Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Jeugorkes vier sy halfeeu op hoë noot

Nasionale Jeugorkes 50 / Osmo Vänskä

Regina Mundi-kerk, Soweto

Vyftig jaar is ’n unieke mylpaal vir ’n individu en selfs nog meer so vir ’n organisasie. Dit is waarom die idealisme, deursettingsvermoë en veral artistieke visie van honderde onderwysers en musici wat oor dié tydperk by die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes betrokke was, lof verdien.

’n Mens wens so dat die grondleggers van die orkes dié middag in die Regina Mundi-kerk kon bywoon. Dit sê iets van die verworwe stand van musiekonderrig in Suid-Afrika dat die Sanjo ’n werk soos Strawinski se Le Sacre du Printemps (Ritus van die Lente) so uiters briljant kon uitvoer. Die ander ster in dié firmament van voortreflikheid was die Finse dirigent Osmo Vänskä.

Hy en die orkes se artistieke bestuur het ’n program saamgestel wat chronologies gewissel het van Wagner se Meistersinger-voorspel (1863) tot by ’n rap-ouverture met die titel “Dubyo”, gekomponeer deur Amy Crankshaw en Methenjwa Machi – lede van die NJO se jong komponisteprojek 2013/14 – bygestaan deur Pieter Bezuidenhout en Johan van Rooyen.

Dit was die Strawinski-uitvoering wat egter ’n heroïese daad van enorme omvang en seggingskrag was. Terwyl ’n professionele orkes dit in die 1980s met soliede note-opbou en -uitdrukking in die Johannesburgse stadsaal laat opklink het, was dié uitvoering deur die NJO een wat deur enorme waagmoed in kombinasie van skerp omlyning ingestudeer en volvoer is. Die gees van primitiewe drifte wat die werk as geheel karakteriseer, is met genadelose felheid hanteer en as stompe in die maag ervaar.

Alle orkesseksies het fantastiese prestasies behaal onder Vänskä se immer wakende oë en ore, met die aandeel van die pouke en koperblasers besonder akkuraat in die Cortège du Sage, terwyl die Dance sacrale verbluf het omdat hy in oomblikke van die grootste instrumentale gewelddadigheid tog ’n ritmiese veerkragtigheid en deursigtigheid in die spel behou het.

In totale teenstelling hiermee was Barber se Adagio vir strykers soos ’n studie in graadwisselinge rondom diep deurleefde kalmte, met die enkele opbouende klimaks uiters treffend deurdink en volvoer.

Dit was die enigste van die vyf uitgevoerde werke waarvoor die kerk se resonante akoestiek bevorderlik was.

Verdi se “Groot Mars” uit sy opera Aïda het in Vänskä se interpretasie skaars soos ’n krygslustige mars geklink, maar was eerder ’n lewendige klankuitbeelding van ’n toondig waarin uitsonderlike klank-, asook kleurvermengings en -ewewig ter sprake gekom het.

Ten slotte het Vänskä ’n belangrike boodskap verbaal aan die gehoor oorgedra: “Julle moet dié orkes voed en koester.”

Julle moet dié orkes voed en koester.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.