslaagd is. Want hier gaan dit nie net oor taalkundige aspekte nie, maar ook (en veral) die emosionele.

Vir geharde Dylan-aanhangers is sy woorde heilig. Soos gebede kan hulle sy digkuns woord vir woord resiteer.

En hoewel die “makliker” Dylan-liedjies redelik akkuraat vertaal is (soos “Dat jy my liefde voel” en “Hy was ’n vriend van my”), is dit by die meer komplekse werke van Dylan waar dinge lelik begin skeefloop. Die titelsnit, “Orals om die wagtoring” en “Skuiling teen die storm” is voorbeelde hiervan. En dit is nie noodwendig weens taalkundige onbeholpenheid nie, dis omdat jy dié soort lied net eenvoudig nie kan vertaal nie. Dis deel van ’n Dylan-woordeskat en psige waarvoor daar nie woorde in Afrikaans is nie. En dít is waar Tamboerynman die verste tekort skiet.

Een van die lekkerste stories oor Dylan is toe hy in die 1960’s sy bekfluitjie en akoestiese kitaar geruil het vir elektriese instrumente. “Judas!” het ’n konsertganger in Londen hom toegesnou. “You’re a liar,” het Dylan in die mikrofoon terug gekoggel, omgedraai en aan die band gesê: “Play it f*cking loud!”

Tamboerynman is egter nie ’n album wat verdien om kliphard gespeel te word nie omdat Van der Merwe uiteindelik nie daarin slaag om enigiets uitsonderliks met Dylan se liedere te doen nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.