Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Komponis van besonderse juwele in Afrikaans sterf
Pieter de Villiers (1924-2015)

Die komponis, konsertpianis en musiekpedagoog Pieter de Villiers is Maandag op 90 in ’n versorgingsoord in Stellenbosch oorlede.

Hy word oorleef deur sy vrou Eleanore, hul dogters Anna, Hanlie en Eleanore en vyf kinders uit sy vrou se eerste huwelik.

De Villiers sal veral onthou word as komponis van besonderse juwele in die Afrikaanse liedereskat, soos sy toonsettings van Boerneefgedigte soos “Die berggans het ’n veer laat val’’ en “Aandblom is ’n wit blom’’.

Benewens die Sewe Boerneefliedjies (1960-’61), sy eerste en bekendste komposisie, het hy onder meer ook sewe ander Boerneefsiklusse gekomponeer, asook ’n siklus van gedigte van D.J. Opperman (onder meer “Namakwaland’’) en verskeie koorwerke.

De Villiers is op 19 Junie 1924 in Klerksdorp gebore.

Sy ouers was albei amateur-musici – sy pa ’n violis wat dikwels deur die jong Pieter begelei moes word as sy ma nie byderhand was nie.

Hy is in 1942 na die Universiteit van Pretoria om medies te studeer, maar staak sy studie ná ’n jaar en doen van 1943 tot 1945 ’n BA in klassieke tale aan dié universiteit.

Hy is in 1946 na Stellenbosch waar hy les neem by die legendariese prof. Maria Fismer, ­Elise Lubbe en Walter Swanson en ná twee jaar in 1948 as musiekonderwyser kwalifiseer.

Daarna was hy ses jaar lank ’n klavierdosent op Stellenbosch.

Hy is in 1954 aangestel as ’n dosent aan die musiekdepartement van die Potchefstroomse Universiteit.

In 1962 het hy ’n draai gemaak by die SAUK se transkripsiediens, waarna hy van 1963 tot 1967 ’n senior lektor in orrel, klavier en klavesimbel aan Tukkies was.

In 1968 het hy ’n professoraat in musiek aan die Potchefstroomse Universiteit aanvaar, waar hy tot sy aftrede in 1984 gewerk het.

Hy is in 1985 na Stellenbosch waar hy tot met sy dood gewoon het.

De Villiers het as solokonsertpianis etlike uitvoerings op die klavier en klaversimbel gegee en was die begeleier van vooraanstaande Suid-Afrikaanse sangers soos Cecilia Wessels, Betsy de la Porte, Joyce Barker, Mimi Coertse (hulle het ook verskeie plate saam gemaak), Sari Lamprecht, Hanli van Niekerk, Werner Nel, die Britse violis Ivy Angove en Duitse tjellis Eugenie Premy­slav.

De Villiers het ook as koorleier bekendheid verwerf. Hy het onder meer die Stellenbosse Kweekskoolkoor, verskeie Potchefstroomse kore en die Sangluskoor (die voorloper van die Kamerkoor) van die SAUK gedirigeer.

Met die Sangluskoor was hy grootliks verantwoordelik vir die radio-opnames van al die Psalms en Gesange in die eerste Afrikaanse Gesangbundel (1944-uitgawe).

Dié taak is ná sewe jaar in 1969 voltooi.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.