Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dankbetuiging vir jare se inspirasie en leiding
Charl du Plessis en prof. Japie Human in die Brooklyn-teater, Pretoria, in 2010.

Danksy Johan Cromhout, my destydse klavierdosent in Bloemfontein, is ek in 1994 aan prof. Japie Human voorgestel. Ek was reeds deeglik bewus van die groot gees se invloed in Johan se lewe en wou graag dié unieke energie beleef waarvan talle mense gepraat het.

Nadat ek Bloemfontein in 1995 verlaat het, het ons deur besoeke en briewe vriende geword. Prof. Japie het altyd met belangstelling oor my loopbaan uitgevra. In 1999 het ek my moed bymekaar geskraap en hom vir lesse gevra.

As dosent was sy kennis van styl, sy respek vir die partituur en werksetiek met die eerste oogopslag duidelik. Sy sin vir humor en insig in mense het ’n blywende indruk gelaat. Wat ek die langste van hom sal onthou, is sy spel – die eiesoortige klank en sjarme van sy verwerkings het my geïnspireer om dieselfde te doen.

Die nederigheid waarin al sy werk getooi was, het gespreek van ’n ware musikus wat as showman in diens van musiek opgetree het.

Elke besoek by prof. Japie was gevul met humor en gesprekke oor opnames, interpretasies, en natuurlik ’n impromptu-uitvoering deur hom.

Hy het my dikwels gevra om vir hom te speel. Wat ’n voorreg om op sy wonderlike Feurich-vleuelklavier te kon speel.

Die hoogtepunt van die besoeke was altyd tee en iets heerliks om te eet. Ek het my verwonder aan die roetine en gewoontes van daardie huishouding, asof tyd nie bestaan het nie, en waar ek aan die voete van ’n groot leermeester kom sit het.

Sy uitvoerings van sy verwerking is op talle CD’s vasgelê en was jare lank ’n deel van my musiekdieet. Sy improvisatoriese vermoëns kon elemente van Art Tatum tot Ravel insluit en die harmoniese rykdom van sy interpretasies het gespreek van ’n ongeëwenaarde onderliggende kennis en kreatiwiteit.

Prof. Japie Human was vir my ’n ikoon en het bewys ’n loopbaan in ernstige en gewilde musiek naas mekaar is moontlik. Dikwels wanneer ek twyfel waar ek inpas en die puriste in albei kampe my nie as deel van die groep beskou nie, dan dink ek aan prof. Japie en sy deursettingsvermoë.

In 2010 het ek besef geen van prof. Japie se opnames is in die handel verkrygbaar nie. Ek het toe ’n projek aangepak om van sy mees geliefde opnames op ’n dubbel-CD te plaas en as Piano Kaleidoscope te verkoop.

Dit was my dankbetuiging aan prof. Japie vir jare se inspirasie en leiding. Salon Music versprei die CD met van sy bekendste verwerkings en klassieke werke.

Ek het hom dieselfde jaar oorreed om terug te keer na die verhoog en het ’n uitverkoopte konsert in Pretoria aangebied. Hy het solo’s gespeel en duette saam met my en die violis Zanta Hofmeyr. Dit was sy laaste openbare optrede.

My nuutste CD, Gershwin Songbook, wat ’n maand gelede verskyn het, het ek aan hom opgedra. Verlede week het ek hom twee keer besoek en hom sy naam op die CD-omslag gewys. Sy oë was vol trane. Ek het hom die laaste keer gegroet.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.