Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rockers gevra om trots te help kweek
Die Heuwels Fantasties.

DIE musiekgroepe Die Heuwels Fantasties, Beeskraal Revival, Saarkie, Klopjag en K2 is met die taak opgesaal om Afrikaanse studente trots op hul taal en erfenis te maak.

AfriForum Jeug en die FAK beplan ’n reeks konserte om Afrikaans “progressief” vorentoe te vat en bewusmaking te wek dat Afrikaans sy regmatige plek by tersiêre instellings verdien, het die FAK-ambassadeur en voorsanger van Beeskraal, Charlie Smidt, gesê.

Die eerste van die musiekkonsert Dubbel en Dwars in Afrikaans vind Donderdag in Bloemfontein plaas en Smidt het die hoop uitgespreek dat soveel moontlik Bloemfonteinse studente na Wiesbaden sal opruk om hul trotse verbintenis met hul taal te toon.

“Ons wil graag die jeug en studente daar probeer kry. Hulle moet verby daardie skuldgevoel begin beweeg. Jy vind dit gereeld dat Afrikaanssprekendes as ’n Afrikaner of ’n boer geëtiketteer word. Ons wil hulle weer trots op hul kultuur en erfenis maak,” het Smidt gesê.

Beeskraal en Klopjag is groepe wat in die jare 2000 groot gewildheid onder jong mense geniet het, veral toe ’n maatskaplik-politieke drang hoogty gevier het om die Afrikaanse kultuur te bewaar.

Namate die drang afgeneem het, het die optredes ook verminder.

Smidt en sy Afrikaanse folkrock-groep, wat destyds as die nuwe beweging vir Afrikaanse klank bestempel is, het vyf jaar gelede laas in die Rosestad opgetree.

Donderdag se optrede begin om 19:00 en kaartjies kos R100.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.