Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Swakop bied musiektuiste vir almal
Jonk en oud, beginner en gevorderd neem jaarliks deel aan die somermusiekskool met ’n internasionale profiel
Die Swakopmundse Musiekweek in Namibië is ’n unieke jaarlikse somerskool vir jonk en oud. Elretha Britz het dit bygewoon en vertel meer van die geleentheid wat vanjaar ’n halfeeu oud is.
Die hooforkes met Alex Fokkens as dirigent en Denise Sutton as konsertmeester op die afsluitingsaand van die musiekweek in Swakopmund. Dit is tradisie vir die spelers om vreemde hoede op te sit wanneer ’n werk van Johann Strauss gespeel word. V
Christiane Berker, hoof van die musiekweek, staan twee maande vrywillig af om die geleentheid te organiseer.
Leerlinge van ’n musiekskool in Tsumeb is uitgevat vir hul konsert.

In die sjarmante Namibiese kusdorp Swakopmund lok ’n unieke somerskool elke jaar van heinde en ver mense met ’n passie vir saam musiekmaak.

Tien dae lank in Desember wemel die middedorp met sy sterk Duitse karakter van T-hemde wat die Swakopmunder Musikwoche verkondig, en uit die tydelike tuiste in ’n skool aan die seefront begroet ’n duisternis klanke jou. In elke klaskamer is musici aan die oefen.

’n Meer idilliese omgewing as die dorp met die woestyn in sy agterplaas en die see op sy voorstoep, kan jy jou skaars indink, maar dit is die uniekheid van die Musikwoche (musiekweek) wat die sterkste tref.

Christiane Berker, ’n Swakopmunder en sedert 2009 die uitvoerende hoof van die Musikwoche, sê die uitsonderlikheid van die somerskool lê in deelname deur musici van enige vaardigheidsvlak en enige ouderdom.

Al is die Musikwoche vanjaar reeds ’n halfeeu aan die gang, was dit betreklik onbekend totdat Berker dit met tipiese Duitse doeltreffendheid onder hande geneem het.

Sy het ’n webwerf geskep en aanlyn-registrasie ingestel, die voertaal van Duits na Engels verander, dit internasionaal oopgestel en die peil van onderrig en uitvoering ’n hele paar kerwe laat lig. Dit het sy vermag deur haar met die beste artistieke leiers te omring, leiers met dryfkrag wat ’n kakofonie in die eerste repetisie binne ’n week tot ’n wonderwerk-uitvoering kan afrond.

Alex Fokkens, artistieke direkteur van die Vrystaatse Simfonieorkes, is in 2010 as artistieke direkteur van die Musikwoche aangestel, wat grootliks bygedra het tot die verhoogde standaarde.

Deelnemers het van 110 in 2009 tot 280 verlede jaar gestyg, en die 30 lektore op die afgelope byeenkoms sluit Amerikaanse, Duitse, Suid-Afrikaanse en Namibiese kundiges in.

Die deelnemers is ingedeel in ’n junior orkes, blaas-, jazz- en hooforkes, ’n blokfluitgroep en ’n koor van 120 lede.

Vyf konserte word in die loop van 10 dae gehou wat ’n hoogtepunt op Swakopmund se kultuurkalender is.

Die konsertreeks begin met die lektore wat verskillende ensemble-kombinasies vorm vir ’n konsert met ’n sterk vermaak-element. Rossini se Katteduet, verlede jaar ge-miaau deur die violis Hendi Krog en Alex Fokkens in die gedaante van ’n sopraan, was ’n treffer. Nabootsings van Stevie Wonder en Elton John, ’n tjello-en-kontrabasduet en ’n jazz-groep met die bekende Amerikaanse saxofoonspeler Steve Meier het groot toejuiging uitgelok.

Die tweede konsert was ’n blaas- en jazz-geleentheid in die amfiteater met die bekende vuurtoring wat op die agtergrond wag gehou het.

Omdat pret ’n verpligte deel van die musiekskool is, word die buitelugkonsert elke jaar gevolg deur ’n skemerkelkbesoek aan die Namib se rooi duine.

Die orkesspelers kry in die derde optrede kans om hul vaardighede in groepies uit te stal. Dit is ook die aand waarop die junior orkes sy slag wys en min dinge is so deerniswekkend soos ’n orkes vol bloedjong musici, om nie te praat van die puik harpspelertjies wat talle harte vermurwe het nie.

Die Musikwoche sluit die afgelope paar jaar af met twee uitvoerings deur die koor en die blaas-, jazz- en hooforkes.

Berker sê dié konsert is so gewild dat kaartjies meer as ’n week voor die tyd uitverkoop is, ’n uitsonderlike verskynsel in Namibië.

 Die Swakopmunder Musikwoche vier vanjaar sy halfeeu.

 Verlede jaar was die oudste Musik-woche-deelnemer ’n sanger van 83 jaar en die jongste ’n sesjarige tjellis.

 Drie Bloemfonteiners was in Desember betrokke – Danré en Cézarre Strydom en die uwe. Danré was ’n lektor en Cézarre het as pianis begelei en as altviolis in die hooforkes gespeel.

 Die Musikwoche het in 1965 met ’n klein amateurgroepie klassiekemusici van Swakopmund begin, almal Duitssprekendes. Later het dit ook ’n dag lange oefenskool vir kinders gebied en in 1977 het die kinders hul oefendag die eerste keer met ’n konsert vir ouers afgesluit.

 Musici van Windhoek het mettertyd betrokke geraak, maar die musiekweek het ’n redelik geslote byeenkoms gebly totdat die huidige uitvoerende hoof, Christiane Berker, dit in 2009 oorgeneem het.

 Berker is ’n sielkundige van beroep en organiseer die musiekweek vrywillig. Sy bestuur die webwerf, hanteer alle aansoeke, werf alle borge en het ook borgskappe van die Namibiese regering bekom.

 Sy is die dogter van Hans-Joachim Berker, ’n voormalige hoofregter van Namibië. Hy is in 1992 oorlede.

 Duitse betrokkenheid is steeds die hoeksteen van die Musikwoche. Die byeenkoms het geen begroting nie en is van borgskappe afhanklik waarvan Duitse inwoners verreweg die meeste gee. Die konsertgehore bestaan ook grotendeels uit Namibiese Duitsers.

 Hoewel Engels die voertaal is, word Afrikaans en Duits ewe veel deur deelnemers en lektore gepraat.

 Besoek die webwerf www.musikwoche.com vir video-opnames en meer inligting.  

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.