Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dié albums vanjaar besonders

 Ou bekendes het vanjaar nuwe albums ­uitgereik wat ’n mens laat juig het dat hulle steeds op die ­musiektoneel is.

Boaan baie se vreugdeslys is seker die jongste album van Laurika Rauch, Wals, wals Willemien.

Dit is ’n besonderse album wat in die pas is met waar sy in haar loopbaan staan en een vol ­rypheid en lewenswysheid.

Jannie du Toit het met die ­musiek van Koos du Plessis ­gewys dat nie hy óf Koos Doep van plan is om gou stil te raak nie. Die album Doep is nie dood nie het as aanbieding op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees begin en is later as ­album uitgereik.

Dit is veral die verwerkings wat jou weer en weer daarna laat luister.

Die jaar het egter met ’n verrassing uit Amerika begin. Ashton Nyte het sy eerste Afrikaanse album, Moederland, die lig laat sien.

Dit was veral die lied ­“Lucas” wat hy saam met ­Karin Hougaard sing, wat ­indruk gemaak het.

Die groep Kaleidoskoop het vanjaar ’n album en DVD met akoestiese liedjies van ander kunstenaars die lig laat sien op Acoustic Covers. Saam met die groep se vorige album Vars uitgekerf, is dit steeds gereeld op die uwe se draaitafel.

Beeskraal het ’n mens behoor­lik laat huppel met Kronkelpad, ’n album wat die groep self as Magaliesberg­musiek beskryf. Dit is nou die Afrikaans vir Appalachian mountain music – net lekkerder omdat dit uit eie ­bodem kom. Net twee liedjies op die album is nie oorspronklik deur die Beeskraal-manne geskryf nie.

Die terugkeer van Dozi na sy wortels met die album Hande vol genade is ook een van die klein genades van die jaar.

Twee vroue wat ’n mens ­behoorlik laat hande klap en voete stamp het, is Liela Groenwald met haar album Horison en Marlise Scheepers se ’n Beige Ford Cortina.

Groenewald het in haar eie hart, ondervindings en gevoelens gaan grawe vir die ­mu­siek en lirieke, maar alles is toeganklik vir almal. Scheepers is ’n woordsmid soos min met ’n stem wat jou die “gebod” dat jy nie jou buurvrou se stem mag begeer nie, laat oortree.

Gert Koevert se album Op Pad het ’n mens laat nadink oor afdraaipaaie, stilhouplekke en lewensreise in die ­algemeen.

Hy het ook ’n ­besonder aangename stem wat ’n mens rustig stem in hierdie gekke tyd van die jaar.

Nóg ’n stukke plesier is Gian Groen se album Dekades se ballades.

Dit is nie bloot ’n album waarop hy sy beste liedjies saamgegooi het nie. Insig is duidelik uit die herverpakking van bekendes en die bekendstelling van nuwe liedjies.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.