Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Rossini-opera vandeesweek
Sanger se ‘Reis na Reims’
Die bariton Johannes Slabbert, wenner van die nasionale sangkompetisie ATKV-Muziqanto, is eersdaags in die Baxter in die Rossini-opera Il viaggo a Reims. Hy het aan Willem de Vries vertel van sy rolle en planne.
Die bariton Johannes Slabbert, wenner van die ATKV-Muziqanto-kompetisie, vertel van sy rol in Die reis na Reims. Foto: Lerato Maduna

Die Italiaanse komponis Gioachino Antonio Rossini (1792-1868) het die menslike stem so goed verstaan. Hy het geweet jy moet tegnies gesproke 100% korrek sing om dit te kan baasraak.

Só sê die bariton Johannes Slabbert (21), vanjaar die wenner van die nasionale ATKV-Muziqanto-sangkompetisie, oor sy rol in die produksie van Il viaggio a Reims (Die reis na Reims). Die produksie word ­vanaand in die Baxter in ­Rondebosch geopen.

Die produksie, ’n aanpassing van die opera na ’n moderne tydperk, was in 2010 laas op die verhoog en het vol sale getrek. Kaapstad Opera en die Universiteit van Kaapstad se operaskool bied dit weer aan.

Die artistieke span van tóé is opnuut by die produksie betrokke en Kamal Khan weer die dirigent. Van die sangers wat in die koor was in hul eerste jaar destyds, het gevorder tot groter rolle.

Dit is die vierde opera waarin Slabbert saam met die regisseur Matthew Wild werk. Die ander was Don Giovanni, Così fan Tutte en The Rake’s ­Progress.

Die opera handel oor ’n groep B-lys-sterre wat op pad is na ’n kroningsplegtigheid, maar op ’n lughawe op hul vlug wag. ’n Rits liefdesintriges ontknoop komies in musiek.

Slabbert sê sy grootste rol tot dusver was verlede jaar toe hy Figaro in Die barbier van ­Sevilla, ook ’n Rossini-werk, vertolk het. “Dit was ’n ­on­gelooflike ondervinding ­ge­wees. Dit was eintlik maar ’n makliker karakter om te speel as lord Sidney [in Die reis na Reims] .”

Hy is in sy vierde en laaste jaar aan die Universiteit van Kaapstad se operaskool en het vanjaar die Gobbato-Qavane-operabeurs ontvang wat vir hom nagraadse studiemoontlikhede aan die universiteit bied. Die beurs gaan jaarliks aan ’n sanger wat kan toneel speel.

“Iemand wat sy stem en ­akteurwees ten beste vir ’n rol kan gebruik,” sê hy.

In Die pad na Reims sing en vertolk hy (op 27 en 29 September) en Bongani Kubheka om die beurt lord Sidney.

“Hy is ’n Engelsman, baie konserwatief en teruggetrokke, stil. Wil nie sommer uit sy dop kruip nie, maar hy is dolverlief op Corinna [om die beurt deur Linda Nteleza en ­Janel Speelman vertolk]. Tot die punt waar dit ’n bietjie snaaks word.

“Dis ’n soort stryd-om-ruimte-affêre. Sidney is ’n baie ­vreemde karakter. ’n Mens moet mooi dink om te weet wat ­aldag deur sy kop gaan.”

Vergeleke met sy vorige ­Rossini-rol toe hy die komiese kwaliteite van die karakter kon gebruik, is hierdie karakter “baie anders as die barbier” wat hy laas jaar gesing het.

“Die rol vereis baie minder komieklike draaie wat jou sang betref. Dit is meer dramatiese singwerk. Dit vereis ’n heeltemal ander sangtegniek.”

Tevore het hy gesê hy wil hom met die prysgeld van die ATKV-kompetisie toespits op moontlikhede in Europa, vir verdere studies, oudisies en kompetisies.

Dit is alles te danke aan al daardie harde werk.

Die beste sangraad wat hy tot op hede gekry het, is om ­geduldig te wees.

Een van sy ­dosente het dit só gestel: Iemand het vir jou die sleutels vir ’n bloedrooi Ferrari gegee en hy staan in die garage, maar jy mag dit nie ry nie. Jy moet geduldig wees met die tegniese oefeninge. Hoe vroeër jy met te veel begin, hoe korter is die tyd wat jy kan sing.

Vanjaar het baie goed vir hom in plek geval en deure het oopgegaan, sê hy.

“Dit is alles te danke aan al daardie harde werk.”

Iemand vir wie hy ’n hoë ­agting het en na wie hy graag luister is die Amerikaanse ­bariton Sherrill Milnes.

“Ek het weer gisteraand na hom ­geluister. Hy het glad nie moeite gehad om sy note te bereik nie. Dis so egalig en niks klínk moeilik nie.

“Dit is eintlik waarna ’n mens streef.”

■ Ill viaggio a Reims is van 26 tot 30 Augustus in die Baxter in Rondebosch. Bespreek by Compu­ticket.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.