Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Derde Afrikaanse fees in 2016 in Amsterdam
Carina Claassens

Die derde Festival voor het Afrikaans sal in April volgende jaar in Nederland aangebied word.

Die eerste twee feeste is met groot sukses in onderskeidelik 2011 in die Tropen-teater in Amsterdam en in 2013 in De Melkweg in dié stad en in die Theater aan het Spui in Den Haag aangebied.

Bekende kunstenaars soos ­David Kramer, Gert Vlok Nel, Amanda Strydom, Antjie Krog, Ronelda Kamfer, Marita van der Vyver, Etienne van Heerden, Jack Parow en Emo Adams het al op die fees opgetree.

Dié keer sal die fees in die Compagnietheater in Amsterdam aangebied word, en soos met die vorige fees sal musiekkonserte saans in De Melkweg aangebied word. Die musiekkanaal MK is weer betrokke.

’n Nuwe stigting, ook genaamd Festival voor het Afrikaans, is op die been gebring, en die nuwe voorsitter is Carina Claassens (33), ’n Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar en ontwerper wat die afgelope tien jaar in Nederland woon.

Sy was betrokke by die stigting van die fees en was in 2011 en 2013 onder meer verantwoordelik vir die ontwerp van die feeslogo en programboek.

Sy vervang die Nederlander ­Joris Cornelissen wat met die eerste twee feeste aan die stuur was. Cornelissen moes weens ander verpligtinge as feesdirekteur aftree, maar hy sal steeds in ’n raadgewende hoedanigheid by die fees betrokke wees.

Claassen verduidelik die skuif terug na Amsterdam soos volg:

“Die meeste van ons feesgangers, waarvan ’n persentasie Suid-Afrikaners is, is in Amsterdam en om logistieke redes is dit beter om die fees in een stad te hou.”

Gideon van Eeden

Saam met Claassens op die direksie van die stigting is die Suid-Afrikaanse dramaturg en akteur Gideon van Eeden (sekretaris), wat in Nederland as vryskut-reklamerolprentmaker werk, en die Nederlander Ralph Zegwaard (tesourier).

Claassens sê sy ken Van Eeden, die skrywer van toneelstukke soos Steriel en Boetman is ­bedonnit 1 en 2, al van hul studentedae af.

“Hy is ’n uiters gedrewe mens en het met sy teaterstukke na al die feeste in Suid-Afrika getoer en in die proses met baie groot geeste in die bedryf gewerk.

“Sy werk hier in Nederland as rolprentmaker vir reklame- en kommunikasiedoeleindes bied ons natuurlik ook ’n bykomende bron van kennis en ervaring. Ek geniet sy humor en sy vermoë om uit die boks te dink.”

Van Eeden sal verantwoordelik wees vir die rolprent- en toneelkomponent van die fees.

Hy is dankbaar om weer konstruktief by Afrikaans betrokke te wees.

“Die enorme potensiaal van dié onderneming motiveer my intens. Dit voel asof ek weer tuis is,” sê Van Eeden.

Die drietal sal met die reëlings bygestaan word deur ’n uitvoerende komitee.

Luidens ’n persverklaring sal die 2016-fees weer ’n veelsydige program met gevestigde en opwindende nuwe talent bied.

’n Verskeidenheid musiek, literatuur, rolprente, toneelproduksies, kabaret en gedigte is weer op die program en ’n feesprys vir die beste rolprent sal vir die eerste keer oorhandig word.

Die feesdatums en deelnemende kunstenaars sal later bekend gemaak word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.