Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Trio speel Barok met ’n swing
Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Hugo Radyn (tromme) in die pragtige katedraal in Ernen, Switserland.

“Ons speel musiek wat nie net van akademiese waarde is nie, maar ook vermaak.” Só sê Charl du Plessis oor Baroqueswing, ’n CD en ook die konsert wat dié pianis en sy triomaats, Werner Spies (kontrabas) en Hugo Radyn (tromstel), na Kimberley, Welkom en Kroonstad neem.

Die drie musici het in 2013 met dié Barokprogram op die Vryfees in Bloemfontein gedebuteer en is met die Kunstetrust-prys vir die beste musiekdebuut op die fees hier weg.

Daarna het hulle dieselfde program in Switserland uitgevoer wat regstreeks opgeneem is en waarvoor hulle vir ’n Sama benoem is.

Du Plessis glo die trio se improvisasies van klassieke werke, asook nuwe jazz-verwerkings het ’n deel van die musieklandskap verander. Die eer kom in ’n groot mate Du Plessis alleen toe aangesien hy die verwerker is en ná sy jazz-studie in Amerika ’n fyn aanvoeling vir smooth jazz met sy hoogs toeganklike klank ontwikkel het.

Hiermee ontsluit hy baie werke vir die gewone luisteraar wat byvoorbeeld nie ’n aand van Barokmusiek uitgevoer op die klassieke manier sal kan deursit nie, maar Barokwerke met ’n swing aangename luisterstof sal vind. Spies en Radyn se bydrae maak die musiek soveel te meer gesellig.

Puriste behoort ook die uitvoering te geniet omdat die bekende melodieë steeds duidelik hoorbaar is. Al verskil is “ ’n ander polsslag, verrassende akkoorde en vullers”, sê Du Plessis.

Konsertgangers sal Air on a G String van Bach, Pachelbel se Kanon, Vier seisoene vanVivaldi, Largo van Handel, Scarlatti-werke en vele meer bekende melodieë herken. 

■ Charl du Plessis-trio: 21 April Kroonstad-burgersentrum (bespreek by Rellings, 056-212-2101); 22 April Ernest Oppenheimer-teater, Welkom (bespreek by 057-352-2604); 23 April William Humphrey-kunsmuseum in Kimberley (bespreek by 053-831-1724).

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.