Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Afrikaanse rolprent is SA se beste op rolprentfees

Die Afrikaanse rolprent Stam is Saterdagaand as die beste Suid-Afrikaanse vollengte rolprent op die internasionale rolprentfees in Durban (Diff) bekroon.

‘Stam’ se rolverdeling sluit in Tarryn Wyngaard, Gideon Lombard, Inge Beckmann, Armand Aucamp, Niza Jay en Neil Heyns in.

Die rolprent speel in Kaapstad af en verweef die verhale van vyf uiteenlopende karakters. Dit is geskryf en geregisseer deur die akteur en komediant Louw Venter, wat aan Netwerk24 sê hy werk al langer as ’n dekade “aan en af” aan die projek.

“Ek is natuurlik verheug oor die prys. Dit het 13 jaar van my lewe gekos om hier uit te kom,” sê hy.

“Die feit dat die rolprent erkenning kry, is fenomenaal, veral omdat dit ’n Afrikaanse fliek is wat meeding met internasionale produksies. Dit is uiters bemoedigend om te sien ons kan verby die eng definisie en gevoel van die tipiese ‘Afrikaanse fliek’ kom.”

Venter het Saterdagaand in sy bedankingstoespraak, wat vooraf opgeneem en op Facebook gestroom is, onder meer gesê ’n “baie, baie lang reis” bereik ’n hoogtepunt met dié prys.

“Hierdie erkenning aan die einde van dié reis beteken vir my meer as wat julle besef. Rolprente slaag danksy die mense wat dit maak – en dit was ’n ongelooflike spanpoging. Die rolprentspan het vir my die stel gegee wat ek vir die akteurs wou skep, en die akteurs het spel gelewer wat dapper en sterk en vreesloos is. Dankie.”

Netwerk24 het vroeër berig dat Stam van 21 September om 06:00 tot 1 Oktober om middernag op die KKNK se digitale platform gekyk kan word. Besoek kknk.co.za/stam vir meer inligting.

Die 41ste Diff is vanjaar weens die pandemie van 10 tot 20 September aanlyn aangebied. Die komediant Sne Dladla het die uitskieters op vanjaar se fees Saterdagaand in ’n aanlyn prysuitdeling op Facebook aangekondig.

Die drama This Is Not a Burial, It’s a Resurrection is met drie pryse – die meeste by vanjaar se prysuitdeling – bekroon, insluitend beste aktrise aan die ontslape Mary Twala, beste regisseur aan Lemohang Jeremiah Mosese, en ’n spesiale prys vir artistieke waagmoed.

Die Finse komediedrama Force of Habit, wat saam deur sewe vroueregisseurs aangepak is om die era ná #MeToo deur die oë van 11 vroue te bekyk, het die prys vir beste vollengte rolprent en beste redigering verower.

Die animasierolprent Ruby and Roach is aangewys as die beste Suid-Afrikaanse kortprent, asook die beste kortprent vanuit Afrika. Influence, ’n dokumentêr oor die berugte Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger se omstrede veldtogte in talle lande, ook hier in Suid-Afrika, is aangewys as die beste Suid-Afrikaanse dokumentêr.

Hier is die volledige wennerslys:

  • Amnestie Internasionaal Durban-menseregteprys: Fadma: Even Ants Have Wings
  • Beste akteur: Ntare Mwine (Farewell Amor)
  • Beste aktrise: Mary Twala (This Is Not a Burial, It’s a Resurrection)
  • Beste dokumentêr: Softie
  • Beste draaiboek: Ekwa Msangi (Farewell Amor)
  • Beste kinematografie: Emo Weemhoff (Take Me Somewhere Nice)
  • Beste kortprent vanuit Afrika: Ruby and Roach
  • Beste kortprent: Exam
  • Beste redigering: Force of Habit
  • Beste regisseur: Lemohang Jeremiah Mosese (This Is Not a Burial, It’s a Resurrection)
  • Beste Suid-Afrikaanse dokumentêr: Influence
  • Beste Suid-Afrikaanse kortprent: Ruby and Roach
  • Beste Suid-Afrikaanse vollengte rolprent: Stam
  • Beste vollengte rolprent: Force of Habit
  • Prys vir artistieke waagmoed: This Is Not a Burial, It’s a Resurrection
Meer oor:  Mary Twala  |  Bell Pottinger  |  Lemohang Jeremiah Mosese  |  Fliek  |  Stam  |  Flieks  |  Louw Venter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.