Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Megan-Geoffrey Prins laat klavier se vonke spat
Megan-Geoffrey Prins

Megan-Geoffrey Prins, klavier

Miriam Makeba-konsertsaal, Unisa, Pretoria

Prins ryg pryse vir sy klavierspel op ’n wye vlak in. Vanweë uitstekende onderrig wat hy sedert sy volwassewording ontvang het (hy is nou 25), het dié program alle moontlikhede gebied om met sy suiwer pianistiese vermoë én potensiaal tot diepdelwende interpretasies kennis te maak.

Alle note was reeds daar, maar vanselfsprekend is dít alleen nooit genoeg nie.

Prins het baie dikwels daarin geslaag om die vonke rondom sy spel na die gehoor te laat oorslaan.

Dit word nie aldag by pianiste van twee keer sy ouderdom ervaar nie.

Beethoven se omvangryke Sonate no. 4 in E-mol, opus 7, is ’n vroeë werk waarin hy diep in sy eie siel begin delf het en sterk uitdrukking daaraan gegee het deur die kanale wat die klavier bied. Prins het dié “Grande sonata” nie soos veredelde huismusiek laat klink nie, maar reeds die latere Beethoven vooruitgeloop.

Hy het juis in die Largo briljant daarin geslaag nadat hy reeds in die voorafgaande openings-Allegro beïndruk het met sy strukturering van alle “los” fragmente.

In sy spel het die linkerhand, dikwels by Beethoven so interessant, net soveel aandag gekry as die diskant.

Dit het aan die sjarmante latere Allegro en uiteindelik ook die Rondo-finale ’n natuurlikheid verleen.

Prins het jou laat vergeet van die werk se soms selfbewuste struktuur en dit eerder met ’n subtiele insig daaromheen laat gedy.

Chopin se Ballade no. 3 in A mol, opus 47, is gekenmerk deur ’n struktureel logiese ontvouing in sy spel.

Die intensiteit van rubato’s was nooit oordrewe nie, terwyl hy die kuns verstaan om van die dromerige onderdele nooit iets slaapverwekkends te maak nie.

In die opbouing tot meer stormagtige passasies is sy greep ferm en neig hy geensins om grofheid na vore te bring nie. Detail is, soos by ’n diamantslyper wat sy werk ken, totaal behou.

“Scarbo” uit Ravel se Gaspard de la nuit bly een van die grootste tegniese-musikale uitdagings vir enige pianis, al is jou naam ook Martha Argerich.

Veral dié slotdeel, wat ’n nagkobold (of -kabouter) uitbeeld, verleen mitiese proporsies aan ’n stuk wat Ravel wou skryf met ’n moeilikheidsgraad wat dié van Balakiref se Islamey sou oortref.

Prins het die hektiese bedrewenheid van die stuk perfek weergegee, maar meer verstommend was die suggestie waarin veral die spronge van die kabouter bykans realisties binne die klassieke raamwerk as geheel gestalte kon kry. ’n Minder droë akoestiek en dus meer ruimte vir klank om in te beweeg as dié wat die Miriam Makeba-saal bied, sou die skerpheid van die uitvoering verder ondersteun het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.