Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Orkes, soliste absoluut skitterend
Simfoniekonsert

Vrystaat-simfonieorkes.

Soliste: Farida Bacharova, Samson Diamond (viool)

Dirigent: Alex Fokkens

Odeion

DIÉ uitvoering is die soort waarna musici in elke konsert streef. Alles het in plek geval, maar daar was meer, want die muse was ook bedrywig. Sy het gehelp om hiervan ’n magiese ervaring te maak wat aan die genot en geesdrif in die gehoor meetbaar was.

Die selfvertroue waarmee die orkes in die dramatiese ouverture van Mozart se La Clemenza di Tito begin het, het die gehoor met verwagting gevul. Hulle is nie teleurgestel nie; inteendeel, dit het al hoe beter geraak.

Die soliste Samson Diamond en Farida Bacharova (violiste) het die gehoor in Mozart se Concertone in C majeur vir twee Viole en Orkes, K.190 met musikale integriteit ingetrek.

Die balans tussen die twee viole en hul intonasie was puik, maar dit is die diepte van vertolking, veral in die uitdrukkingvolle stadige deel met sy pragmelodie, wat ’n mens sal bybly.

Vuurwerk het hierna in Pablo de Sarasate se Navarra vir twee Viole en Orkes gevolg. Vuurwerk uitgevoer met flair en die fynste, netjiesste afronding. Vrolike Spaanse dansritmes het moeiteloos uit Diamond en Bacharova se snare gehuppel en hoe meer die werk versnel het, hoe meer het hulle dit geniet.

Die gehoor was borrelend van plesier en het juigend opgespring.

Diamond en Bacharova is voorwaar uiters bekwame en musikale kunstenaars.

In dié werk speel die hobo ’n prominente rol waarmee Kobus Malan nie ’n tree teruggestaan het vir die soliste nie. Trouens, hy het ook in Beethoven se Eroica uitgeblink met akkurate en sensitiewe spel.

In skerp kontras met dié vrolikheid was Beethoven se Simfonie nr. 3 in E mol majeur, ’n monumentale werk vol dramatiese konflik en hartverskeurende somberheid. Beethoven het gesê die Eroica gaan oor hom, oor sy gevoelens, en nie oor die skryf van ’n simfonie nie.

Dié emosies het inderdaad van die verhoog gespoel – triomf, droefheid, angs, mistroostigheid en eensaamheid.

Om die stamina te hê om dié spektrum van wisselinge vir meer as 50 minute vol te hou is die regte tempo belangrik en dit het die dirigent Alex Fokkens van die begin reggekry.

Sy pas het tot ’n skitterende uitvoering deur die orkes bygedra. Van die dinamiese eerste beweging tot die slotakkoorde het hulle die groot gehoor vasgenael gehou.

In die treurmars (tweede beweging) het die laer strykers se inleiding die gedagte van loodsware voeteval vergestalt terwyl morbiede spanning deur die ganse beweging voelbaar was.

Hiernaas is die derde beweging, Beethoven se eerste ware scherzo, lig en lewendig. En steeds het die spelers genoeg energie gehad om dit akkuraat en skertsend uit te voer. Wat ’n plesier om dit te kon beleef.

Die orkes het hom in die finale oortref met ’n flinkheid en beheersde oorgawe wat dié heroïese werk tot ’n opwindende einde gevoer het.

Bloemfonteiners is bevoorreg om ’n orkes van die gehalte te hê en die rol wat Fokkens in die welslae speel, kan nie onderskat word nie.

Sy verwagtinge was duidelik en al sê ’n mens die muse het kwistig saamgespeel, is dit eintlik net toegewyde, harde werk deur almal op die verhoog wat so ’n standaard en genotvolle aand moontlik maak.

’n Hartlike bravo!

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.