Die eerste Aardklop Aubade-musiekkonsert, wat die jaar “om vadersnaam met iets mooi sal afsluit”, word op 13 Desember in Pretoria gehou.
Dit word deur die Aardklop Nasionale Kunstefees en die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria aangebied omdat al hoe minder klassieke musiekkonserte die afgelope tyd in Pretoria te hoor was.

Charl du Plessis
RSG is die radiovennoot.
Met Carols and Chords word gehore op Kersmusiek getrakteer wat deur die pianis Charl du Plessis saamgestel is.
“Dit het begin toe die Brooklynteater gesluit het,” sê Alexa Strachan, Aardklop-feesbestuurder.
“Nataniël het my gebel en gesê dis ’n krisis, ons moet iets doen. Ek het gesê: Gee my net ’n dag om dit te verwerk. Ek kan nie alleen iets doen nie, maar ek kan as Aardklop ’n plan maak.”
So het die gedagte oor Aardklop Aubade ontstaan.
Strachan en Du Plessis het geweet van die Afrikaanse Hoër Seunskool se musiekdepartement se goeie fasiliteit, wat ook ’n orrel het.
“Die regte venue is belangrik as jy klassieke musiek wil aanbied,” sê Strachan.

Lizelle le Roux
“En die skool se ligging is ook perfek. En daar is ’n restaurantjie daar, as jy ná die konsert dalk wil aansit.”
Ná Desember is die volgende konsert eers in Februarie, waarna dit maandeliks op ’n Sondag om 11:00 aangebied word.
“Aubade” beteken oggendlied.
“Ons wil dit soggens aanbied, want dis dalk ’n makliker tydgleuf as laatmiddag,” sê Du Plessis, ’n Steinway-kunstenaar. Hy en die orrelis Ockie Vermeulen en die violis Lizelle le Roux tree op.
Rohan Grobbelaar, ’n gr. 10-leerling van Affies, tree vooraf vir tien minute op.
Voortaan sal ’n leerling van Affies op elke konsert die voorprogram aanbied.

Ockie Vermeulen
“Ons speel Kersmusiek van die afgelope 300 jaar,” sê Du Plessis.
Dit sluit in verwerkings van “Stille nag”, “Somerkersfees” en “Bethlehemster”.
“Ek moes die musiek so saamstel dat mense daarna sal wil luister. Dit moet gewild genoeg wees, maar nog steeds gesofistikeerd en van gehalte. Ná hierdie jaar wil ons die jaar op ’n goeie noot afsluit.
“Die ander musiekkonserte – sonder om iets te verklap – sluit in sangkonserte en klaviermusiek. Selfs tangomusiek. Dit is egter oorwegend klassieke musiek. Ons wil ’n aangename ervaring per maand bied.”
• Die datums en program oor die ander konserte word in Januarie bekend gemaak.
Die konsert begin om 11:00 in die Afrikaanse Hoër Seunskool se skoolsaal.
Kaartjies kos R120 tot R150.
Bespreek by Ticketpro.
Bel 087 527 0023 of stuur ’n e-pos na navrae@aardklop.co.za of besoek www.aardklop.co.za vir meer inligting.