Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Cecilia Wessels, Japie Human se eerste ontmoeting ‘intimiderend’

Met die afsterwe van die musikus prof. Japie Human op 25 April vanjaar het ek ’n gesprek onthou wat ek met Human oor sy eerste kennismaking met die formidabele Suid-Afrikaanse sanger Cecilia Wessels gehad het.

Prof. Japie Human
Cecilia Wessels Foto: Nasionale Museum en Naln

Wessels (1895-1970) het as dramatiese sopraan en veral as Wagner-vertolker nie net in Suid-Afrika nie maar ook in Europa bekendheid verwerf.

Sy het musiekliefhebbers oor 50 jaar met haar sang en persoonlikheid bekoor. Dit was juis haar lang loopbaan en onverskrokke en oorheersende geaardheid wat van haar ’n legendariese figuur gemaak het.

Human het haar in die laat 1960’s in een van haar afskeidskonserte in Bloemfontein begelei. In sy ou Fiat het hy Wessels by die Hotel Cecil in St. Andrewstraat opgelaai. Dit het haar duidelik nie beïndruk nie en die eerste ontmoeting het nie op ’n goeie voet begin nie.

“Ek was nogal bang vir haar,” het hy erken, “omdat sy so ’n intimiderende houding gehad het.” En bygevoeg dat hy haar taamlik snobisties ervaar het.

Cecilia het hom op pad na die uitvoering ongevraag en taktloos gekapittel oor die sogenaamde jong kunstenaars, insluitend Human, wat haar naam kwansuis sou gebruik om opgang te maak in die musiekwêreld.

Terselfdertyd het sy laat deurskemer dat sy nie een van daardie “little singers” soos Mimi Coertse of Hanlie van Niekerk is nie. (Cecilia was blykbaar effens afgunstig op Coertse).

Tog het Human groot bewondering vir haar fenomenale stem gehad.

“Sy kon ’n orkes doodsing. Al was die orkes hoe groot en met watter instrumente ook al, sy het geen vrees vir hulle gehad nie.”

Oor haar optredes en kleredrag het Human ook sy mening goedig gelug.

“Sy was statig, maar overdressed – pelsjas die lot, hoed met vrugte op.”

Wessels was kennelik gesteld op haar konsertuitrustings en ook in haar private lewe het sy smaakvol en deftig maar soms ietwat oordrewe aangetrek.

Heelwat van die uitrustings en hoede het sy self gemaak. Familie het vertel sy het ure gesit om blinkertjies (sequins) op konsertklere vas te werk.

Sy het erken sy het ’n “swak” vir hoede – kleintjies en grotes, met vere en blomme, van strooi of pels. “Hoeveel het ek? Seker ’n stuk of 60, 70,” het sy op ’n keer gesê.

Human het op ’n vraag hoe hy haar beleef het, só geantwoord: “ ’n Hart van goud, die voorkoms van ’n Walkure, die verstand van ’n muggie en ’n fantastiese stem. Sy was ’n produk van haar tyd. Sy was ’n groot kunstenaar met beperkings.”

Wessels was inderdaad ’n statige en wêreldwyse sopraan, maar aan die ander kant ’n liefdevolle Boerenooi, plat op die aarde en met ’n guitige humorsin.

Almal wat haar geken het, stem saam sy het in haar hart ’n plaasnooi gebly – Cecilia van Kwaggafontein, haar pa se plaas net buite Bloemfontein. ) 

■ Hannes Haasbroek het ’n biografie oor Cecilia Wessels geskryf en is verbonde aan die departement geskiedenis van die Nasionale Museum in Bloemfontein.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.