Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wonderboom vier 19 jaar met optrede
Wade Williams, Cito, Jonathan Bell en Martin Schofield van Wonderboom.

Ter viering van die Johannesburgse groep Wonderboom se 19de verjaardag dié maand, tree hulle op Vrydag 27 Februarie by Smuggler’s Pub in Fourways, Johannesburg, op.

Dié groep het al agt albums op sy kerfstok, asook vyf Sama-benoemings, ’n Kanna-prys en ’n People Crystal Award as die land se “warmste” groep in 2003.

Wonderboom het al op van die voorste Suid-Afrikaanse musiekverhoë soos OppiKoppi, SplashyFen en Thornfest opgetree.

Hulle het al opgetree met onder andere Shaun Morgan van Seether-faam, Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel, Taxi Violence, aKING, Straatligkinders, Prime Circle, Cassette en Wreslerish.

Wonderboom is tans besig om sy negende album op te neem en beloof om konsertgangers te trakteer op ’n musikale voorsmakie van hul jongste album.

Wonderboom sal die verhoog deel met The Anti Retro Vinyls, ’n driestuk-reïnkarnasie van die Britse rock- en punkgroepe van die 1970’s en ’80’s, kompleet met stywe jeans en groot haarstyle.

Die konsert skop om 20:30 af met ’n voorvertoning deur die viertal tienermeisies van die groep Skårlit.

Cito, Wonderboom se hoofsanger, sê hy kan nie glo dat hulle al 19 jaar as ’n groep musiek maak nie.

“Dit voel steeds of ons slegs 19 is! Dis seker die rock ’n roll wat ons jonk gehou het.”

Cito beskryf die optrede saam met The Anti Retro Vinyls en Skårlit as ’n “rock ’n roll-tydlyn van groepe wat saam tydlose musiek maak”.

“Wat ons vertoning betref, verwag ’n paar nuwe snitte op ons komende album, asook ’n paar oues.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.