Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Sempre Opera slyp juwele vir die toekoms
Stéphanie-Claire Hanson in die rol van Bastienna en Chris Mostert, wat die rol van Bastien vertolk het.

Bastien & Bastienna (Mozart) – Sempre Opera

NG kerksaal, Villieria, Pretoria


’n Mens moet jou hoed afhaal vir Sempre Opera (SO), ’n dienende operagemeenskap sonder enige deurlopende inkomste, borgskappe, subsidies, laat staan nog enige winsbejag.

Vir hulle is nóg ’n La traviata, Carmen of La Bohème nie so belangrik nie. Hulle het oor die afgelope jare hul eie nis in die operalandskap gevul met produksies op klein skaal wat verfrissend anders is, of met stimulerende programme wat bestaan uit uittreksels oor spesifieke temas.

Dat Mozart se baie vroeë Bastien und Bas­tienna, ’n pasklaar juweeltjie, vir hulle staan en wink het, is geen verrassing nie.

Dit is ook ’n ideale voertuig vir een van SO se primêre artistieke beginsels: om jong sangers binne ’n teaterambiance op te lei, waar sangers met verhoogervaring ’n ­sinergie vorm met en leiding gee aan húlle wat later ’n loopbaan in dié rigting wil uitkerf.

In die Engelse weergawe op ’n teks van Hamilton Benz wat SO gekies het, word die opera dus in dié (vir Suid-Afrikaners) verstaanbare taal gesing. Dit bied ook eiesoortige uitdagings aan jong en ouer sangers vir wie Duitse en Italiaanse operawerk tweede natuur is.

Bastien & Bastienna is volledig opgevoer, behalwe vir die feit dat Mozart destyds die ­secco-resitatiewe half voltooid gelaat het.

Ek was gelukkig om in die 1970’s ’n Oostenrykse uitvoering daarvan te ervaar waar die dirigent Leopold Hager self dié resitatiewe gerekonstrueer en voltooi het.

Dit het aan dié miniatuur­opera ietwat meer lyf verleen.

Pluspunte in SO se benadering was Deirdré Blignaut Rautenbach se regie, met die hulp van Danie Verster as assistent en raadgewer. Dit het die kinderlike gegewe plek-plek van ietwat meer “volwasse” humor voorsien.

Die regieplan was stewig en oortuigend – iets wat slegs ­momenteel deur effense selfbewustheid deur van die sangers bederf is.

Allyn Nienaber het die vroulike naamrol voortreflik gevul, met ’n aandoenlike suiwerheid gesing en die Mozart-styl reeds duidelik te midde van die opvallende kernaspekte daarvan deurgrond.

In dié stukkie Mozart-light is daar telkens ’n momentele
voorafskaduwing van die teatergenie wat hy later sou word.

Stéphanie-Clair Hansen, as die karakter in Bastienna 1 se droom was verdiens­telik in die kort momente wat sy op die verhoog was.

Chris Mostert as Bastien het hom gou reggeruk ná ’n aanvanklik ietwat valerige intrede.

Bastien is duidelik ‘n karakter met ’n inherente ongemak in sy omgang met die teenoorgestelde geslag, maar juis daardie aspek is later met steeds groter kleurrykheid oorgedra.

Rex Nigrini het van die klein rol van die dorpstowenaar Colas iets kosteliks gemaak, terwyl hy vokaal weer op sy beste is ná sy onlangse ongesteldheid tydens BigWig Opera se L’elisir ­d’amore.

Groot lof kom Schalk van der Merwe toe vir sy vermoë om dié opera met geesdrif te lei.

Ook sy SO Instrumentale Ensemble het sedert vorige optredes in hegtheid gegroei.

Dít en die dirigent se aanvoeling vir sangers se spesifieke ­vokale behoeftes, maak van hom iemand wat moontlik voluit vir die operateater bestem is. Tyd sal leer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.