Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Afrika se voorste Barok-ensemble kry nuwe naam
Die Kaapstad Barokorkes, in Engels die Cape Town Baroque Orchestra, se nuwe logo.

Die afgelope jaar se fokus op aanlyn produksies en musici se digitale voetspoor het Erik Dippenaar, artistieke direkteur van die voorste Barok-ensemble in Afrika, laat dink aan hul “plek en posisie in die groter wêreld”.

Dié oorweging het Dippenaar eindelik oortuig om die naam van die ensemble – tot onlangs nog Camerata Tinta Barocca, oftewel die CTB – na die Kaapstad Barokorkes te verander. Die afkorting van die nuwe naam in Engels, Cape Town Baroque Orchestra, is toevallig ook CTB.

“Voorheen was my hoofprioriteit dat ons iets bied vir plaaslike gehore, maar die afgelope jaar het ’n bewustheid gebring dat ’n mens veral aanlyn vir baie meer as net ’n plaaslike gehoor iets kan bied,” sê Dippenaar, sedert 2015 die ensemble se artistieke direkteur en ook hul klavesimbelspeler.

“Ek voel ’n naam waarin die woord ‘Kaapstad’ voorkom kondig vir internasionale gehore aan dat ons roer en dinge hier aan die suidpunt van Afrika doen!

“Dit posisioneer ons geografies as ’n ensemble in die Suid-Afrikaanse en internasionale musieklandskap, en veral in dié tyd, waarin ’n aanlyn voetspoor wêreldwyd al hoe belangriker word, maak ons nuwe naam dit uit die staanspoor duidelik waar ons gesetel is.”

Dippenaar sê die naam strook ook nou mooi met die Kaapstad Barokfees, wat die ensemble tot voor die pandemie jaarliks aangebied het, asook met Kaapstad Opera en die Kaapstadse Stadsballet, met wie hulle in die verlede “wonderlik” saamgewerk het.

Hoewel hy erken dat aanlyn aanbiedinge weens produksiekoste “baie duurder” as regstreekse konserte is, sê hy hulle is gelukkig om ’n paar lojale finansiers, insluitende die Rupert-musiekstigting, in hul kamp te hê. Skenkings van die publiek en organisasies, wat steeds “broodnodig” is, help hulle om ook hul werk aanlyn voort te sit.

“Ek moet tog ook sê ek kan regtig nie wag vir die dag wanneer ons weer regstreeks voor groot gehore kan speel nie. Daar is ’n wonderlike dialoog tussen musici en die gehoor in ’n regstreekse situasie; daardie dialoog is geweldig inspirerend – en eintlik nódig.”

Erik Dippenaar Foto: Verskaf
Die Kaapstad Barokorkes met Erik Dippenaar voor die klavesimbel. Foto: Verskaf
Stefanie True en Christopher Ainslie. Foto: Verskaf

Die ensemble gaan hul nuwe naam met twee musikale aanbiedinge vier – een aanlyn en een op die kassie.

Hulle gaan eerstens vir die volgende tien weke (vanaf 28 Junie) in hul nuusbrief en op sosiale media elke week ’n kort musiekstuk gratis met liefhebbers van Barokmusiek deel. Van hul bekende spelers en sangers, soos Lynelle Kenned (sopraan), Refiloe Olifant (Barokviool) en Joshua Frank (blokfluit), gaan in dié uitvoerings skitter. Besoek www.ctbaroque.co.za om vir hul nuusbrief in te teken, of besoek @ctbaroque op Facebook en Instagram om in te skakel.

Die ensemble gaan ook op Sondag 4 Julie om 10:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en op dieselfde dag om 12:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) die konsert Handel: Die Londense Operas aanbied. Dit bestaan uit solo’s en duette uit operas deur die Duitse komponis George Frideric Handel. Die Kanadese sopraan Stefanie True en die Suid-Afrikaanse kontratenoor Christopher Ainslie is die soliste.

Meer oor:  Kaapstad Opera  |  Lynelle Kenned  |  Kyknet  |  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.