Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Oor ou idees en musiek sonder ego’s
Piet Botha kou en herkou sy gedagtes voordat hy dit in woorde met jou deel. Sy stem is grof en hy vryf so elke nou en dan, half onbewustelik, sy lang grys hare terug agter sy ore, ’n mengelmoes van lig en donker, baie soos die man self. Rozanne Els vertel.
Vir die eerste musiekvertoning waarvoor hy betaal is, sowat 40 jaar gelede, het Piet Botha ’n volle R20 gekry. Foto’s: Edrea du Toit
Piet Botha. Musiek moet eg en opreg wees, meen hy. Foto: Edrea du Toit
Om op die verhoog musiek te maak is vir hom die lekkerste deel van musikant-wees, vertel Piet Botha.

Hy maak seker al sowat 40 jaar musiek, sê hy, hand op die ken.

Altans, dis seker 40 jaar sedert sy eerste paying gig. ’n Hele R20 daarvoor gekry. En vir ’n student was dit baie. “Jy kon sigarette koop, petrol ingooi en ’n hamburger gaan eet.”

Maar nee, hy het nie heimwee nie.

“Dit was ’n moeilike tyd met politiek in die land en jissie, as jy lang hare gehad het en in ’n band gespeel het . . . joe, die Boere wou jou uithaal,” grinnik hy.

Hy mis wel die invloed wat musiek in daai tyd gehad het. “Die goeie musiek het van oral af ingekom en hier ná die 1980’s raak alles gek.”

Disko en glamrock? Nee wat.

Blues is en was nog altyd sy voorkeur, ’n passie wat hy in vele gedaantes uitgeleef het.

Eers was dit as deel van Jack Hammer, ander kere hy manalleen, en so ’n paar jaar gelede begin hy en Akkedis The Lyzyrd Kyngs.

Blues leef in Suid-Afrika. Dit skeel hom min dat die hoofstroom heeltemal anderkant die baan is.

’n Mens kry die idee hy hou daarvan om deel van die underground te wees. Om net te kan speel om te speel. Hy is nie ’n man om ’n hoe-ha te maak nie.

“Jissie, ek hou daarvan om met verskillende musikante te speel en hoe langer jy ouens ken, hoe lekkerder is dit. Jy wéét as jy saam met daai ou speel, gaan dit lekker wees.”

Die “lekker” sê hy met diep bedoeling.

Om met ander mense te speel, is ook hoe hy die kitaar baasgeraak het.

“Soek ouens wat baie beter as jy is en só leer jy régtig speel.”

Dit was by Tukkies, in die tyd wat studente nog dasse klas toe gedra het en hy die regte aangedurf het, dat hy regtig van musiek bewus geword het.


Daar is tameletjies in die bedryf wat hom pla. Radio wat die “vyand” van musiek geword het. Elke tweede ou met ’n videokamera wat ’n musiekvideo op TV kan sit. Hy staan verstom daaroor, maar het besluit om nie meer daarmee betrokke te wees nie. Sy liefde lê in die toorkuns wat op die verhoog geskep word. Die energie wat deur hom borrel.

“Toe het ek in kroeë begin speel saam met ander dudes en spliff rook en toe dink ek dié is mos ’n baie beter job as om in die hof te gaan staan met ’n toga aan met die Romeins-Hollandse k*k.”

Die blues kry toe sy houvas op hom.

“ ’n Mens onderskat die invloed en krag van musiek.

“In die 1960’s en ’70’s was rock amper ’n movement teen die ­system en nou is dit, ja . . . wel, die wêreld het net heeltemal gek geraak, nou is alles gekommersialiseer.”

Hy’s teleurgesteld. “Musiek moet eg en opreg wees. Dit is wat dit veronderstel is om te wees.” Hy vryf sy ken en sy kop gaan iewers ver, dalk die verlede in, dalk die toekoms, maar dan is hy weer in die hede.

“Inspirasie,” sê hy, “kom van goed wat jy sien en goed wat gebeur.”

Hy vertel dan hoe hy eers gedink het Leonard Cohen se 2012-album, Old Ideas, is ’n neerdrukkende affêre.

“Vandat ek kan onthou as ’n laaitie, jy hoor iets en jy is nie seker wat dit is nie en dan ewe skielik gaan alles oop vir jou.

“Toe besef ek watter geniale kunstenaar Cohen is met die eenvoud wat hy gebruik om ongelooflike musiek te maak.”


Versteekte geheime

Sy helde is die “ou dudes. Willie Nelson. Leonard en Neil ­Young”.

Maar hoewel daar deesdae veel meer musikante op die toneel is, is daar iets noodsaakliks wat skort.

“Hulle speel ’n ding stukkend, maar waar is die songs? Waar is die songs? Waar kry jy die diamante? Musiek is soms soos versteekte geheime.”

Daar is tameletjies in die bedryf wat hom pla. Radio wat die “vyand” van musiek geword het. Elke tweede ou met ’n videokamera wat ’n musiekvideo op TV kan sit. Hy staan verstom daaroor, maar het besluit om nie meer daarmee betrokke te wees nie.

Sy liefde lê in die toorkuns wat op die verhoog geskep word. Die energie wat deur hom borrel.

“Dis ál wat ek oor gaande is, om live te speel.”

En as dit saam met Akkedis is, nog beter.

“Dis die beauty met The ­Lyzyrd Kyngs, daar’s nie ego’s of niks nie. Elke ou wil net sy beste doen. Almal speel vir dieselfde doel.”

Vir hom is dít die essensie van “die hele ding. Dis die eerlikste deel van musiek”.


Sinergie

Op sy en Akkedis se jongste album, A Few Grains of Sand, skemer ’n pragtige sinergie deur.

Dis van al die toer, al die laataande en al die tye saam op die verhoog dat die album so spesiaal is, sê hy.

“Ons moet die heeltyd werk. Ons is nie ’n popgroep nie, maar dit tel baie in jou guns as ’n band aanhoudend speel. Dit raak later fantasties, tight.”

Dít is wat deurskemer op die album. Dat hulle nie iets anders ken nie. Dat musiek deur hul are vloei.

Die 11 liedjies is 11 korreltjies sand, sê Piet. “Dít is wat ons het.”

Hy’s nou oud, sê hy later. “Dit was ’n stryd, maar is nou nie meer geworrie nie. Ek sien die ouens is deesdae baie bekommerd oor publisiteit en roem, maar baie van dit is opgesmuk. Ek soek nie daai valsheid in ’n mens nie.”

Vir hom is die mooiste, die beste deel van sy loopbaan wanneer hy op die verhoog klim en die band net gel.

Al wat hom ontstel, is die “monster waarteen jy baklei. Die system”.

“Ek’s eintlik maar net ’n fool. Ek is gelukkig dat ek kon musiek maak in my lewe.”

Hy gee ’n veeg oor sy voorkop, vat nog ’n sluk bier.

“Net baie gelukkig om dit te kon doen.”

  • Piet Botha en Akkedis speel by die gewilde Table Mountain Blues Summit wat 6 en 7 Desember by Hillcrest Quarry in Durbanville gehou word. Onder die ander kunstenaars tel Dan Patlansky en Die Blues Broers. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.