Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
NUWE SA KOMPOSISIE
Jong Kaapse komponis maak opgang
Skep ook balletmusiek
Die lewe en werk van oudpres. Nelson Mandela word gedenk in die komposisie Long Walk, deur ’n jong Kaapse komponis wat deesdae in Brittanje opgang maak. Willem de Vries het met Laura Stevens gesels.
Die Kaapstadse komponis Laura Stevens. Foto: Verskaf

’n Nuwe Suid-Afrikaanse komposisie is op die program van die Kaapstadse Filhar­moniese Orkes se winterreeks volgende maand.

Die komponis van dié werk, Long Walk, is Laura Stevens (29), ’n Kapenaar wat tans in Brittanje opgang maak.

Benewens die Suid-Afrikaanse première op 4 Junie in die Kaapstadse stadsaal skryf sy die musiek vir ’n produksie van die English National Ballet wat in ­Sadler’s Wells in Londen opgevoer gaan word.

Stevens het aan die Universiteit van Kaapstad se Suid-Afrikaanse Musiekkollege en Royal College of Music in Londen gegradueer. Van haar werk is al uitgevoer op die Edinburg-fees, in The Globe Theatre, St. Martin’s in the Fields, die National Gallery en National Portrait Gallery.

Long Walk is geskep as ­opdragwerk vir die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie se mentorskapsprogram vir jong komponiste wat hul op orkesmusiek toespits.

Benewens die balletmusiek werk sy ook aan toonsettings van nuwe kunsliedere vir haar suster, die sopraan ­Victoria Stevens. Sy is vir die Weimar-opera-ateljee se jongkunstenaarsprogram gekies.

Laura Stevens het onlangs ’n partituur vir ’n Switserse rolprent voltooi wat tans in bioskope gewys word en in Switserland en Duitsland op televisie uitgesaai is.

Die première van Long Walk is ’n hoogtepunt, asook die opdragwerk vir die Engelse Nasionale Ballet. “So ook was die eerste uitsending van iets op die BBC waarvoor ek die musiek geskryf het – ’n kort maar werklik pragtig vervaardigde stopraam-animasie wat vir hul kunste­kanaal gekies is. Dit was oorspronklik opdragwerk vir die Royal Shakespeare Company en is losweg op die toneelstuk The Tempest gegrond.”

Wat haar opleiding as komponis betref, sê sy is sy “baie verskuldig aan dosente soos Peter Klatzow; Allan ­Stephen­son en Joseph Horovitz, asook Alison Kay by die Royal College of Music in Londen, maar ek dink die proses waarvolgens ’n mens jou stem vind kom nie ­maklik of vinnig nie”.

Wat betref orkestrasie­tegniek leef sy in die skaduwee van Ravel, sê sy.

“Hy is vir my die onbestrede meester. Wat komposisie betref, het ek ’n aantal bronne waaruit ek inspirasie put, van ­tydgenote tot die groot name van ‘ou’ en ‘nuwe’ klassieke musiek. Ek is lief vir bykans enigiets Frans of Russies, ­ongeag die tydperk, asook ’n diepgewortelde verwantskap met Engelse musiek vanweë my Britse erfenis en ’n ­blywende liefde vir die multikulturele Suid-Afrikaanse musiektradisie.”

Sy ag die uitdagings in filmmusiek as “anders, maar gelykstaande” daaraan.

“Die skep van ’n herken­bare, eienbare klank terwyl jy ’n visuele narratief bedien, bied opnuut struikelblokke, maar eindelik is dit ’n aan­gename toets van volharding en vaardigheid, asook sosiale vaardighede!”

Jong komponiste het die voorreg van ’n kultureel ­diverse en verkennende postmoderne tydperk met volop geleenthede om te vernuwe of om net skoonheid te skep in vars maar bekende vorms, meen sy. Die feit dat sy ook ’n op­geleide pians en tjellis is, “versterk ’n mens se vernuf en begrip van die vermoë van die instrumente waarvoor jy skryf.” Die ware maatstaf van ’n stuk se sukses, sê sy, is om te hoor wat ander musici daarmee doen.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.