Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Adams se jongste album laat luisteraar verskeurd
Ryan Adams

Ryan Adams se jongste album, Wednesdays, kan nie geïgnoreer word nie, al is dit die skepping van ’n uiters bedenklike karakter. Danie Marais het gaan luister.

Ryan Adams – Wednesdays (* * * *)

“Dis mooi!” sê my vrou toe sy die kombuis instap.

“When You Cross Over” van Ryan Adams se nuwe album, Wednesdays, stroom sielvol deur die luidsprekers.

“Ja, baie,” antwoord ek, “maar ek het ook lanklaas so verskeurd oor ’n plaat gevoel.”

Adams se openbare beeld is sedert die verskyning van ’n New York Times-artikel in Februarie 2019 aan flarde. Verskeie vroue, waaronder sy eksvrou, Mandy Moore, en die intussen beroemde sanger-liedjieskrywer Phoebe Bridgers, het getuig dat die obsessief besitlike Adams hulle seksueel geteister het en dat hy sy mag as musikale mentor vir jonger vrouekunstenaars misbruik het.

Adams het die musiekregie van Phoebe Bridgers se eerste EP, Killer (2015) behartig, maar in die sekure “Motion Sickness” op haar 2017-vollengtedebuut, Stranger in the Alps, sing sy bitter oor hul verhouding:

“I hate you for what you did

And I miss you like a little kid

[...]

You were in a band when I was born

I have emotional motion sickness

Somebody roll the windows down

There are no words in the English language

I could scream to drown you out”

Lucinda Williams het op verlede jaar se Good Souls Better Angels ook ’n liedjie oor Adams ingesluit. Sy het in ’n onderhoud met The Guardian duidelik gestel dat sy geen verskoning vir hom wil maak nie. Die elegiese “Shadows and Doubts” sing sy uit die oogpunt van iemand wat hom ken en gesien het watter tragiese gemors hy van sy lewe gemaak het:

“And you got your shadows

And you got your doubts

[…]

And there’s so many ways

To crush you”

Vroeg vanjaar het die 67-jarige Williams, wat self al in verhoudings onder manlike boelies gely en daaroor gesing het, egter waardering vir sy nuwe album uitgespreek: “Hierdie plaat van Ryan het ’n pad na my drome gevind. Dit smeek om ontdek te word.”

In die musiekmedia is die 46-jarige Adams se 17de ateljeealbum egter met dawerende stilte begroet. Publikasies soos Rolling Stone, Spin en die aanlyn Pitchfork het Wednesdays, wat in Desember 2020 verskyn het, nog nie geresenseer of enigsins genoem nie. Op Metacritic.com is dit die eerste album sedert sy fenomenale solodebuut, Heartbreaker (2000), waarvoor daar geen gemiddelde persentasiepunt beskikbaar is nie.

In een van die min resensies wat wel op Allmusic.com verskyn het, ken die gesoute musiekskrywer Stephen Thomas Erlewine twee sterre aan dié album toe en oordeel ten slotte: “Met gestroopte bewerkings en verslete melodieë skep hierdie versameling liedjies die indruk van ’n sanger-liedjieskrywer wat homself jammer kry, maar nie noodwendig jammer voel oor enigiets wat hy moontlik gedoen of nie gedoen het nie.” Erlewine het Adams se laaste album vóór die skandaal, Prisoner (2017), vier sterre gegee en gesê dis nie ’n plaat waarmee Adams hom in sy eie smart verlekker nie, maar eerder balsem vir moeilike tye voorsien.

As ’n groot aanhanger van Bridgers en ’n pa met ’n tienerdogter wat ook versot op haar musiek is, wil ek beslis nie hê dat daar oë toegedruk word nie. Maar ’n mens kan tog ook nie soos Erlewine ’n plaat volgens die gehalte van die kunstenaar se berou beoordeel nie. As Adams se laakbare gedrag nie rugbaar geword het nie, vermoed ek Erlewine sou presies dieselfde oor Wednesdays as oor Prisoner gevoel het. Want as ek nie daarvan geweet het nie, sou ek gewoon gesê het dit is een van die 20 beste rockplate van 2020. Ek sou Wednesdays ook sonder aarseling entoesiasties aanbeveel het vir almal wat lief is vir Neil Young se Harvest en After the Gold Rush. Ek sou moontlik selfs gevra het wanneer Young eendag weer ’n liedjie in die klas van Adams se “I’m Sorry and I Love You” gaan uitreik.

Wanneer ek egter daaraan dink dat laasgenoemde moontlik met Bridgers in gedagte geskryf is, vind ek dit hopeloos onvoldoende en grillerig. Maar dan hoor ek hoe Adams in die hoendervleis “Mamma” uit dieptes gans verlore vra: “Mamma, am I human? Am I the crowbars when the door’s kicked in?” Dan besef ek weer sidderend: Mense is seer diere en monsters pure stukkende mens.

Om Wednesdays te ignoreer is seker makliker as om toe te gee jy sou nooit kon raai hierdie teer, roerende plaat is die werk van ’n uiters bedenklike karakter nie.

Topsnitte:

“Who Is Going to Love Me Now, If Not You”

“When You Cross Over”

“Birmingham”

“Mamma”

Meer oor:  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.