Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Afrikaanse musiek blom op alle fronte

Nuwe Afrikaanse albums, musiekvideo’s en enkelsnitte van albums wat op pad is, maak luisteraars opgewonde oor wat in die musiekbedryf gebeur. Mariana Malan bied ’n kort oorsig oor wat beskikbaar is en wat nog kom.

Jan BlohmDie liefde album

Jan Blohm se stem is ligter as waaraan jy gewoond geraak het. Daar is niks gedwonge of gedrewe nie. Dit klink asof hy by die punt gekom het waar woorde soos water kan vloei sonder om in maalstrome vas te draai.

Dis sy eerste album in ses jaar. Daar is ’n verdieping in sy lirieke wat sy vorige werk ver oortref. Jy word opnuut getref deur sy besonderse vermoë om verwysings uit gedigte en selfs so hier en daar uit sy vorige werk by nuwe lirieke in te trek. Daar is selfs ’n tersluikse verwysing na die dra van sy groen trui.

Die ongetwyfelde hoogtepunt van die album is “Winternag” waar hy in gesprek met Eugène Marais oor sy eie sowel as Marais se liefde en pyn praat. Blohm se weergawe van Gert Vlok Nel se “Beautiful in Beaufort-Wes” moet na dese liewer deur niemand anders gesing word nie. Dit maak van iets besonders iets onvergeetliks.

Daar is steeds die mengsel van blues en rock waarvoor hy bekend is. Blohm se stempel staan duidelik afgedruk oor de hele album.

Hy wil nie beïndruk nie. Hy bly sonder pretensie, ’n kunstenaar wat hoop en pyn besing.

Sakka StoneSopnatwinter

Maande voordat die eerste welkome reënbuie uitgesak het, het Sakka Stone en Jannie Uys in Die Boer in Durbanville gesing oor ’n sopnat winter wat op pad is. Wanneer ’n mens nou na die lied luister, kan jy by Stone se vermoë om stories te vertel en nostalgiese reise te onderneem ook die titel weerprofeet aan hom toedig. Die lied word met soveel oortuiging en geloof vertolk dat jy nie anders kan as om te glo dat dit iewers Iemand se ore bereik het nie.

Dis maar een van die juwele op die album. Reeds met die eerste lied, “Venster op die straat”, verwoord hy wat hulle seker die beste doen – kyk uit na buite, maar ook na die innerlike van mense met wie daagliks en in die verlede paaie gekruis is.

Dis veral die liedjiestories van Namakwaland wat tref, hartland van Stone en Uys wat nie net met mense van die streek praat nie, maar met elkeen wat daarna luister.

Dan is daar ook die pragtige verhaal van die Boere-Jode wat jou laat hoop daar kom eendag ’n musiekspel met die lief en leed van ver lande wat in Namakwaland met die streek se inwoners versmelt.

Nuwe albums, kortliks

Riaan Nieuwenhuis – Reminiscence volg sy vorige instrumentale albums Mediator, Instigator en Collaborator

op. Met jazz, blues, elektroniese klanke en egte rock neem hierdie album met sy tien snitte sy waagmoedige eksperimente en komposisies na ’n nuwe vlak. Besoek riaanmusic.com/reminiscence.php.

Rocco de Villiers kortbroek, lang kouse is De Villiers se splinternuwe popalbum, die eerste met ’n Afrikaanse titel. Dis sy 14de instrumentale album en bou voort op die unieke, eiesoortige komposisies en verwerkings waarvoor hy bekend is.

Grant-Pierre van Wyk se debuutalbum 0 – 20 het pas op die mark gekom. Dit dui op sy huidige ouderdom en volgens hom het sy hele lewe die liedjies op die album beïnvloed. Daar is liedjies in Afrikaans en Engels, waarvan laasgenoemde ’n kombinasie van folk, country en rock is. Gaan kyk op YouTube hoe hy al op ’n baie jong ouderdom geklink het.

Nuwe musiekvideo’s

Burgerd Botha het pas sy debuutsoloalbum, Hartlagsiel, vrygestel. “Die sterre” is die enkelsnitvrystelling wat vooraf uitgereik is.

“Dit gaan oor daardie fase in ’n verhouding waar jy besef jy is besig om verlief te raak en dit is so lekker dat jy voel die heelal kan maar stilstaan,” sê hy oor die lied.

Die album is op die volgende digitale platforms beskikbaar: iTunes, Google Play Music en Amazon.

Almero het pas die musievideo van die lied “Monochromie” uitgereik en ’n album word vir later vanjaar beplan. Die intrige of storie agter die video is volgens Almero ’n soektog na iemand. Die kamera vertolk die rol van die persoon wat soek en die danseres is die persoon waarna gesoek word. Die video is in die hartjie van Johannesburg, op die dak van Prop Stars verfilm.

In die Kortfilm en musiekvideo “Zaberfluten” wys Peach van Pletzen, Nik Nax, Schalk Bezuidenhout en Frank Opperman hoe maklik ’n visbraai kan skeefloop. Bezuidenhout is nie sy prettige self nie en die geil groen plante rondom die braai hou hul eie troos in. Dis die vyfde musiekvideo van die album Kak lekke vibe wat vroeër vanjaar uitgereik is. Kyk na die video op YouTube.

Nuwe enkelsnitte

Snotkop se nuwe album Sous is vanaf 20 Julie landswyd beskikbaar. Die enkelsnit “Souserig” is aan radiostasies gestuur en sal binnekort gehoor kan word.

Joshua na die Reën se “Stof en sterre” speel sedert verlede week op verskeie radiostasies. Hy het die lied geskryf na aanleiding van ’n verjaardagboodskap wat hy twee jaar gelede van Nandi van Deventer ontvang het. Hy het die idee geneem dat die stof waaruit die mens gemaak is, iewers ’n gedaanteverwisseling ondergaan en dan soos sterre in die nag voortbestaan. Dit is op die album Die wêreld binne my. Gaan luister op Google na ’n voorsmakie van die lied.

Dawie de Jager beïndruk met sy treffende nuwe enkelsnit

“Beyond Infinity”. Hy is eintlik bekend vir sy Afrikaanse liedjies, maar volgens hom wou hy homself nie tot ’n spesifieke taal en genre bind met sy musiek nie. Sy deelname aan The Voice het vir hom baie nuwe Engelse aanhangers besorg. Hy beplan ’n album in die nabye toekoms. Gaan luister na die lied op iTunes en Google.

Chanelle van den berg se “Oorlog” wat sy self geskryf het, is ’n pop-/country-/rockliedjie wat handel oor ’n innerlike geveg wat uiteindelik tot die einde van ’n verhouding kan lei. Musiekvideo’s van haar ander liedjies kan op YouTube gesien word.

Ons lieflinge – Rudi Claase en Charné Hugo is beter bekend as Ons Lieflinge. Hul jongste enkelsnit is “Die maan se trane”. Gaan luister daarna op Deezer. Hul nuwe dubbelalbum Miljoene stemme is ook nou beskikbaar.

Meer oor:  Afrikaanse Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.