Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
AIG moet betaal, sê Samro

Die Suid-Afrikaanse musiekregte-organisasie (Samro) sê Afrikaans is Groot (AIG) gaan die tantième wat hy aan liedjieskrywers skuld, moet oorbetaal. Samro ondersoek waarom geen tantième sedert 2012, toe die konsertreeks begin het, oorbetaal is nie.

Theuns Jordaan Foto: Argief

Theuns Jordaan, sanger en liedjieskrywer, is een van die musikante wat nou aandring op die tantième vir liedjies wat vir die AIG-konserte gebruik is.

Trustrekening

Arnold Coleske

Arnold Coleske, mede-eienaar van Coleske Artists en AIG, sê die tantième word sedert 2013 in ’n trustrekening gehou.

Volgens hom het hy destyds met Samro ooreengekom om die geld in ’n trustrekening te hou totdat Samro bewys kon lewer dat ander konserte, feeste, promotors en kunstenaars ook hul tantième betaal.

“Hulle kon dit tot nou toe nie doen nie. Die helfte van die geld in die trustrekening kom in elk geval terug na Coleske Artists toe omdat Samro die skrywers wat ons verteenwoordig, ook geld skuld. Wat ons hiermee wil bereik, is om seker te maak dat die liedjieskrywers kry wat hulle toekom.

“Dit help nie Afrikaans is Groot gaan sit by die tafel en dan moet almal aan ons halwe stukkie brood smul nie, ons vra eerder almal moet na die tafel toe kom dat ons saam kan eet,” sê Coleske.

Coleske benadruk dat deursigtigheid baie belangrik is, juis weens ongerymdhede in die verlede by Samro.

“As ons aan die begin die geld aan Samro betaal het, sou dit nie by die skrywers uitgekom het nie.”

Dit help nie Afrikaans is Groot gaan sit by die tafel en dan moet almal aan ons halwe stukkie brood smul nie, ons vra eerder almal moet na die tafel toe kom dat ons saam kan eet.

‘AIG móét betaal’

Mark Rosin, Samro se uitvoerende hoof, het ’n ooreenkoms tussen Samro en AIG bevestig, maar meen Coleske interpreteer dit verkeerd.

“Sover my kennis strek was daar onderhandelings tussen Samro en AIG, maar ek kan nie dink dat Samro daartoe sou instem om eers bewyse te lewer voordat AIG die geld oorbetaal nie. Daar was beslis ’n ooreenkoms, maar meer in beginsel dat Samro sal ondersoek instel na ander instellings ook.”

Rosin het in Februarie as uitvoerende hoof begin en sê Coleske het amper dadelik met hom ’n afspraak oor die ooreenkoms gemaak.

“Maar ek is seker niemand met wie Arnold die ooreenkoms aangegaan het is nog hier nie (werk nog by Samro nie). Die feit van die saak is, ons is besig om te ondersoek waarom AIG nie hul geld aan Samro betaal het nie.

“Ons is ook besig om ander kunstenaars en feeste en selfs kunstenaars wat as hul eie promotors opgetree het hiervoor te ondersoek.

“Ons gaan nie die ondersoek na AIG prioritiseer net omdat dit in die media verskyn nie en AIG is nie die enigste sondaar nie.

“Ons weet dalk nie wanneer nie, maar AIG gaan moet betaal,” sê Rosin.

Ongerymdhede

Oor Coleske se bewerings van ongerymdhede het Rosin toegegee dat Samro in ’n stadium skrywers minder betaal het weens ’n onsuksesvolle sake-inisiatief in die Verenigde Arabiese Emirate, maar ontken dat betalings heeltemal gestop is.

Luidens ’n verklaring op Samro se webtuiste het die inisiatief, om ’n organisasie soortgelyk aan Samro in die VAE tot stand te bring, in 2014 plaasgevind. Dit het egter skipbreuk gely en Samro het sowat R47 miljoen verloor. Dit het ’n uitwerking gehad op die hoeveelheid tantième wat Samro aan lede kon uitbetaal.

’n Mens kan mos nie ophou belasting betaal omdat jy bang is die regering gebruik dit nie reg nie. Die wet is die wet.

Rosin sê hy is aangestel om seker te maak die organisasie verhaal meer geld en besnoei koste.

‘Elke bietjie sal help’

Volgens Coleske is daar sowat R2,5 miljoen in die trustrekening, maar Jordaan meen dit kan tot soveel as R5 miljoen wees.

“ ’n Mens kan mos nie ophou belasting betaal omdat jy bang is die regering gebruik dit nie reg nie. Die wet is die wet. Hy (Arnold Coleske) het geen reg gehad om namens die skrywers die besluit te neem nie,” sê Jordaan.

Jordaan sê hy sou graag wou sien dat liedjieskrywers al die tantième kry wat hulle toekom en nie net van AIG af nie, “maar begin ’n mens by die juffrou wat ’n fees in ’n afgeleë dorpie hou, of by die grootkop in die bedryf wat weet hy moet jou betaal?”

Anton Goosen Foto: Argief

Anton Goosen, ook bekend as die Liedjieboer, sê hy weet nie hoe AIG “dit wettig reggekry het (om tantième terug te hou) nie”.

Goosen se musiek is ook in die verlede al by AIG gebruik. Hy neem ook Samro kwalik vir die oponthoud met die oorbetalings van tantième.

“Dinge het die afgelope paar jaar baie agteruitgegaan daar. Dit is veral nou moeilik met die virus – die vermaaklikheidsbedryf is die laaste mense aan wie die regering dink en elke bietjie sal help.”

Krone betaal wel

Ernst Kleinhans, hoofbestuurder by Select Musiek wat elke jaar die Krone-konsert aanbied, verduidelik dat ’n geraamde 2% van die kaartjieverkope vir alle konserte aan Samro betaal word.

Die geld word dan aan die liedjieskrywers en komponiste betaal en gebeur elke maal as ’n liedjieskrywer se liedjie gebruik word.

Kleinhans sê hulle betaal elke jaar hul geld aan Samro. Hy sê van sy musiek is selfs op AIG opgevoer en dat hy nog nie die tantieme hiervoor gekry het nie.

Meer oor:  Arnold Coleske  |  Samro  |  Afrikaans Is Groot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.