Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Afrikaanse musiek-stromingsdiens bied 'iets van als'
Daar kan ook na David Kramer se musiek op Liedjie geluister word. Foto: Verskaf
Die Liedjie-app sal teen Vrydag vir Android-fone beskikbaar wees. Foto: Verskaf
As jy iets as een van jou gunstelinge wil merk, kliek jy net op die meegaande sterretjie. Foto: Verskaf

Hul grootste gebruiker is in 1946 gebore en die afgelope Sondag het DJ Ossewa se “Stukkie van der Merwe” gelóóp.

Liedjie, ’n nuwe Afrikaanse musiekstromingsdiens, is soos “daai dik CD-leêrs wat jy in jou kar gehou het en oral moes saamdra, maar hier word al daardie CD’s met een app vervang”.

Só sê Haddad Viljoen, Nichestream – waarvan Liedjie deel is – se bemarkingshoof.

“Ons is dalk net ’n klein Kaapse start-up, maar ons het groot drome,” sê Catherine Lückhoff, Nichestream en Liedjie se stigter en uitvoerende hoof.

Liedjie is die eerste produk uit die Nichestream-stal vir stromingsdienste – die beginpunt tot ander musiekkanale wat niche-musiekmarkte bedien, waaronder ’n toekomstige Nigeriese gospel-stromingsdiens.

Die idee agter Liedjie is om een plek te skep waarheen mense kan gaan om na Afrikaanse musiek te luister, sê Lückhoff.

“Ons het kinderstories, klassieke musiek, groot treffers. . . alles van Lollos tot Fokof.”

En ’n meer lojale – en passievolle – mark as liefhebbers van Afrikaanse musiek gaan jy nie maklik kry nie, is hulle dit eens.

“Ek dink mense luister nou meer musiek as ooit vantevore, deels omdat hulle aan so baie blootgestel word en ook omdat musiek makliker verkrygbaar is,” sê Viljoen.

Voeg daarby ’n musieklandskap wat voortdurend verander en tegnologie wat teen ’n stink spoed vorder – ideale bestanddele vir ’n stromingsdiens se suksesresep.

Ja, data is duur, maar hiervoor het hulle voorsiening gemaak: Laai ’n speellys met Wi-Fi af en luister later aflyn daarna.

Hul katalogus bestaan tans uit sowat 6 000 liedjies – van Karen Zoid-treffers tot musiek vir die kleinspan – en oor die volgende twee weke word musiek van die groter kunstenaars soos Kurt Darren en Steve Hofmeyr bygevoeg.

Die musiek word op ’n verskeidenheid maniere georden, waaronder speellyste (wat weer verdeel word in kategorieë soos Braai, Romanties en Bui), asook genres, gunstelinge en kunstenaars.

Die stromingsdiens is sowat ’n maand gelede op WeChat van stapel gestuur en die Android-app sal teen Vrydag afgelaai kan word. Apple-gebruikers kan teen einde Februarie inteken.

Dit kos R49,99 per maand. Op WeChat is die eerste drie maande gratis, terwyl die app vir die eerste twee weke gratis op die proef gestel kan word.

Rande in die sak

Liedjie skakel direk met die kunstenaars se platemaatskappye en beding ooreenkomste om hul musiek op die platform beskikbaar te stel. Betaling word ook dan vasgestel.

“Dit is vir ons ongelooflik belangrik dat die kunstenaars betaal móét word,” benadruk Lückhoff.

Die stromingsdiens kan immers dien as ’n bykomende inkomstestroom en, sê Viljoen, kan die data wat ingesamel word, onder meer oor waarna gebruikers luister, en wanneer en waar, gebruik word om kunstenaars te help om hul strategieë aan te pas.

Gebruiker-terugvoer

Die grootste versoek van huidige gebruikers is dat meer liedjies beskikbaar moet wees. Die positiewe terugvoer wat hulle kry is veral van mense wat vertel hoe lekker dit is om ou musiek te herontdek.

“Die Afrikaanse mark is ’n geweldige lojale en passievolle mark,” sê Viljoen.

“En dít is waar dié niche lê – daai passie vir musiek. Dit is die rede hoekom ons werk.”

Uiteindelik wil hulle hê dat gebruikers hul eie speellyste moet skep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.