Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
AIG: Ander sangers mor oor Steve
Steve Hofmeyr. Foto: Jaco Marais

Hernude spanning oor die teenwoordigheid van Steve Hofmeyr in die Afrikaans is Groot (AIG)- konsertreeks begin onder van sy medekunstenaars en ander betrokkenes opbou omdat hulle meen hy strem die handelsnaam se inkomstegeleenthede.

  • Dit kom nadat: Die GrandWest Casino in Kaapstad geweier het om 2020 se Kaapse AIG-konserte daar te huisves as hy op die verhoog is.
  • Die spesiale galavertoning van AIG en Helpende Hand op 28 November in Pretoria se kaartjiepryse weens trae verkope verlaag moes word.
  • Virseker, die Solidariteit-groep se versekeringsvennoot, stil-stil aan AIG onttrek het.

Mervyn Naidoo, bestuurder van GrandWest, het bevestig dat hulle ’n “voorlopige bespreking” vir AIG in 2020 het. Die organiseerders moet nog die datum bevestig.

Vanuit Sun International is egter op senior vlak bevestig dat die AIG-konsertreeks nie daar aanvaar sal word met Hofmeyr op die verhoog nie.

Die persoon het bevestig hoewel die AIG-konserte in November in die Sun Arena in Menlyn, Pretoria, voortgaan met Hofmeyr op die verhoog, sal “dit beslis die laaste keer wees”.

Enkele kunstenaars wat weens kontraktuele beperkings nie hul name wil noem nie, sê Hofmeyr bedreig hul voortgesette inkomste uit AIG. Hulle is veral bekommerd dat hul Kaapse vertonings in 2020 en hul inkomste daaruit van die baan kan wees “as daar onnodig aan hom vasgeklou word”.

Brendon Hargrove, uitvoerende vervaardiger van die AIG-vertonings, het Vrydag nie op navrae gereageer oor die AIG se plan vir Kaapstad nie.

In Maart het Helpende Hand as nuwe AIG-vennoot na vore getree en ’n spesiale galakonsert, met kaartjies van R700 om borggeld in te samel, is met groot fanfare aangekondig onder die vaandel #JouAIG. Dit het nou aan die lig gekom dat verkope gesukkel het en kaartjiepryse stil-stil verlaag is.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê meer as 60% van die kaartjies is reeds verkoop. Dit kos nou tussen R250 en R650.

Ricardo Coetzee, hoof van Virseker, sê die borgskap vir AIG, wat oor ses jaar strek, is geruime tyd heroorweeg.

Die maatskappy bly egter verbind tot ander Afrikaanse projekte, soos die Virseker-rugbybeker.

Hargrove sê Virseker het reeds einde 2018 sy borgskap onttrek. Hy sê daar is nie enige spesifieke redes daarvoor aan AIG gegee nie.

Virseker, wat ’n noue verhouding met die vakbond Solidariteit het, is ’n produk van Auto & General. Vanuit Auto & General is aan Beeld bevestig dat hulle reeds einde 2018 “weens bepaalde ongemaklikheid” begin onttrek het. Hoewel hul borggeld vir die 2018-konserte betaal is, is hul bemarkingsblootstelling reeds by die konserte weggevat.

“Dit is stil gehou en geen haan het daarna gekraai nie.”

Hoewel AfriForum, wat deel is van die Solidariteit Beweging, vroeër vanjaar groot gewag gemaak het van ander maatskappye se onttrekking – ook aan die Ghoema-musiekpryse – sê Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit: “Ons is gemaklik met hul besluit. Die Virseker-rugbybeker is ’n reusesukses en ons is opgewonde oor ’n groter fokus daarop. Die Virseker Trust gee ook nog meer geld aan Afrikaanse onderwys.”

Hofmeyr se naam word steeds as deelnemer geadverteer vir AIG se Somerfees in Mosselbaai op 28 Desember. Dit is op dieselfde aand as die konsert InAfrikaans deur Johan Vorster se mededingende Inhuis-titel in Hartenbos, in samewerking met AfriForum.

Hofmeyr het wel pas ook goeie nuus gekry. Hy is benoem in die BokRadio-toekennings vir Afrikaanse musiek as nasionale kunstenaar van die jaar en ook in Pretoria FM se Aitsa-toekennings vir video van die jaar vir “Die land” saam met Bok van Blerk, Ruhan, Bobby van Jaarsveld en Jay.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Aig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.