Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wanneer die ‘beast’ uiting kry

Wat kry ’n mens as jy ’n stem-akrobaat, twee baskitaar-boelies en ’n menslike klitser agter die tromstel by mekaar uitbring?

Jy kry ’n Beast en op die koop toe ’n ongenaakbare aanslag op die ore wat jou laat besef: Só behoort rockmusiek eintlik te klink.

Die viertal van Beast – Inge Beckmanm, Rian Zietsman, Louis Nel en Werner von Waltsleben – se twee album, Bardo, is pas uitgereik.

Dit volg op hul debuut-album, Smoke, Swig, Swear (2013), wat wyd geloof is en deur die tydskrif Rolling Stone as sy 16de beste album van daardie jaar aangewys is.

Vir diegene wat nie vertroud is met die rockers se agtergrond nie: Beast het begin as ’n syprojek van Rian en Louis, onderskeidelik leierkitaar- en tromspeler van die groep Taxi Violence.

Albei wou leer baskitaar speel en het toe – sommer onder werktitel KomBass – met dié instrumente begin eksperimenteer: Rian speel syne soos ’n laenoot-ritmekitaar en Louis syne hoër, akkoordgebaseer en deur ’n kitaarversterker. Sasha Righini (The Plastics) is aanvanklik as tromspeler ingespan en is later deur Werner (van die groep KOBUS!) vervang. Oor een ding was daar uit die staanspoor g’n twyfel nie: ’n Vrouestem was nodig om as vierde “instrument” ’n teenvoeter te wees vir die grom en brom van die baskitare. En dis waar Beckmann, voorheen van die avant-garde-groep Lark, toegetree het.

Rian Zietsman, Louis Nel, Inge Beckmann en Werner von Waltsleben is Beast. Foto: Myburgh van Zijl
Inge Beckmann, voorsanger van die rockers Beast. Foto: Myburgh van Zijl
Rian Zietsman, een van twee baskitaarspelers van die groep Beast. Foto: Myburgh van Zijl
Beast luister aandagtig tydens 'n onderhoud met Netwerk24. Foto: Myburgh van Zijl
Werner von Waltzleben, tromspeler van die rockers Beast. Foto: Myburgh van Zijl

Netwerk24 gesels met Beast oor die beginjare en die jongste album.

Hoe het Beast aan sy naam gekom?

Inge: Ek het baklei vir daai naam. Ek het eers Bow Beast voorgestel, maar op die ou einde het Beast gebly. Die naam is oop vir jou eie vertolking – enigiets behalwe die letterlike betekenis van die woord. Vir my het die hele projek soos ’n gedierte gevoel wat hier in ons innerlike woel en werskaf. Rian en Louis speel baie bruin note, onheilspellende note. Daar is iets dierlik aan die musiek.

Rian: As ons speel voel dit of daar ’n geweldige opwelling van nervous energy in my binneste is, soos ’n beast within wat wil uitkom.

Weet julle daar is ’n Koreaanse boy band met die naam Beast?

Louis: Ja, ons is bewus daarvan! Daar is niks erger as K-pop nie. Maar ons kla nie, want ons albums is reg langs hulle s’n in die iTunes-store!

Inge: Ja, ons hou nogal van die idee van ’n lost in search engine-situasie, waar iemand K-pop soek, maar ons album vind. Ons maak presies die teenoorgestelde musiek as die outjies, maar hulle het ’n moerse following, so dalk laai iemand per ongeluk ons album af.

So dalk is daar toevallig ’n mark oorsee?

Inge: Nee, dit was nooit ’n prioriteit vir ons om oorsee naam te maak nie. Ek dink wel daar is goeie progressie op Bardo (die tweede album) en ons het ’n unieke klank wat straks by ’n internasionale gehoor aanklank sal vind. Ons eerste album het ’n spesifieke klank gehad, maar dit was meer soos ’n album waarop ons saam gejam het. Van die songs daarop was KomBass-jams wat ons aangepas het, ander was my eie songs wat Rian en Louis getoonset het. Bardo is hoe Beast moet klink.

Rian: Ja, ons debuut was ’n tipe business card vir die groep. Wat ons doen, is redelik uniek, so ons wou die mense daaraan bekendstel.

Louis: Dis hoekom ons uit staanspoor geweet het ons gaan die eerste album gratis weggegee as digital download. Die terugvoering was ongelooflik en ek dink dit het gehelp om ons te vestig en om die Beast-virus te versprei.

Beast se klank is hard, ongenaakbaar en verg ’n spesifieke luisteraar. Is dit nie ’n bietjie riskant om so buite die lyne van rock in te kleur nie?

Inge: Ons is comfortable met Beast se klank. Nie baie mense besef ons het twee baskitaarspelers nie. Ek probeer om my stem as ’n kitaar te gebruik as counter vir deur die dubbele bass-aanslag. Die kitaarklank is bottom-heavy en daarom is die vocals dikwels Ozzy-esque (met verwysing na Ozzy Osbourne, voorsanger van die rockgroep Black Sabbath). Dis ’n trademark van Beast. Ons maak nie bewustelik musiek om sus of so te klink nie. Dis maar ons klank, dis wat ons geniet.

Die dubbel-baskitaar is nogal uniek. Is daar ander groepe wat dit ook doen?

Louis: Ek weet van die Kanadese groep Death from Above 1979.

Rian: En Royal Blood, wat een bass en tromme gebruik. Musikante deesdae begin al hoe meer uit die boks dink en gebruik nie net meer die standaard rock line-up nie, maar wend instrumente op ongewone wyses aan.

Vertel my meer van Bardo – die naam, die omslagontwerp?

Inge: Bardo is ’n Tibettaans-Boeddhistiese term vir ’n tussenstadium, ’n oorgangstadium tussen twee plekke. Die rede hoekom ek weet van Bardo, is omdat ek lucid dreaming begin studeer het nadat ek die ongelooflike Britse skrywer Charlie Morley se boek Dreams of Awakening gelees het. Morley leer jou hoe om helder drome te kry en hoe absoluut belangrik dit is vir mense om dit te doen. Ek het net gedink dis ’n fitting tema vir ons album.

Die omslag van Beast se twee album, Bardo, is 'n skildery van die kunstenaar John-Michael Metelerkamp. Foto: www.j-mm.co.za

Daai hele rock en roll scene is vir my so boring. Ek wou wegkom daarvan, want dit stimuleer my nie meer nie. Ek moes die goed wat my interesseer inbring op die nuwe album, ander sal dit nie oorspronklik gewees het nie. Die omslag is ’n skilderwerk deur die ongelooflik talentvolle John-Michael Metelerkamp.

Julle het besluit om deur crowd funding Bardo te finansier. Hoekom?

Rian: Dis uit nood gebore – daar was net nie genoeg geld om dit self te kon doen nie. Kyk, dit kos seker so R90 000 om ’n album van begin tot einde te maak, opname, vervaardiging, vermenging, kunswerk en bemarking ingesluit. Ons het probeer kyk of ons die grootste deel daarvan kan kry deur mense te vra om vooraf vir die album te betaal. Op die ou einde het ons darem genoeg gekry om ten minste die tyd in die studio te betaal.

Die album is in die ateljee Heritage Sound deur Brendyn “Rusti” Rossouw opgeneem. Hoe was dit om saam met hom te werk?

Louis: Dis my en Rian se vierde album saam met Rusti (drie Taxi Violence-albums is ook deur hom opgeneem), so ons ken hom goed. Hy is ongelooflik talentvol en kry die mees fantastiese klank uit instrumente, veral tromme. Sy toerusting is eersteklas, maar die beste van als is, hy weet hoe om die beste uit musikante te kry. Hy sal iets opneem en jou vertel hoe goed dit klink. Dan sal hy sê: “Ek wed jou ons kan dit nog beter laat klink.” En dan speel jy die song maar weer. Sy people skills is ongelooflik.

Hoe het Werner (von Waltsleben) agter die tromme beland?

Wener: Rian en Louis het my genader nadat Sasha (Righini) te besig geraak het my sy eie musiek. Ek is ’n massiewe Taxi Violence-fan en het destyds omtrent al Lark se optredes bygewoon, so toe ek die kans kry om sáám met hulle te speel, was dit soos ’n droom wat bewaarheid is. Ek het ná een gig saam met Beast besef hierdie werk vir my, dis die musiek wat ek wil speel. Ek kan maar die tromme looi, Beast skop graag ’n lawaai op.

En julle gunsteling-snitte op die album?

Inge: Beslis Out There (waarvan hulle ’n akoestiese weergawe vir Netwerk24 gedoen het).

Werner: Black Hole, want ek speel die hardste op daai snit.

Rian: Snit 9 op die album, Down. Die klank op die snit is bigger than the sum of its parts. Dis meer ’n gevoel as ’n song.

Louis: Dit wissel van luister tot luister. Ek hou ook van Down, want ek is in my hart ’n tromspeler. Maar Healer is ’n powerful snit en dis lekker om te speel.

Gaan julle met Bardo toer?

Louis: Ja, die album is pas amptelik bekendstel, ons gaan einde Maart Gauteng toe vir ’n toer en dan speel in April by die Splashy Fen-fees in KwaZulu-Natal.

■ Volg Beast op ​Facebook

■ Beast se album Bardo kan op ​iTunes afgelaai word.

 Die Beast-opname is in The Black Bar by die Cape Town Club gedoen. Volg die klub op Twitter by @CapeTownClub of op sy Facebook-blad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.